Dít is waarna mentors in die tweede seisoen van 'Die Kontrak' soek

Dít is waarna mentors in die tweede seisoen van 'Die Kontrak' soek

In 2018, is die gewilde sanger Demi Lee Moore as die wenner van 'Die Kontrak' aangekondig. Is jy volgende? Skryf nóú in!

'Die Kontrak' mentors
Verskaf/ Tarryn Lamb, Refentse, Karlien van Jaarsveld en Monique Steyn

Sosiale media word tans oorstroom met plasings deur duisende hoopvolle deelnemers. 'Die Kontrak' het so pas inskrywings vir die tweede seisoen geopen.

In dié plasings is video’s wat as oudisies dien met ’n boodskap aan ’n gekose mentor.

'Die Kontrak' is die gewilde TV-talentsoekprogram waar ‘n platekontrak van die gesogte Coleske-groep losgeslaan kan word.

Die program het in 2018 vir die eerste keer die lig gesien en Demi Lee Moore was as wenner aangekondig.

Sedertdien het sy een van Suid-Afrika se suksesvolste vroulike kunstenaars geword. 

Nou is dit tyd vir nóg ’n sanger met ’n groot droom om waar te word en die mentors het nog nét twee weke, voor inskrywings op 29 April sluit, om hulle deelnemers uit die aanlyninskrywings te kies om deel van die Top 26 te word.

'Die Kontrak' het vier mentors wat elkeen uiteindelik net twee deelnemers sal afrig. 

Wanneer die program in Augustus op eExtra begin uitsaai sal al die mentors se deelnemers elkeen ’n ongetekende Coleske-platekontrak ontvang en teen mekaar meeding om daardie kontrak te behou. Na elke episode sal die Groot Baas een deelnemer se kontrak opskeur tot hy uiteindelik daai handtekening gaan gee wat ’n lewe gaan verander.

“Daar is baie kunsteaars wat ongelooflike stories vertel deur die musiek wat hul skryf en dis juis waarna ek op soek is - ’n sanger en liedjieskrywer wat bereid is om hard te werk en mense hoop te gee deur hul musiek,” het Tarryn Lamb vertel.

Lamb sluit vanjaar vir ‘n tweede keer aan by Die Kontrak se mentors en dié keer is sy vasberade om die wenner na die kompetisie te bring en is reeds opgewonde is oor al die talent. Sy raai enige iemand wat ernstig is oor hul loopbaan aan om in te skryf.

Immergewilde sangeres, Karlien van Jaarsveld, sal ook vanjaar ’n mentor wees nadat sy in die eerste reeks saam met haar broer, Bobby van Jaarsveld, aanbieder van dié reeks was.

“Ek dink daar is baie mense wat kan sing - maar ek dink daar is sommige wat ’n baie spesifieke lied op hul hart het. Ek is opsoek na iemand wat uniek is - iemand wat ’n ou liedjie so nuut en vars kan vertolk dat dit na ’n nuwe liedjie klink,” het Van Jaarsveld gesê.

Monique Steyn, wat die wen mentor van seisoen een was nadat sy Demi Lee Moore na die kompetisie gebring het, is natuurlik terug om weer die land se talent te fynkam vir ’n blink nuwe ster.

“Ek is weer opsoek na die eerlikheid in iemand en ’n kunstenaar wat nie bang is om hul harte op hul mou te dra nie,” het Steyn gesê.

Volgens Steyn is hierdie leerskool wat die Coleske Groep bied van onskatbare waarde en ’n kans wat nie misgeloop kan word nie.

Vir die haan onder die henne, Refentse, is die groei en vooruitgang van Afrikaanse musiek baie belangrik.

“As mentor is ek juis opsiek na daardie persoon met ’n vars nuwe geur,” het hy gesê.

26 hoopvolle deelnemers sal voor die mentors optree en elke mentor sal hul top twee kan kies.

“Ons is so dankbaar en opgewonde om - na ons alles vir twee jaar moes stop - te kan afskop met die verfilming van Die Kontrak 2,” het Barry Pretorius, Vervaardiger van Afrikaans is Groot en ook een van die beoordelaars van 'Die Kontrak', gesê.

Refentse se loopbaan het juis destyds afgeskop na ’n video waarop hy gesing het vlamgevat het en hy besef die groot impak wat iets so eenvoudig soos ’n aanlyn video uiteindelik op jou lewe en droom kan hê.

Die wenner van 'Die Kontrak 2' stap weg met ’n platekontrak by die gesogte Coleske Groep ter waarde van R1-miljoen en ’n Toyota Corolla Cross vir ‘n jaar.

Inskrywings vir 'Die Kontrak 2' is nou oop en sluit op 29 April.

Neem ‘n video van waar jy jou gunsteling-liedjie sing en laai dit op jou Facebook, Instagram of TikTok. 

“Tag” dan jou mentor keuse asook 'Die Kontrak' se sosiale media in die plasing. Dit is baie belangrik dat jy die hutsmerk #DieKontrak2 gebruik. 

Registreer dan jou inskrywing op Die Kontrak se webblad om seker te maak dat die mentors spoedig jou inskrywing onder oë kan kry.

Deur nie jou inskrywing te registreer nie is dit moontlik dat die kenners jou inskrywing kan miskyk tussen die massas inskrywings wat geplaas word. Besoek gerus https://www.wendiekontrak.co.za/ vir meer inligting en om te registreer.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories