Mevrou se blou bloed bieg

Mevrou se blou bloed bieg

Die Mevrouens bieg hulle was ook – net soos die res van die wêreld - vas gevang in die dramatiese verwikkelings van die Britse koninklike familie.

Mevrou Kersfees
Jacaranda FM

Met die pinkies in die lug en die tee wat nie uit die koppies mors nie, vra dié twee ook nederig om verskoning oor al die ure wat hulle op sosiale media spandeer het met die teorieë oor wat aangaan agter die paleis deure in Brittanje. 

En daarmee onthou Gerda de Sousa en Dianne Broodryk in hierdie episode van Mevrou Mevrou hoe hulle voor die TV gesit en wag het vir Prinses Diana om met haar trourok uit die koets te klim.

Gerda de Sousa erken sy is die een wat nie haar slimfoon kon neersit sedert die skandaal oor dáái fopfoto van Prinses Catherine en haar kinders in die media ontplof het nie.

Dae en nagte het om gevlieg terwyl sy in die een donker tonnel na die ander een af gegaan het op al wat 'n sosiale media platform is opsoek na die (moontlike) waarheid.

Dit was alles net 'n lelike geskinder -besef sy nou bietjie te laat...

Vir Dianne Broodryk het dit onmiddelik laat onthou van daardie aand toe sy in die bad gelê en 'n rympie in haar kop geskryf het oor Prins Andrew en die Jeffrey Epstein-skandaal.

Mens kan hulle nie kwalik neem nie meen die twee Mevrouens, want as jy soos hulle leef aan die voorpunt van alles wat in die wêreld gebeur, dan was die Britse koningshuis op almal se lippe.

Nou dat die stof gaan lê en die wêreld weet Kate is besig met 'n stryd teen kanker, is dit tyd om te besin en ja, te bieg.

Maar ook om te onthou.

In 'n oogwink is Dianne Broodryk terug in haar ouma se huis op Reitz in die Vrystaat, waar sy en haar sussie op 'n koue wintersdag met 'n groot boks lekkergoed en glinsende oë gesit en kyk het hoe Koning Charles en Diana in 1981 getrou het.

Dié twee Mevrouens was jong dogtertjies wat na hulle asems gesnak het toe 'n regte Prinses met 'n regte kroon uit 'n regte koets geklim het om met 'n regte prins te trou.

Realiteit het die Mevrouens se siening bietjie sedertdien aangepas, maar die nostalgie loop dik soos blou bloed.  

Mevrou koninklikes banner
Jacaranda FM

Mevrou Mevrou is 'n oorspronklike Afrikaanse potgooi deur Jacaranda FM waarin twee "gesoute" radio kollegas, Gerda de Sousa en Dianne Broodryk, hulle lewens agtermekaar kry met 'n lekker ou stoep kekkel.

Gerda en Dianne het al dekades saam agter die rug – as joernaliste, by Jacaranda FM, vriendinne wat als van mekaar weet, twee ma’s wat moet help raad gee as die ander nie meer antwoorde het nie en, natuurlik, Mevrouens. 

Mevrou Mevrou channel banner
Jacaranda FM

In hierdie eksklusiewe potgooi reeks vir JacPod, tel Gerda en Dianne nie hulle woorde nie.

Hulle mag dalk op 'n afstand lyk soos twee normale Mevrouens, maar op hulle weeklikse skinkbord gaan jy nie gewone tee en toebroodjies kry nie. 

LUISTER OOK NA VAN ONS VORIGE EPISODES:

Show's Stories