Emosionele onderhoud met Hanna Grobler: 'Jesus het langs my bed gesit'

Emosionele onderhoud met Hanna Grobler: 'Jesus het langs my bed gesit'

Aktrise Hanna Grobler praat openlik oor haar kinderjare, miskrame en haar liefdadigheidsorganisasie wat mense regoor Suid-Afrika help.

Hanna Grobler
Verskaf/ kykNET

In die derde en finale episode van die kort nuwe seisoen van 'Net Mens', het kykers Hanna Grobler beter leer ken. Hanna, wat met die gewilde sanger-liedjieskrywer Bok van Blerk getroud is, is nie net bekend as aktrise en veral vir haar rol in 'Getroud Met Rugby' nie – sy is ook 'n baie talentvolle kunstenaar en het haar eie liefdadigheidsorganisasie wat 'n verskil in vele mense se lewens maak. 

LEES: Trane rol tydens Corlea se emosionele volkslied-optrede

As pastoriekind, die derde van haar ouers Nic en Marietjie Grobler se kinders, het sy van kleintyd haar hart vir ander oopgemaak. Maar Hanna was 'n skaam kind wat nie net spraakterapie moes kry nie, maar ook geweldig bang was vir hoogtes. Haar suster, Welmarie Janse van Rensburg, is een van die gaste op die program en onthou Hanna as 'n sensitiewe kind. 

"Sy het van kleintyd die lewe intens ervaar," sê Welmarie. 

Hanna se kunstalent is reeds op laerskool ontdek, en sy is na Pro Arte, 'n hoërskool in Pretoria wat op die kunste fokus, waar sy behoorlik geblom het. Ná skool het sy 'n beurs gekry om skone kunste aan die Universiteit Stellenbosch te studeer, maar haar pa het haar aangeraai om drama te swot. 

LEES: Karlien van Jaarsveld se reis deur rebellie, liefde, verlies en geloof

Deur haar hoërskooljare en ook op universiteit het haar hart vir liefdadigheid nooit gekwyn nie. Op universiteit was sy selfs op die rooi tapyt toe sy ’n dogtertjie van Cloetesville in Stellenbosch wat weggeloop het van die huis, saam met haar koshuis toe geneem het. 

Die gaste op die program, benewens Marietjie en Welmarie, is haar jarelange vriendin Natasha Joubert en haar skoonsuster Andrea Vermeulen – Louis Pepler, beter bekend as Bok van Blerk, se suster. 

"Sy [Hanna] is een van die mense wat ek ken, wat dinge altyd lekker maak. My ma het gebid vir 'n sexy vrou wat lief is vir die Here vir haar seun, en dit is Hanna,' sê Andrea en lag. 

LEES: Appel: Ek het nie 'n demografie nie, my demografie is musiek

Hanna se liefdadigheid het so gegroei dat sy haar eie organisasie, Hanna Charity and Empowerment Foundation, begin het. 

"Ek werk daar waar mense heeltemal hoop verloor het. Daar waar dit gevaarlik is. Daar waar dit lelik is. Daar waar dit rof gaan," sê sy. Die organisasie se klein begin het gegroei tot dertien takke landwyd en help nie net kinders met ondersteuning nie, maar bemagtig ook volwasse vroue én mans. 

Sy en Bok is stil-stil in 2014 getroud. Hanna sê sy het altyd geweet sy wil trou en kinders kry, maar hul eerste seuntjie, ook Louis, is in Mei 2015 stilgebore. Sy praat openlik oor hierdie traumatiese ervaring en die feit dat hulle die geboortesertifikaat saam met die doodsertifikaat gekry het. 

Sy het geworstel met God en gevra hoekom hy haar kind gevat het. Die antwoord wat sy gekry het, was dat daar soveel swaarkry in die wêreld is dat vreugde, vrede en omgee soms verlore gaan. 

Hanna Grobler Net Mens
Verskaf/ kykNET

"Toe het Hy my gewys Louis'tjie is in die hemel om Hom te laat lag; om weer vir Hom joy te bring," sê Hanna. 

Sy het daarna 'n vroeë miskraam gehad, en toe sy vir 'n derde keer swanger raak, was sy, nodeloos om te sê, angstig. Maar sy het 'n profesie van God gehad, en hy het duidelik vir haar drie woorde gegee: Samuel, Samuel, Samuel. Klein Samuel is in Desember 2016 gebore en daarna het twee dogtertjies, Yamila, in Mei 2018, en Papillon, in Oktober 2021, gevolg. 

LEES: Steven Kitshoff maak hart oop oor sy skok-uittrede

Dit was met Papillon se geboorte waar Hanna self in lewensgevaar was, aangesien haar plasenta aan haar baarmoeder geheg het. Ná die operasie om haar lewe te red en waarin sy geweldig baie bloed verloor het, was haar eerste woorde: "Jesus het langs my bed gesit."

Sy sê sy het 'n gekompliseerde pad gestap en dat sy aanhoudend antwoorde soek. "Tot op die punt waar die Here vir my gesê het: Al wat jy hoef te weet, is Ek is daar, en Ek is in beheer."

Die volledige episode is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. 

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Show's Stories