Daar is net een manier om Kurt Darren se nuutste CD te beskryf – eklekties. Min is dit dat ‘n mens Meksikaanse, Afrikaanse en Amerikaanse klanke op een CD kan kry. Hy dek ‘n hele paar ouer treffers van vroeër jare (soos She en Queen of Hearts), maar dit bly klassiek. En boonop doen hy dit met styl en goeie sang vermoë.
Ek noem hom egter nie ‘n meester van die kuns nie: Dit is bloot omdat hy homself soms aan kinderversie-liedjies verkoop wat in ‘n kleuterskool ‘n treffer kan raak. Maar moet nog nie tou opgooi met hierdie CD nie.
Ek sê dalk kinderversies, maar dit beteken nie almal kan nie daarna luister nie. Sommige van sy nuwe treffers hunker wel na die rympies van voorskool of die volksliedere van veertig jaar terug, maar hulle bly lekker om na te luister. Jy mag dalk die een wees wat dink: “Vanaand is ek nie lus vir kuier nie,” maar sodra een van Kurt Darren se nuwe treffers begin speel, sal jy jouself gou op die dansbaan kry met ‘n vreemdeling aan die arm wat net so lekker na Kurt kan luister.
Hy leen homself soms uit aan lirieke wat ongeïnspireerd en ooglopend is, maar kom ons aanvaar dit – dit is die beste liedjies om mee saam te sing. Die eerste groot treffer is ook die title van die CD: “Voorwaarts Mars”, en dit skop die CD af met ‘n lekker ritmiese danstreffer wat dalk nog ‘n nommer een in Afrikaanse musiek se treffersparades gaan oplewer.
Kurt bly ‘n man wat lekker luister liedjies skep, en met drie bonussnitte kan ‘n mens net nóg meer lekker luister (alhoewel die laaste treffer dalk effens bekend gaan klink). Sy duet met Sarah Theron bewys dat sy fortè waarlik by ballades lê – net soos Robbie Williams en David Gray waarna hy graag luister. Hy is dalk nie so bekend vir sy ballades nie, maar dalk het hy van die begin af die verkeerde bemarkingstrategie gevolg. Alle lof kan wel nie net aan Kurt gegee word nie. Met ‘n produksiespan wat Robin Kielly insluit, kan ‘n mens nie verkeerd gaan nie. Die CD klink heel professioneel en bereik selfs hoër hoogtes as vorige vrystellings. Hierdie CD bied egter internasionale kwaliteit en so ‘n verskeidenheid klank aan dat dit sal byval vind by vele kulture regoor die wêreld.
Alles in ag geneem, bied die CD genoeg verskeidenheid aan om nie net Kurt Darren bewonderaars gelukkig te hou nie. |