Akteurs Neels van Jaarsveld en Frank Rautenbach deel meer oor nuwe dramareeks
Updated | By Jacaranda FM/kykNET
kykNET se nuutste dramareeks plaas die kollig op op moderne vaderskap en die rol van mans in die gesin.
Hoekom word pa’s aan ’n ander standaard as ma’s gemeet?
Dít was die vraag wat die idee geplant het vir die nuwe dramareeks, 'Beter as Gister', wat 30 Junie op kykNET (DStv-kanaal 144) begin het.
Corné en René van Rooyen, bekend as skrywers en regisseurs van reekse soos 'Alles Malan' en 'Summertide', is vir dié nuwe reeks van dertien episodes verantwoordelik.
“Dit het alles begin met die geboorte van ons dogtertjie, Hannah, gedurende Covid. Soos baie pa’s in daardie tyd was ek vir amper ’n jaar op kraamverlof by die huis,” vertel Corné. “In daardie tyd het ek begin verstaan wat dit regtig beteken om ’n eenhonderd persent teenwoordige pa te wees, maar ook hoe anders die wêreld na ’n teenwoordige pa kyk as na ’n teenwoordige ma.
“Ek ruil haar doek om en kry amper ’n staande ovasie. Ek stap met haar rond om haar aan die slaap te kry en mense sê: ‘Sjoe, jy is darem ’n goeie pa’. Maar wanneer ’n vrou presies dieselfde doen, is sy nie ’n held nie. Sy is net ’n ma.
“Dit het my laat besef hoe laag die standaard vir mans is om as goeie pa’s gesien te word en hoe ongelooflik hoog die standaard vir vroue is om as goeie ma’s erken te word. In die publiek se oë is dit maklik om ’n goeie pa te wees: Doen net die basiese dinge, en almal klap hande. Maar vir my het dit verkeerd gevoel. Want om ’n goeie pa te wees, vra baie meer as dit.”
'Beter as Gister' draai om vier families en fokus veral op die mans se rol in elke gesin:
- Marco Fouché (Neels van Jaarsveld) is ’n toegewyde tuisbly-pa wat al vir 10-jaar die huishouding bestuur terwyl sy vrou, Cecile (Rolanda Marais), haar ambisie gevolg en uiteindelik burgemeester van Kaapstad geword het.
- Bernard Kruger (Frank Rautenbach) is ’n meedoënlose sakeman wat alles sal doen om sukses te behaal. Hy is getroud met Karen (Hanna Grobler), ’n saggeaarde onderwyseres, en hulle het twee kinders.
- Eben Strauss (Edwin van der Walt) is ’n liefdevolle enkelpa en skrywer.
- Tariq Cupido (Elton Landrew) is ’n nors, 62-jarige voormalige polisie-offisier en wewenaar.
Elke pa het sy eie struikelblokke, probleme en verantwoordelikhede wat hy moet aanpak, maar is die vier pa's se lewens werklik so verskillend soos wat dit lyk?
“Die reeks is gebou op daardie gevoel wat ’n ouer kry wanneer hulle hul kind in die bed gesit het en kyk hoe rustig hulle slaap,” sê Corné. “Moontlik was dit ’n lang dag vol emosie, uitbarstings, skuldgevoelens en ongeduld, maar dan kyk jy na hulle en dink: Môre gaan ek beter wees. In daardie stil oomblik langs die bed, kom daar liefde, hoop en ’n nuwe voorneme. Dít is eintlik die hart van die reeks.”
Ook in die rolverdeling is:
- June van Merch
- Mila Guy
- Daneel van der Walt
- Charlene Brouwer
- André Weideman
- Melanie du Bois
- Danny Ross.
'Beter as Gister' is vanaf 30 Junie elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Skakel in vir 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 - 19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.
Luister na Jacaranda FM:
- 94.2
- Jacaranda FM App
- http://jacarandafm.com
- DStv 858/ OpenView 602
Volg ons op sosiale media:
Foto: Jacaranda FM/Verskaf
Meer Op Jacaranda FM
Show's Stories
-
Céline Dion makes smooth recovery after taking a stumble on stage
It's going to take more than a little stumble to keep the iconic sing…
Breakfast with Martin Bester 1 day, 18 hours ago -
Win R25,000 with Hi-Lo on The Drive with Rob and Roz
Play along on The Drive with Rob & Roz from 16:00-19:00 and you can st…
The Drive with Rob & Roz 2 days, 8 hours ago