NWU-studente "gatvol" vir slaggate in Potch

NWU-studente "gatvol" vir slaggate in Potch

NWU-studente in Potchefstroom het ’n interessante manier gevind om ’n oplossing vir hul petisie te kry.

AFRIFORUM JEUG NWU-studente gatvol vir slaggate
AfriForum Jeug

Die studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom sê hulle het genoeg gehad van die slaggate in die studentedorp.

AfriForum Jeug se PUK-tak het ’n nuwe “Gatvol-veldtog” geloods om geraas te maak oor die slaggate rondom die kampus.

As deel van die aksie is ’n dringende brief aan die munisipale bestuurder van die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit, Kgomotso Kumbe, gestuur.

Die brief versoek dat tien spesifieke hoërisiko-slaggate in die dorp binne die volgende 30 dae reggemaak word.

Om die munisipaliteit se aandag te trek, het studente op 16 April ’n protes gehou.

Studente het in van die grootste gate gaan staan en die woord “Gatvol” op hul agterstewe uitgespel.

AFRIFORUM JEUG SLAGGATE GATVOL
AfriForum Jeug

Daar is ook waarskuwingsborde by die gate opgerig met boodskappe soos “Welkom in Potholestroom” en “Duiklesse hier: Hier duik meer as net bande.”

Die volgende tien punte is geïdentifiseer:

  • Hoffmanstraat 72
  • Rissikstraat 56 en 54
  • Molenstraat 59A (hoek van Molen- en Meyerstraat)
  • Molenstraat 41
  • Meyerstraat 47 en 44
  • Chief Albert Luthuli-rylaan 25
  • Steve Bikostraat 139
  • Esselenstraat 25

"Ons weier om hierdie nuwe ‘normaal’ te aanvaar. Slaggate is nie deel van ’n alledaagse avontuur of verskynsel nie. Dit is ’n teken van verwaarlosing en ’n gebrek aan aanspreeklikheid. Wat ons sien, is nie bloot swak infrastruktuur nie, maar die sistemiese ineenstorting van dienslewering wat nie langer geïgnoreer kan word nie," sê Janké Crots, voorsitter en woordvoerder van die AfriForum Jeug se PUK-tak.

"Die munisipaliteit het ’n kritieke verantwoordelikheid om openbare infrastruktuur te onderhou en die veiligheid en funksionaliteit daarvan te verseker. Dit is ’n verantwoordelikheid wat kragtens die Grondwet op munisipaliteite geplaas word. Daarom is die versuim om paaie behoorlik in stand te hou, ’n blatante skending van die Grondwet wat ernstige regsimplikasies inhou," sê sy.

Die veldtog moedig studente, ouers en inwoners aan om ’n petisie te teken om druk op die stadsraad te plaas.

Hulle eis drie dinge van die munisipaliteit:

  1. Maak die geïdentifiseerde gate onmiddellik reg.
  2. Stel ’n deursigtige plan op vir langtermyn-padinstandhouding.
  3. Gee gereeld vir die publiek terugvoer oor vordering.

"Veilige paaie is nie ’n luukse nie – dit is ’n basiese reg. Ons sal nie langer toekyk hoe ons infrastruktuur verval en mense in gevaar gestel word nie. Ons kies om op te staan, om te praat en om aksie te neem."

Tune in to the 'Breakfast with Martin Bester', weekdays from 06:00 - 09:00. Stream the show live here or download our mobile app here.

Listen to Jacaranda FM: 

Follow us on social media:

Images: AfriForum/ Jeug

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories