Mevrou wonder hoe lank die strate skoon en mooi gaan bly na G20

Mevrou wonder hoe lank die strate skoon en mooi gaan bly na G20

Mevrou besef die G20 beraad is amper hier, want die paaie in Gauteng is ewe skielik baie skoon, die slaggate word opgevul, meeste van die verkeersligte werk en metro polisie word oral gesien. 

Mevrou Mevrou S03 Episode 9
Jacaranda FM

Dit is nie aldag dat die provinsie so opgerei word nie, en dit is ook geen wonder nie, want van die grootste lande in die wêreld stuur hulle staatshoofde om in Johannesburg te kom beraadslaag.

Nou besef Gerda de Sousa en Dianne Broodryk te laat dat hierdie eintlik 'n gulde geleentheid sou wees om 'n internasionale spanbou in Gauteng te hou, om die wêreldleiers verder te beïndruk met alles wat ons kan aanbied - aangesien die provinsie nou spiekerig lyk. 

Luister na die episode hier:

Die Mevrouens erken dit was 'n paar dae van op die tande byt en hardop bid vir genade toe hulle vir ure lank in die Gauteng-verkeer vasgesit het, terwyl die polisie en verkeersowerhede hulle G20-oefensessies gehou het.

Om nie eers te praat van die bane wat toe is sodat die strepe en pyltjies weer oorgeverf kon word nie!

Maar nou sien hulle die lig, en besef eerder as om daarteen te skop, Mevrou dit nou haar taak moet maak om die beraad by haar lewe in te sluit.

Die G20 Leiersberaad word op 22 en 23 November by Nasrec gehou, maar voor dit is die verskeie lande se onderhandelingspanne reeds in die land.

Gerda is van mening dat die Mevrouens hulle mees formele uitrustings moet afstof en oefen om op hoë-hakskoene te loop sodat hulle reg sal wees vir enige uitnodigings van die ambassades af.

Die wêreldleiers gaan sekerlik 'n paar partytjies aanbied - die Mevrouens is veral lus vir kos van Frankryk, Japan en Italië.

Dianne het besluit dit is sommer nonsens dat Centurion so afgeskeep voel. 

Daar is baie plekke in Centurion waar hoëprofiel internasionale gaste hulle skoene kan uittrek en van wêreldpolitiek kan vergeet.

Sy dink byvoorbeeld aan 'n groot park waar almal lekker kan braai, en wie wil nou nie op Centurion se bekende partytjie treintjie rondry nie?

Mevrou besef te laat hierdie moet eintlik die Gee-20 "geldmaak"-beraad wees, want dink net aan al die ekstra maniere om dit te gebruik as 'n ekstra inkomste!

Jy kan ook gaan kyk na hierdie week se hele episode:

Mevrou Mevrou is ‘n oorspronklike Afrikaanse podgooi deur Jacaranda FM waarin twee “gesoute” radio kollegas, Gerda de Sousa en Dianne Broodryk, hulle lewens agtermekaar kry met ‘n lekker ou stoep kekkel.

Gerda en Dianne het al dekades saam agter die rug – as joernaliste, by Jacaranda FM, vriendinne wat als van mekaar weet, twee ma’s wat moet help raad gee as die ander nie meer antwoorde het nie en, natuurlik, Mevrouens. 

Mevrou Mevrou S3 Banner
Jacaranda FM

In hierdie eksklusiewe podgooi reeks vir JacPod, tel Gerda en Dianne nie hulle woorde nie.

Hulle mag dalk op ‘n afstand lyk soos twee normale Mevrouens, maar op hulle weeklikse skinkbord gaan jy nie gewone tee en toebroodjies kry nie.

Luister na die vorige episodes:

MORE AT JACARANDA FM


Show's Stories