Geliefde aanbieder Johnny Davids sterf

Geliefde aanbieder Johnny Davids sterf

VIA het die nuus gedeel dat die veldaanbieder van 'Landbouweekliks' vroeg Donderdagoggend, 16 April, oorlede is.

Geliefde aanbieder Johnny Davids sterf
VIA

Suid-Afrikaners het vanoggend met die hartseer nuus wakkergeword dat een van die land se gunsteling vermaaklikheidsterre, Johnny Davids, op die ouderdom van 48 skielik oorlede is.

Davids was een van die aanbieders vir die VIA-program 'Landbouweekliks' en die kanaal het in 'n persverklaring die hartseer nuus gedeel.

VIA persverklaring:

VIA (DStv-kanaal 147) is hartseer om van die skielike afsterwe van Johnny Davids, een van die veldaanbieders van die kanaal se geliefde landbouprogram 'Landbouweekliks', vroeg vanoggend te verneem. Hy was 48 jaar oud.

Davids het in 2024 by die 'Landbouweekliks'-span en die groter VIA-familie aangesluit, waar hy met sy warmte, professionaliteit en passie 'n geliefde lid van die span geword het.

Die televisie- en sportaanbieder het 'n merkwaardige loopbaan gehad wat hom van Walvisbaai en die Kaapse Vlakte na SA se televisieskerms geneem het. 

Hy was onder andere 'n gerespekteerde SuperSport-kommentator en het onlangs sy outobiografiese boek, 'Boytjie', uitgegee – 'n eerlike vertelling van sy reis van 'n moeilike kindertyd na sukses en genesing. Hy het ook ’n suksesvolle musiekloopbaan gehad.

"Johnny was 'n uitsonderlike mens met 'n besondere verhaal van oorwinning en hoop," sê Azelia Morkel, kanaalhoof van VIA.

"Sy passie vir mense en sy vermoë om met boere én kykers te konnekteer, het hom 'n welkom gesig op die kanaal gemaak. Ons gedagtes en gebede is by sy vrou Liezel, sy drie seuns en uitgebreide familie gedurende hierdie moeilike tyd."

Davids was ook 'n motiveringsspreker wat sy lewenservaring gebruik het om ander te inspireer en hoop te gee. 

Die afsterwe het baie skielik plaasgevind. Sy familie sal mettertyd verdere besonderhede vrystel. 

Die Media24-familie (VIA en Landbouweekblad) en die vervaardigers van Landbouweekliks Brand Republic sal Johnny se bydrae tot die kanaal en sy warm, meevoelende benadering tot sy werk koester. Hy sal gemis word.

Skakel in vir 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 - 19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Luister na Jacaranda FM: 

Volg ons op sosiale media: 

Foto: VIA

More on Jacaranda FM


Show's Stories