Innibos: Fees in oortreffende trap

Innibos: Fees in oortreffende trap

Duisende feesgangers het Woensdagaand op die Innibos feesterrein in Mbomblea toegesak vir die afskop van die populêre fees.

Innibos

Kunstenaars soos Bobby van Jaarsveld, Bok van Blerk, Andriette Norman, Jay du Plessis, Pieter Koen en Joshua Na Die Reën het die skare bekoor met treffer na treffer.


Volgens die Innibosfees se Sandra Jacobs het hulle vanjaar ‘n stappie verder gegaan en is die fees groter, en beter.


“Ons hou vanjaar fees in oortreffende trap en ons tema is Goed, Beter, Innibos,” het sy aan MornéJK vertel.

Volgens Bobby van Jaarsveld is Innibos een van sy gunsteling feeste, nie net omdat die weer lekker is nie, maar oor die mense.


“Ek sal môre Laeveld toe trek. Ek is mal oor die weer. Nie net is dit altyd warm nie, maar die mense is warm hier,” sê Bobby.


Bok van Blerk meen die fees is een van die bestes in die land omdat organiseerders na die kunstenaars omsien.

“Dit is partykeer awkward as jy by ‘n fees aankom maar Innibos se organiseerders laat mens altyd welkom voel en dit is ‘n plesier om hier op te tree. Mense vergeet somtyds dat ons – kunstenaars – werk terwyl lede van die publiek fees hou,” sê Bok.


Mbombela is behoorlik tot stilstand geruk met kunstenaars, akteurs en feesgangers wat tyd maak om deur die hekke te stroom.


Saterdagaand is die groot aand wanneer meer as 16 kunstenaars, waaronder Amanda Strydom, Riana Nel, Jo Black, Adam, Liezel Pieters, Kurt Darren en Juanita du Plessis, die gehoor sal vermaak.


Show's Stories