KYK: Hier is die aanbieder van 'The Mommy Club'-reünie
Updated | By Jacaranda FM
Dié reünie van 'The Mommy Club: Van die Hoofstad' première op Vrydag, 27 Junie 2025, met 'n tweede aflewering op Vrydag, 4 Julie 2025 op Showmax.

Die aktrise en TV-aanbieder Leandie du Randt is die aanbieder van die reünie-episodes van 'The Mommy Club: Van die Hoofstad', wat eersdaags in twee dele – op Vrydag, 27 Junie 2025, en die daaropvolgende Vrydag, 4 Julie 2025 – op Showmax première.

"Ons het Leandie gekies omdat sy 'n uitsonderlike aanbieder met jare se ondervinding in die vermaaklikheidsbedryf is," sê Lea Knoesen, uitvoerende vervaardiger by POP24.
“Sy is die perfekte keuse om só 'n groep sterk, dinamiese vroue in gesprek te lei. Leandie verleen die hart, krag en teenwoordigheid wat nodig is om dié belangrike gesprekke met die nodige sorg en sensitiwiteit te lei."
'The Mommy Club: Van die Hoofstad' is sedert Showmax se herbekendstelling die Afrikaanse reeks wat nog die meeste op dié platform gekyk is.
LUISTER: Christia Visser, Armand Aucamp gesels oor enkelsnit
Die reeks volg vyf onstuitbare ma’s – Ansu Viljoen, Crystal van der Burgh, Johandri Johnson, Louise Volschenk en Tessa Tullues – soos hulle die grense van moderne moederskap opnuut definieer.
Leandie het ook 'Love Island South Africa' aangebied en is as sulks bekend met die drama wat met realiteitstelevisie gepaardgaan.
Ná 'n seisoen van hartverwarmende oomblikke, persoonlike openbarings en drama wat opslae gemaak het, staan Leandie gereed om kykers se brandende vrae aan te pak.
Sy deel in 'n eksklusiewe gesprek meer oor wat mense kan verwag, hoe sy die reünie benader het, en meer.
Hierdie is nie jou eerste uittog as die aanbieder van 'n realiteitsreeks nie – hoe voel jy oor die geleentheid om dié reünie aan te bied?
"Dit is altyd ’n eer om as aanbieder gekies te word. Ek voel werklik bevoorreg om met hierdie vroue se harte en kwesbaarheid vertrou te word. Dit verg baie om jouself op TV te plaas, en ek hoop om hul sterkpunte uit te lig – nie net die negatiewe dinge waarop die publiek dalk nou fokus nie."
Watter weergawe van 'The Mommy Club' het jy gekyk om inspirasie vir jou aanbiederstaak te kry?
"Ek het nie daardie roete gevolg nie. Ek glo daaraan om getrou te bly aan wie ek is en hoe ek dinge benader. My fokus was om die program en die inhoud daarvan van binne en buite te ken, en om nou saam met die produksiespan en regisseur te werk. Die belangrikste is egter om met ’n oop hart in te gaan en werklik te luister. Wanneer jy luister om te verstaan, eerder as om te oordeel, kom jou reaksie uit die hart – nie die kop nie – en dís waar die towerkrag lê."
Hoe beplan jy om alles by die reünie aan te spreek?
"Soos Switserland! Ek is iewers tussen 'Dr. Phil' en 'Judge Judy'. My doel is om hulle te help om dinge vanuit mekaar se perspektiewe te sien, terwyl hulle steeds vasstaan in wat hulle glo die waarheid is. Ek is ook daar om die gesprek te lei. Dit gaan nie oor my nie; dit gaan daaroor om vir hulle die ruimte te skep om hul waarheid te deel. Ek hoop om terselfdertyd ook as ’n stem vir die publiek te dien."
Wat is van die grootste punte wat jy wil aanspreek?
"Hierdie seisoen was so dramaties; daar is baie om aan te spreek. Van die dringende onderwerpe is die Johandri- en Ansu-sage, die mom-shaming-kwessie, ál die drama, en natuurlik die hele bosveld-situasie."
Wat kan kykers van die reünie verwag?
"Kykers kan baie eerlike gesprekke verwag oor wat werklik op kamera, en selfs agter die skerms, gebeur het. Daar het intussen tyd verloop, maar nou dat hulle hulself op die skerm gesien het, sal emosies rou wees. Daar sal trane, gelag, skokke en beslis 'n hele paar argumente wees."
Dit was ’n taamlike intense seisoen. Hoe beplan jy om al die drama aan te pak wat hierdie seisoen uitgespeel het?
"Stap vir stap, bietjie vir bietjie. Gelukkig het ek 'n sterk span wat my elke tree van die pad lei."
LUISTER: Hierdié 'Mommies' sê nee vir moontlike seisoen twee
Hoe het al die drama jou voorbereiding beïnvloed?
"Dit het my oor my eie lewe laat besin. Dít het vir my ruimte gegee, maar my ook daaraan herinner om geanker te bly. Soms besef ons nie hoe ons vir ander oorkom totdat ons onsself objektief sien nie. Ek dink baie van hierdie vroue se bedoelings was anders as hoe dinge uiteindelik uitgespeel het. Dit sal 'n spieël vir hulle wees – en hopelik ook vir die kykers – om te stop en te besin oor wie hulle hulself mee omring, hoe hulle hulself uitdruk, en of die ontvangs daarvan dan strook met hul bedoelings."
Was daar enige gesprekke of situasies waaroor jy bekommerd was?
"Beslis die gesprekke oor die ma-skuldgevoel. Ek is self nie 'n ma nie, so ek kan nie persoonlik met daardie ervaring vereenselwig nie."
Voel jy dat dié reeks van die dinge weerspieël wat in Afrikaanse gemeenskappe gebeur?
"Ongelukkig ja, tot 'n mate. Maar ook: hierdie dinge gebeur in alle gemeenskappe. Vir my gaan dit meer oor wat kan gebeur as jy omring word deur die verkeerde mense – of net mense wat nie jóú soort mense is nie. In Afrikaans sê ons: 'Mense wat nie jou dam se gans is nie.' Dit was nog altyd vir my belangrik om myself te omring met mense met wie ek nie omgee om lewens te ruil nie. Jy word soos die vyf mense met wie jy die meeste van jou tyd bestee – so kies jou binnekring baie versigtig."
Wat hoop jy om by die reünie te bereik?
"Ek wil hê die vroue moet voel dat hulle die geleentheid gehad het om hul waarheid te deel en hul kant van die storie te stel. Ek hoop hulle voel gehoor – nie geoordeel nie. Meer as enigiets anders wil ek hê hulle moet wegstap met die wete dat daar skoonheid in elkeen van hulle is. Dit gaan daaroor om die regte mense rondom jou te kies sodat jou ware toorkrag kan skyn. Of hulle wel mekaar se mense is, weet ons nog nie. En as hulle nie is nie, is dit ook oraait. Ek dink ’n groot teken van volwassenheid is om te kan verskil van mekaar, terwyl jy steeds respek en vriendelikheid toon."
Skakel in vir 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 - 19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.
Luister na Jacaranda FM:
- 94.2
- Jacaranda FM App
- http://jacarandafm.com
- DStv 858/ OpenView 602
Volg ons op sosiale media:
Foto: kykNET/ Verskaf
MORE FROM JACARANDA FM
Show's Stories
-
50 elephants to be killed and meat distributed to people
The cull at a vast private game reserve in the southeast would initially...
Breakfast with Martin Bester 13 minutes ago -
This school lets teens 'find themselves' for a year
15-year-olds spend a year 'finding themselves' at an "efterskole", a kin...
The Drive with Rob & Roz 13 hours ago