KKNK bied unieke aanlyn musiekreeks aan met Emo, Karen, Elandré en kie

KKNK bied unieke aanlyn musiekreeks aan met Emo, Karen, Elandré en kie

Hierdie aanlyn reeks bevat optredes deur van ons land se voorste musikante en vermaaksterre, soos hulle nog nie sedert die nasionale inperking gesien is nie.

kknk elandre
Elandré / Foto: Jacqui van Staden. Grafika: Marilie Loubser.

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Mothership Studios bied vanaf Donderdag 30 Julie tot Donderdag 24 September ’n eksklusiewe musiekreeks aan wat musiekliefhebbers in die gemak en veiligheid van hulle huise kan geniet. 

LEES OOK: Karen Zoid en Elandré steel harte met spesiale weergawe van 'Vuur Op Die Water'

Die Mothership Sessions-optredes is in Karen Zoid se studio opgeneem en verskeie musiekgenres – van rock tot country, is ingesluit, gehalte-vermaak vir die hele gesin kan verwag word.

 “Niks sal ’n lewendige konsert in ’n stadion, ’n arena, of in ’n teater kan vervang nie, maar inperking het ons almal forseer om anders na dinge te kyk. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, dis net anders. Daar sal heel waarskynlik nie weer in die nabye toekoms enige live shows aangebied kan word nie, maar dit verhoed ons nie om steeds musiek vir ons mense te maak nie. Ontvlugting is noodsaaklik vir oorlewing en ek en my musiek-kollegas wil hê mense moet hulle skoene uitskop en vergeet van die pandemie wat ons gedagtes oorheers”, verduidelik Zoid.

Elandré skop die eerste Mothership Sessions-musiekreeks op Donderdag 30 Julie af. Dié boorling van Despatch in die Oos-Kaap het Suid Afrika se harte gesteel met sy debuutalbum Kleindorp-Dromer en sy kenmerkende diep stem. Met ’n vyfstuk-orkes gaan hy skerms aan die brand sing.

KKNK MOTHERSHIP SESSIES

KKNK Mothership Sessies is 'n unieke konsertreeks wat elke week vanaf 30 Julie aanlyn beskikbaar sal wees! Dis uistaande naweekvermaak vir 9 weke met van ons land se top kunstenaars, met musiek vir elkeen se smaak. Vir meer inligting besoek https://www.kknk.co.za/kknk-mothership-sessions/ en bespreek nou jou kaartjies vir die voorste ry!

Posted by KKNK on Sunday, 26 July 2020

Ander musiekkonserte in hierdie reeks sluit in Emo Adams Unplugged op Donderdag 6 Augustus. Dit is ’n uitsonderlike ervaring met Adams en ’n vierstuk-orkes, waaronder klavier, saksofoon en kitaar. Sy pa, Omar, sluit ook by hom aan vir 'n liedjie of twee.

Besonderse optredes deur Karen Zoid, Watershed, Jan Blohm, Elvis Blue, Anna Davel,  Roan Ash, Eet Kreef!  kan ook verwag word.

Optredes sal elke Donderdagaand aanlyn uitgesaai word en tot daardie Sondag beskikbaar wees om te kyk. Musiekliefhebbers van regoor die wêreld kan inskakel vir die Mothership Sessions-reeks en elke konsert in hoë-definisie geniet. Kaartjies kos slegs R150 per konsert - vir die hele gesin om saam te geniet - en is beskikbaar op www.webtickets.co.za, vanwaar die optredes ook gekyk kan word op ’n baie gebruikersvriendelike platform.

Musiekliefhebbers kan ook met die aankoop van kaartjies ’n donasie aan die Tribuo-fonds maak. Dié hulpfonds is gestig om betrokkenes in die uitvoerende kunste tydens die Covid-19-pandemie te ondersteun. 

Show's Stories