|
Ek, dalk soos baie ander mense daar buite, het die gevoel gekry dat Eden nie kon besluit of hulle ‘n Afrikaanse of Engelse boy band wil wees nie. Dis asof hulle te bang is om op een taal te fokus, dalk is hulle bang om aanhangers te verloor.
Maar, nadat ek met ‘n objektiewe oor na hul nuutste album, “Knieë Lam” geluister het, het ek eintlik besef dis nie nodig vir hulle om te kies tussen die twee tale nie – hulle is dan goed in albei!
Met agt van die veertien snitte op die album beïndruk die drie manne van Eden in Afrikaans. Hulle skop af met die lekker voetstampers, “Vra My” wat ook die eerste treffer van die CD af is en “Ai Ja Jaai” maar vat dinge bietjie rustiger met “Kwart Oor 5” wat menige aanhanger se hartsnare roer.
Die Engelse snitte op die album stel glad nie teleur nie, inteendeel - dit het my eintlik net meer beïndruk. “Into Me” het dadelik uitgestaan en is ook baie gepas as die laaste snit wat die album op ‘n goeie noot afsluit. Hul weergawe van die ou bekende “Hurt So Good” is goed en die moeite werd om na te luister. En vir almal wat so sukkel om New Romance se “You’re my first love (Head over Heels)” op CD te kry, hou maar op soek… Eden doen sommer hul eie weergawe van die golden oldie saam met Lianie May.
‘n Eerlike opinie: ek was skepties oor die album omdat ek nie regtig ‘n aanhanger was nie, maar ek moet my hoed vir die drie ouens en hul span afhaal en krediet gee waar dit toekom. Hulle kry dit reg om ‘n goeie balans tussen Afrikaanse en Engelse musiek te hou en behoort aanhangers meer as net tevrede te hou. Hou Eden dop, hulle gaan net groter en beter word.
|