SAUK skuif Afrikaanse nuus na oorspronklike kanaal en tyd

SAUK skuif Afrikaanse nuus na oorspronklike kanaal en tyd

Die SAUK se Afrikaanse nuus is terug in die oorspronklike tydgleuf, en daar is selfs ’n nuwe Afrikaanse telenovela op dié kanaal.

SABC_NEWS_AFRIKAANS_BULLETIN
SABC

Na twee jaar se ontstuimigheid is die SAUK se Afrikaanse nuus na sy oorspronklike kanaal en tyd (SABC2 om 18:30) teruggeskuif. Daar gaan glo ook meer Afrikaanse programme uitgesaai word.

AfriForum het dié aankondiging deur die SAUK verwelkom, maar sê daar is steeds ernstige vrae oor aanspreeklikheid vir die skade wat intussen aangerig is.

Die Afrikaanse TV-nuus sal weer sewe dae per week op SABC2 om 18:30 uitgesaai sal word en daar is ook die belofte van meer Afrikaanse inhoud

LEES: 'Dit was só romanties' - Amor Vittone praat oor haar verlowing

AfriForum hou vol dat dit noodsaaklik is dat daar duidelikheid kom oor wie verantwoordelik gehou gaan word vir die ontwrigting wat veroorsaak is deur die herhaaldelike verskuiwing van die nuusbulletin, asook hoekom sekere Afrikaanse programme tot ’n einde gekom het.

Volgens AfriForum is daar sedert 2024 deur die SAUK se voorsitter, uitvoerende hoof en bestuur toegelaat dat die Afrikaanse nuus tussen kanale en tydgleuwe rondgeskuif word. In sommige gevalle is uitsendings sonder waarskuwing uitgelaat of vir sportuitsendings geskuif. Intussen is gewilde Afrikaanse programme ook verwyder.

AfriForum het herhaaldelik gewaarsku dat dié besluite 'n negatiewe uitwerking op kykersgetalle en advertensie-inkomste sou hê, maar dié waarskuwings is volgens die organisasie geïgnoreer.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, sê die terugkeer van die nuus na SABC2 en die 18:30-tydgleuf, asook die bekendstelling van 'n nuwe Afrikaanse telenovela, bevestig dat die organisasie se bekommernisse geregverdig was.

"Ongelukkig het baie kykers nou reeds gewoond geraak daaraan om hul nuus en vermaak elders te vind, en adverteerders het hulle gevolg. Hulle gaan nie sonder meer na SABC2 terugkeer nie, ten spyte van duur bemarkingsoefeninge. Die uitfasering van Afrikaanse programme het boonop ’n negatiewe impak op baie mense in die bedryf se loopbane gehad en tot ’n uittog van talent aanleiding gegee."

Bailey bevraagteken dit sterk dat die besluite van die afgelope twee jaar sonder deeglike marknavorsing geneem kon gewees het.

KYK: Zaan Sonnekus begin 2026 met nuwe musiek en 'n Friday Live-optrede

"Die nuus- en vermaaklikheidsbedryf is tans meer kompeterend as ooit tevore, en enige bevoegde bestuurspan sal geen ingrypende besluite neem sonder omvattende navorsing nie. Hulle sal hulle beslis ook nie deur ideologie eerder as deur gesonde bestuurspraktyke laat lei nie. In die privaatsektor sal die aanspreeklikes wat foute van dié aard maak, verantwoordbaar gehou word. In die openbare sektor, waar met belastingbetalers se geld gewerk word, behoort selfs ’n hoër vlak van aanspreeklikheid te geld, maar ons sien geen tekens hiervan nie."

In 2025 het AfriForum ’n formele PAIA-versoek aan die SAUK gerig om inligting te bekom oor hoe die veranderings kykersgetalle en advertensie-inkomste beïnvloed het. Hoewel daar steeds op ’n antwoord gewag word, meen die organisasie dit is waarskynlik dat die statistiek beduidend moes wees om so ’n beleidsommekeer te regverdig.

"Die Afrikaanssprekende publiek is oor die algemeen kapitaalkragtig en lojaal, maar nie onbeperk so nie," sê Bailey. 

"Hulle is die mees diverse taalgemeenskap in die land, en volgens Statista se verslag van 26 Januarie 2026 is Afrikaans die huistaal van 12,2% van Suid-Afrika se inwoners. Dit is die derde grootste taalgroep ná Zulu (25,3%) en Xhosa (14,8%). Die openbare uitsaaier het ’n plig om veel meer diens aan hierdie gemeenskap te lewer as wat selfs nou die geval gaan wees."

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

FOTO: SAUK

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories