|
Stellenbosch Lovesong is, Crescendo 2002 en Geraas Beste Nuweling 2003, Jak de Priester se vierde album, en met dié vier hy sy vyfde jaar in die musiekbedryf. Jak is ‘n talentvolle kunstenaar en met Stellenbosch Lovesong bewys hy weer hoe uitstekende liedjieskrywer en komponis hy werklik is. Hy het ‘n unieke styl en elegansie met ‘n ongelooflike gawe as dit kom by die wek van emosie en nostalgie.
Die eerste nommer “Helder Sonskyn Dag” is groot pret! Dit is ‘n lekker lewendige song met humoristiese lirieke en ‘n koddige inset van vermaaklikheidsster Nataniël, wat kla oor die verkeer en die feit dat hy so vroeg wakker moet wees. Die liedjie, op sy eie manier ontketen tog ‘n vorm van nostalgie, al skeur dit ‘n bietjie gek, want maak nie saak hoe sleg dinge gaan nie, ‘n lekker sonskyn dag in Suid Afrika is amper net so lekker soos die liedjie.
Jak de Priester demonstreer ook, met groot sukses, sy taalvaardighede met die insluiting van twee Engelse snitte op die album. Die eerste een is “Coffee in my Car”, wat Jak oorspronklik vir Breakfast with Kieno and the Angels, op Jacaranda 94.2 geskryf het. ‘n Rustige nommertjie, wat ‘n mens oortuig hy dink en sien nie die wêreld soos die meeste van ons nie. Hoeveel mense ken jy wat so rustig in die verkeer kan wees?
Die tweede Engelse liedjie is “Run”; geïnspireer deur ‘n leë woonstel in ‘n besige stad. “Run” is ‘n sterk song wat netjies tussen twee Afrikaanse liedjies ingewikkel is, maar nie vir ‘n oomblik uit plek uit klink nie.
Die titelsnit en duet met Luna, “Stellenbosch Lovesong” sal vir ewig in my geheue ingeëts wees as die R20 000-lovesong. Die rede: ‘n (baie groot) fan wat by een van Jak se optredes in Port Elizabeth was, het hom R20 000 gegee om die liedjie te sing. Jak sou nie die liedjie tydens die optrede gesing het nie en die bewonderaar het ‘n tjekkie van R20 000 in Jak se sak gesteek en vir hom gesê hy kan dit bank as hy “Stellenbosch Lovesong” sing. Die liedjie het klaarblyklik ‘n snaar of twee geraak.
“Ai Britney!” is ‘n stoute oogknip vir die wêreld op ‘n lewendige blues/jazz ritme en soos “’n Helder Sonskyn Dag” is dit tong-in-die-kies, oor dinge wat om ons gebeur, maar waarmee ons nie noodwendig saamstem nie.
Alhoewel die album hoofsaaklik fokus op liefde, staan die laaste liedjie, “Spoor”, uit bo al die ander as ‘n liefdesliedjie (behalwe nou vir die R20 000-lovesong, maar hoe kompeteer ‘n mens daarmee?) “Spoor” is weereens Jak, met eerlike emosionele lirieke wat mooi gerangskik is oor ‘n onvergeetlike melodie. Jak se naïewe en eerlike verhoogpersoonlikheid, kan gehoor word op die album en ek is amper seker die wêreld sou ‘n beter plek gewees het as die lewe, liefde en verkeer so pragtig is soos in die oë en liedjies van Jak de Priester. So, as dinge ‘n bietjie begin druk, speel gerus Jak se nuwe CD en miskien vind jy so die inspirasie om dinge anders aan te pak.
|