LUISTER: Hiér lê Afrikaans se wortels
Updated | By Marlinée Fouché
Van die eerste Afrikaanse woorde wat reeds in 1559 opgeteken is, sluit plantname soos "kanna", "boegoe" en "dagga" in, om maar 'n paar te noem. In 'n splinternuwe potgooi-reeks delf Jacaranda FM diep in die oorsprong van Afrikaans — op soek na die taal se wortels.

Terwyl daar fees gevier word, is dit egter nie duidelik presies wanneer en waar Afrikaans gebore is nie.
Die eerste kommunikasie tussen plaaslike inwoners en destydse seevaarders, was wel wat ons vandag beskou as die eerste kontak met Afrikaans.
In hierdie episode, delf die Jacranda FM Nuus-span se Marlinée Fouché diep op soek na Afrikaans se wortels en volg die taal se takke wat wyd strek.
Luister hier:
"Afrikaans het nie noodwendig 'n geboortedatum nie – nog minder 'n begin," sê die Direkteur van die Taalmonument en -museum, Michael Jonas.
Van die eerste woorde wat reeds in 1559 opgeteken is, sluit in die plantnaam 'Kanna' asook die woorde 'boegoe' en 'dagga' om maar 'n paar te noem.
Dis egter nie die enigste bydrae tot Afrikaans se vormingsjare nie.
Van die eerste plekke waar mens Afrikaans raaklees – is in Arabiese geskrifte.
Volgens 'n onafhanklike navorser van die Kaapse Maleierkultuur, Mogamat Alexander, was slawe verbied om Romeinse skrif te lees, maar hulle kon Arabies lees.
Afrikaans is toe, van regs na links in Arabies geskryf vir gebruik in ondermeer moskees.
"Arabiese Afrikaans is nie 'n taal nie, dis ‘n skryfsisteem," sê hy.
"Hulle het Arabiese skrif gebruik om Afrikaans te skryf."
Hy voeg by dat hierdie skryfstyl ons vandag help om te "hoor" hoe Afrikaans destyds geklink het onder die slawe gemeenskap in Kaapstad.
Alexander het 'n boek geskryf wat hierdie Arbies- Afrikaanse tekste uit die 1800's bevat en help lesers om dié vervloeë stelsel te ontsyfer.
In hierdie tekste is dit duidelik dat 'j' in dié gemeenskap uitgepreek is as 'dj', en gemeenskappe het tóé al gepraat van 'djy' en 'djou'.
Volgens Alexander, spreek dit boekdele.
"Mense het maar aangeneem dat die variant wat deur die Kaapse Maleiers gepraat word, is 'n verkeerd uitgespreekte weergawe van Standaard Afrikaans. Dié weergawe het bestaan lank, dekades voor Afrikaans gestandardiseer is."

Vertaling van die Arabiese Afrikaanse-lessie vir kinders hier bo:
(Hou in gedagte dat daar in dié fase nie regtig taal- en spelreëls was nie)
"…huis toe gaat, en moenie in die straat speel nie,
die twalfste, het djy uit die skool uit kom, dan moet jy reguit huistoe gaat,
en groet en vir djou vader en moeder, en soen, syle hande.
Die dertiene, het djy klaar moet iet is, dan moet jy sit by djou oemie en tatah, en moenie in die ronte gaat speel nie.
Die veertenie, wat jou oemie en tatah seg moet jy maak, djy moenie djou eie order verbruik nie, net soes hulle seg moet djy maak.
Die vyftiene, tyd van skool gaat, moet jy gou gaat en moenie met slegte kinis speel nie lanks die pad nie.
Manierlikgyt vir n kint vir sy oestaad
Sit geniederag, en met adaab voor djou oestaad.
Het djy iets wil vraag of brink, lig op djou tagyat finger na die…"
Intussen verander Afrikaans voortdurend.
Die eerste woordelys- en spelreëls (AWS) is volgens die Voorsitter van die Taalkommissie, Suléne Pilon, onvergelykbaar – en sy sê dis goed so, want geen taal kan in ’n boks gedruk word nie. "Jy kan daai boks so sterk maak soos wat jy wil, daai taal gaan daar uitklim."
Daar word ook behoorlik skouer aan die wiel gesit om die taal uit die boks te help – iets wat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se mederedakteur, Gerda Odendaal, na aan die hart lê.
Sedert die Covid-19 pandemie het die WAT-span doelgerig daaraan gewerk om Kaapse Afrikaans meer prominent in die woordeboek vas te lê, en nou is dit Gariep Afrikaans se beurt. "Uiteindelik moet die woordeboek 'n spieël wees waarin enige spreker van Afrikaans hulleself kan sien."
Die laaste woord gaan aan Michael Jonas van die Afrikaanse Taalmonument en -Museum, wat sê die taal se oorsprong lê oor drie kontinente versprei: Europa, Afrika en Suid-Oos Asië.
Die oorsprong word uitgebeeld in Jan van Wyk se ontwerp van die taalmonument.
"Die seile aan die linkerkant verteenwoordig die Wes-Europese tale waaronder Nederlands, Frans, Duits en Portugees tel. Daar’s ‘n kolom in die middel soos jy op beweeg na die boonste seil van die monument toe. Dit verteenwoordig die Indonesiese invloed en die Maleise invloed. Dan is daar drie koepels wat soos hutte lyk – en dit verteenwoordig die stygende invloed van Afrikatale," sê hy.
Die boonste seil is boonop oop – om te simboliseer dat dié taal, wat vernoem is na die vasteland van haar oorsprong, bly groei.

100 Jaar van Afrikaans is 'n oorspronklike JacPod mini potgooi-reeks.
Dié reeks delf in die ryk erfenis en geskiedenis van Afrikaans, fokus op die rol wat die media en die vermaaklikheidswêreld gespeel het in haar vormingsjare, en waag voorspellings oor waarheen die taal op pad is.
Dit is vervaardig en word aangebied deur Jacaranda FM nuusredakteur en -leser, Marlinée Fouché.

Luister hier na episodes wat reeds beskikbaar is:
Meer Op Jacaranda FM
Show's Stories
-
Mother's Day Craft market on Zeiss
What a lovely way to spend Mother's Day, out with the family on a market...
The Workzone with Elana Afrika-Bredenkamp 14 seconds ago -
Elephants help themselves to oranges on broken down truck
Nature has a way of always providing for itself...
The Workzone with Alex Jay a minute ago