Rian van Heerden skryf 'n boek

Rian van Heerden skryf 'n boek

Jacaranda FM aanbieder, Rian van Heerden het gister laat glip dat hy besig is om 'n boek te skryf. 

Rian-van-Heerden@3x.png

Van Heerden, wat vroer die week aangekondig het dat hy Jacaranda FM volgende jaar verlaat, sê die boek gaan handel oor die elf goed wat hy liewer nie moes sê nie.


Volgens 'n verklaring sal die omstrede radio- en TV-persoonlikheid vir die eerste keer oopmaak oor sy mees opspraakwekkende oomblikke in 'n onthullende boek wat in Oktober 2017 by Tafelberg, 'n druknaam van NB-Uitgewers, gaan verskyn.


Verklaring:


Suid-Afrikaners het hom grotendeels leer ken as televisieaanbieder op KykNET, maar sy kontroversiële stem is lank reeds te hoor op die radio. Sedert 2011 bied hy die gewilde ontbytprogram Complimentary Breakfast op Jacaranda FM aan, 'n taak waarvoor hy in 2014 'n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen het as Radiopersoonlikheid van die Jaar. 


Rian se aankondiging dat hy in Maart 2017 sal uittree uit die radiobedryf het hewige reaksie ontlok. Hy het egter belowe dat sy laaste paar maande op die lug beslis iets sal wees om dop te hou, aangesien hy sy bes gaan probeer om al die items op sy radio- kluitklaplys af te handel.


Rian se boek sal fokus op dit waarvoor hy die bekendste is - sy omstrede uitsprake en debatte wat mense oor die jare dikwels warm onder die kraag gehad het.


LEES OOK: Rian van Heerden: "This is my last year at Jacaranda FM"


In antwoord op die vraag, "Waarom skryf jy 'n boek?", sê Rian: "Ek het altyd gedink dat ek nie genoeg het om te sê vir 'n boek nie, maar nou het ek. Ek het baie wat ek nou uiteindelik oor wil praat, eintlik genoeg vir 2 boeke." 


Waarom nou? "Ek kom agter dat ek na jare van hard kuier sekere dinge begin vergeet hier in my veertigs. Ek wil die groot en kontroversiële dinge wat in my lewe gebeur het neerpen op papier terwyl ek nog helder is daaroor. Veral sodat my peetkind, Jace, eendag sy oom beter sal kan verstaan."


Maryna Lamprecht, Rian se uitgewer, sê Tafelberg sien uit om saam met Rian 'n eiesoortige boek uit te gee wat mense beslis aan die praat gaan hê. "Almal wat Rian ken weet hy is nie bang om sy sê te sê nie. Rian hou daarvan om mense se idees en persepsies oor alles van die huwelik tot geloof en seksualitiet uit te daag. Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir 'n boek wat hulle gaan laat regop sit, 'n boek wat grense gaan verskuif."


Die boek sal slegs in Afrikaans beskikbaar wees.

Show's Stories