Valiant Swart Hou Veiling Om Sy Vrou Te Ondersteun

Valiant Swart hou veiling om sy vrou te ondersteun

Ernstige siekte, hetsy jou eie of die van ’n geliefde, het ’n reuse impak op al die betrokke partye se lewens. 

valiant

Ernstige siekte, hetsy jou eie of die van ’n geliefde, het ’n reuse impak op al die betrokke partye se lewens. Daarvan kan die gewilde SAMA-bekroonde sanger, liedjieskrywer en akteur, Valiant Swart, en sy vrou getuig.

Lanelle, wat ook sy agent is, het twee jaar gelede ’n kankeroperasie ondergaan. Sedertdien het daar egter komplikasies ingetree en is sy onlangs gediagnoseer met limfedeem in haar regterbeen, wat moontlik ook later na haar linkerbeen kan versprei.

Lanelle is ’n ystervrou en super-ma vir ons kinders. Sy het haar hele lewe lank ’n aktiewe leefstyl geleef en nog altyd die fort gehou as ek op die pad moes wees. Limfedeem het haar alledaagse bestaan aansienlik verander,” sê die musikant wat veral bekend is vir sy rol in die Afrikaanse drama, 'Song vir Katryn', en sy treffer, 'Sonvanger'.

As gevolg van haar diagnose, wat met tyd gaan vererger, is hierdie aktiewe een-en-vyftigjarige ma – wat steeds studeer en gereeld stap, swem en reis – se toekomsplanne heeltemal omvergewerp.

Pyn, ongemak, strawwe behandelings en oefeninge, asook ’n streng dieet het haar nuwe normaal geword... en om ver te ry (wat noodsaaklik is vir Valiant se beroep) is nou ’n onaangename en vermoeiende ervaring.

“My vrou moet dag en nag ongemaklike, beperkende kompressie-kouse dra om te voorkom dat haar bene opswel en toestand versleg. Sy moet ook elke oggend, sonder uitsondering, spesiale oefening doen om swelling, pyn en komplikasies te voorkom. Ten spyte van haar gedissiplineerde oefenprogram en dieet, ondervind sy steeds deurlopend pyn en ongerief en maak dit normale dinge soos karbestuur uitputtend,” deel hy.

Gelukkig was sy nog nooit iemand wat haar laat onderkry nie en het sy besluit om terug te baklei teen hierdie aaklige siekte.

Na deeglike navorsing, het hulle ontdek dat daar oorsee ’n mikro-sjirurgiese prosedure bestaan om limfedeem te behandel. Daar is egter net ’n handjie vol instansies en sjirurge wat hierin spesialiseer en hulle was gelukkig genoeg om ’n hoogaangeskrewe Amerikaanse spesialis in Cleveland, Ohio op te spoor, wat vroeg in 2022 wil opereer.

“Limfedeem affekteer alle aspekte van my lewe. Buiten vir net chroniese swelling, pyn en ongemak, het dit ook ’n invloed op my immuunstelsel en kan dit lei tot lewensgevaarlike bakteriële infeksie. Die ergste vir my is die vrees dat ek my beweeglikheid kan verloor. Hierdie operasie sal my ’n kans gee om normaal te funksioneer omdat dit ’n alternatiewe dreineringsroete vir die limf skep, wat weefselverandering help vertraag en die kanse om infeksie op te doen verminder,” sê Lanelle.

Die probleem is egter dat die prosedure self ’n klein fortuin kos, om nie eers te praat van reis- en  verblyfkoste (voor, gedurende en na die operasie) nie.

Om geld in te samel om Lanelle te help om teen die aaklige siekte te baklei, beplan die paartjie om – in samewerking met WOES – twee veilingsfunksies te hou in die Kaap en Gauteng.

“Ons wil graag vroeg in 2022 twee lewendige veilingsfunksies hou. Dit gaan terselfdertyd ook aanlyn gestroom word om ’n groter gehoor te verseker en ’n uitstekende reklame-platform aan adverteerders te bied,” verduidelik Valiant.

Buiten vir optredes deur bekende kunstenaars, gaan daar ook waardevolle Valiant Swart-memorabilia opgeveil word, waaronder Jinx (sy karakter in Song vir Katryn) se kitare (gemonteer in hout- en glas-uitstalkaste); ’n beperkte aantal nuwe elektriese kitare; handgeskrewe en geraamde lirieke van treffers soos 'Songvanger', 'Die Mystic Boer', 'Eyeshadow' en 'Duisend Myl Blues'; die laaste oorblywende bottels Mystic Boer-brandewyn; getekende geraamde foto’s; kunswerke, ensovoorts.

“Toe Kobie van Vonk Musiek ons skakel om te hoor of ons vir Lanelle sal help fondse insamel, was ons dadelik aan boord,” sê Jaco van Dyk, een van die stigterslede van WOES. “Ons sal graag soveel as moontlik wil insamel, aangesien die pad wat vir hulle voorlê finansieel nog baie onseker is.”

Fondse sal verder ook op drie ander maniere ingesamel word:

1) Die verkoop van advertensiespasie op WOES se aanlyn-veilingsblad;

2) Skenkings deur individue en instansies; en

3) Lootjieverkope op items soos ’n vakansie, jagnaweek, gholfpakket, spa-wegbreek, visvanguitstappie, wyn, vleis, skoonheidsbehandelings en vele meer.

“WOES is oorspronklik aan die begin van die Covid-19 pandemie gestig om kunstenaars te help, maar het vinnig uitgebrei na skole en ander instansies,” verduidelik Jaco. “Ons het reeds negentig programme agter die blad, waaronder twee ‘Ons Sal Self’-konserte (in samewerking met Coleske Artists en Vocal Events) en twee ‘Red Die Boer Restaurant’-konserte, wat nie net groot hoogtepunte was nie, maar ook ’n broodnodige verskil gemaak het. Kykers geniet die program omdat hulle so ook die geleentheid kry om ’n verskil te maak. Ons doen waarvoor ons lief is en is dankbaar dat ons soveel mense as moontlik in die proses kan help.”

Die Gautengse konsert en veiling sal op 27 Januarie 2022 plaasvind by The Blue Crane Restaurant in Pretoria.

Besighede en individue wat graag skenkings wil maak, pryse wil borg, advertensiespasie wil koop of betrokke wil raak, kan ’n e-pos stuur na [email protected] vir meer inligting. 

“Ek doen reeds alles in my vermoë om die toestand deur leefstylveranderinge te beheer, maar dit is ongelukkig nie altyd genoeg nie en ek leef met die konstante vrees dat my ander been ook aangetas kan word. Dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die operasie ’n sukses sal wees nie, maar dit is my enigste hoop en ons is dankbaar vir almal wat reeds uit hulle pad uit gegaan het om ons met die fondsinsameling te ondersteun,” sluit Lanelle af.

Kaartjies vir die veiling, lootjies en konsert sal aanlyn beskikbaar wees op Tixsa by https://bit.ly/31L2T1I.

Om dit op YouTube te volg, kliek op https://youtu.be/_NGhGRDzRbw.

Show's Stories