Lindie Stander terug in 'Binnelanders'

Lindie Stander terug in 'Binnelanders'

Lindie Stander maak vanaf Woensdag, 11 November, weer haar verskyning in gewilde kykNET-sepie 'Binnelanders' – en sy gaan sorg vir groot drama as die immergewilde en geliefde karakter, Elise Kruger. 

Lindie Stander 'Binnelanders'
Lindie Stander terug in 'Binnelanders' / Verskaf.

Lindie Stander, wat laas in 2012 in 'Binnelanders' in die rol te siene was, sê kykers kan hulleself gereed maak om die Elise van ouds weer te beleef. 

LEES OOK: "Dit is altyd lekker om terug te wees" - Nadia Valvekens gesels oor haar terugkeer na 'Binnelanders'

“Al wat die afgelope agt jaar verander het, is Elise se beroep. Sy is nie meer ‘n verpleegster nie,” vertel Stander. Sedert Elise haar pa gaan versorg het en sonder enige waarskuwing haar bedanking oornag ingedien het by Binneland Kliniek in Pretoria, het sy vir haarself ‘n loopbaan as mediese verteenwoordiger gaan uitkerf. Dit is juis met hierdie hoed op wat sy Woensdagaand as't ware letterlik en figuurlik met die deur in die huis val.

Maar Elise staan nie terug vir ‘n uitdaging nie – net soos Stander, wat deesdae Langebaan haar tuiste noem. 

“Dis vir my heerlik om terug te wees in die bekende ruimte waar ek geheel en al tuis voel. Hoewel daar baie water in die see geloop het, is die karakter van Elise soos ‘n gemaklike jas wat ek weer aantrek. Elise lê my na aan die hart en om haar weer te kan vertolk is ‘n voorreg wat ek met ope arms verwelkom – hoewel beide van ons ‘n pad moes stap om by hierdie punt uit te kom.”

Elise is terug!

Posted by Binnelanders on Sunday, 8 November 2020

Kry jou lagspiere gereed, want die karakter Elise is vanaf Woensdag, 11 November 2020 in 'Binnelanders '– elke weeksaand om 19:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv). 

Show's Stories