Denise Newman ook verbaas oor huidige storielyn
Updated | By Jacaranda FM
Een van die sepiewêreld se grootste vetes is ná jare se rugstekery, agterbaksheid, skelmstreke en selfs moordpogings verby.

In die kykNET-sepie 'Suidooster' het Denise Newman se karakter, 'Bridgette Jacobs', uiteindelik die strydbyl met die booswig 'Nazeem Jacobs', haar halfbroer, begrawe.
'Nazeem', gespeel deur Irvine van der Merwe, het onlangs vir 'Bridgette', wat 'n lewerkwaal ontwikkel het, 'n deel van sy lewer geskenk in ruil vir aandele in haar sakeryk. Om seker te maak dat hy ’n geskikte kandidaat vir die skenking is, het hy 'n hospitaalsuster omgekoop om sy bloeddrukuitslae te dokter. Dit het egter amper sy lewe gekos, want hy het 'n beroerte tydens die operasie gehad.
LEES: Ikoon Soli Philander praat oor daardie bekende TV-gesegde
'Bridgette' is genoop om na 'Nazeem', wat nou aan 'n rystoel gekluister is, in haar huis om te sien, en daar het sedertdien 'n band tussen hulle begin ontwikkel.
In Maandag (23 Junie) se episode het 'n woordewisseling tussen die sibbe uitgebreek en het 'Bridgette' in 'n oomblik van woede vir 'Nazeem' probeer verwurg. Sy het egter tot haar sinne gekom, en in die daaropvolgende episode het sy en 'Nazeem' 'n emosionele gesprek gehad en vrede gemaak.
Denise Newman vertel meer oor dié onverwagte kinkel.
1. 'Bridgette' en 'Nazeem' se vete duur al jare. Was dit vir jou verrassend toe die skrywers besluit het dat suster en broer gaan vrede maak?
"Dit was nogal verbasend vir my, maar hy het my lewe gered met sy lewer. Hulle moes wys Bridgette het darem 'n bietjie van 'n hart. Ek dink dis hoekom hulle ons bymekaar gebring het.
"Dit sou baie lelik gewees het as Bridgette nie dankbaar was teenoor haar broer wat haar lewe gered het nie. En ja, ek is bly dit het gebeur, want dit gee vir die karakters ’n kans om mekaar beter te leer ken en ook te verstaan wat die wortel van die kwaad tussen hulle was.
"Die versoeningspad is egter vol duwweltjies, want Bridgette en Nazeem het mekaar oor die jare talle kere vernietig, en die vraag is of hulle oop kaarte met mekaar oor hul onderskeie pogings gaan speel. Om skoon te begin beteken ook jy moet eerlik wees oor alles wat gebeur het, en dit mag pynlik wees. Die grootste uitdaging is natuurlik hoe Bridgette se protégé, Zoë (Lauren Joseph), wat vir haar soos 'n dogter is, die nuwe status quo gaan hanteer. Ek kan wel verklap dat as dit van Zoë afhang, sal die vrede tussen Bridgette en Nazeem van korte duur wees."
2. Wat was vir jou nog die lekkerste storielyn, afgesien van die huidige een, tussen 'Bridgette' en 'Nazeem'?
"Ek geniet nogal elke storielyn wat kom, maar die een wat baie lekker was, was toe Bridgette van Nazeem se bestaan uitgevind het en dat hy haar halfbroer is. Nazeem se aankoms in Ruiterbosch (die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel) het die houvas gebreek wat Bridgette se oorlede pa, Henry, wat haar held was, op haar gehad het.
LEES: Bekende 'My f*k, Marelize'-video word 'n film
"Sy was hartseer dat haar pa haar ma, Mrs J (Theresa Sedras), verneuk het. Haar ma was dus, sonder dat Bridgette dit voorheen geweet het, ook die slagoffer van 'n man wie se oë gedwaal het – nes sy wat deur haar man, Ian October (Abduragman Adams), se affairs verneder is. Sy het Nazeem verkwalik vir haar pa se dade, en dit het tot vele oorloë tussen hulle gelei."
3. 'Bridgette' was in 'n stadium bietjie van ’n feeks, maar haar hart het baie oor die jare versag. Hoekom dink jy het dit gebeur?
"Ja, die skrywers het haar nogal 'n bietjie sagter gemaak. Ek dink sy het sagte oomblikke in haar lewe. Ek dink daar is kere waar sy 'n bietjie verander en pogings aanwend om ’n goeie mens te wees.
"Ongelukkig vir Bridgette was daar nog altyd mans soos Ian, Nazeem en Tim (Marco Spaumer) wat haar lewe willens en wetens wou moeilik maak, en dan is sy gedwing om ook vuil te speel. Dis deel van haar oorlewingsinstink, en dit het haar verhard. Maar ek is mal oor Bridgette as ’n karakter. Sy't partykeer goed gesê waarvan ek nie gehou het nie, maar ja, dit was goed wat gesê moes word."
4. Wat bewonder jy van 'Bridgette'?
"Ek bewonder vir Bridgette, want partykeer sê sy dinge wat ander mense nie sal waag om te sê nie. Sy is nie met ’n wag voor haar mond gebore nie. Ek hóú daarvan.
"Ek bewonder haar ook omdat sy ’n sterk vrou is, al het sy ’n swaar lewe gehad met die man wat haar so verneuk het. Sy het haar plek in die lewe gevind, and she’s not afraid to claim her place.
"Ek hou ook van haar bankbalans, want dis nie myne nie. Ja, sy kan doen wat sy wil, want sy het die geld daarvoor."
5. As jy vrye teuels gehad het en 'n storielyn vir 'Bridgette' kon uitdink, wat sou dit wees?
"Dit sal lekker wees as daar 'n karakter op die horison is, wat die feeks in Bridgette weer gaan wakker maak. Wie weet, dalk draai sy en Nazeem weer teen mekaar of begin sy en Zoë vir mekaar kloue wys. Haar een kind is dood, en haar ander kind wil haar nie ken nie. Haar suster is haar steunpilaar, en haar ma is ook daar om haar te ondersteun as sy dit nodig het, en sy regeer haar maatskappy. En dis baie suksesvol.
"As ek nou iets lekkers kon skryf, sou ek haar miskien alles laat verloor het sodat sy hard moet baklei om dit weer terug te kry. Sy moenie weer arm wees nie. Dit sal ek nie kan hanteer nie. Maar dalk kan iets haar onkant vang en alhoewel sy alles verloor, kan sy dit weer terugkry."
'Suidooster', wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Luister na Jacaranda FM:
- 94.2
- Jacaranda FM App
- http://jacarandafm.com
- DStv 858/ OpenView 602
Volg ons op sosiale media:
Meer Op Jacaranda FM
Show's Stories
-
Liesl Laurie's husband thanks Mark Zuckerberg for marriage
Who knew that the Facebook founder played such a big role in SA's most l...
The Drive with Rob & Roz 7 hours ago -
Tech-billionaire will leave fortune to his 100 children
Pavel Durov founded Telegram, a cloud-based messenger with seamless sync.
The Drive with Rob & Roz 7 hours ago