|
Chris Chameleon bekoor ons al vir jare, eers as ‘n rocker/ruimtewese, toe as ‘n toonsetter van gedigte, ‘n ligte liedjieboer wat lewe blaas in die mooiste Afrikaanse liedjies en weereens verwissel hy van gedaante om ‘n splinternuwe Chameleon te openbaar.
Aan die begin van die jaar het die verkleurmannetjie gehore in die Aula Teater op die Tuks Kampus in Pretoria betower met die opname van Klassieke Chameleon. Die vertoning spog met klassieke verwerkings van sy eie liedjies asook Chameleon verwerkings van klassieke liedjies. Daar is sy vier oktawe vasgevang vir ‘n DVD en CD vrygestelling.
Op die maat van sy span musikante op tjello, viool, fluit, klavier, kitaar en perkussie velei die Chameleon jou met met swierige melodië en onvergeetlike weergawes van ou gunstelinge soos “Here Comes the Night”, “O Sole Mio”, “Sunrise Sunset” en selfs “Die Onse Vader”.
Soos net hy kan, lewer hy klassieke weergawes van sy eie liedjies, onder andere “Eerste Oogopslag” en “Laaste Baklei” vanaf die romantiese Ek Vir Jou, “Die Onverkrygbare” en “Bitterbessie Dagbreek” vanaf die platinum album Ek Herhaal Jou, en “OOAA” vanaf BOO! se album Pinapple Flavour.
Klassieke Chameleon is ‘n kleurvolle versameling van die veelsydige en uitsonderlike Chris Chameleon en behoort fans net ekstra rede te gee om die man met reg op te hemel. |