EKSKLUSIEF: Len Muller herleef spesiale herinneringe uit sy skooljare in nuwe musiekvideo

EKSKLUSIEF: Len Muller herleef spesiale herinneringe uit sy skooljare in nuwe musiekvideo

Soms gebeur 'magic' sonder te veel beplanning of kommer oor die fynere detail – veral wanneer jy die geleentheid kry om lekker herinneringe uit jou skooldae te herleef, en dit is presies wat die sielvolle musikant en liedjieskrywer, Len Muller, doen in sy nuutste musiekvideo. 

Len Muller
Verskaf

'Jy Moet Weet', 'n avontuurlustige Afrikaans-akoestiese snit uit sy eie pen, is einde laas jaar uitgereik en kan steeds oor die radio gehoor word. Hy wou egter sy tyd neem met die musiekvideo om iets opreg en uit die hart as platform vir die musiek te skep. 

"Ek het 'n ou skoolvriend, Ryno Turketti, saam met wie ek altyd gaan branderplank ry het. Ons ken mekaar al meer as twee dekades en het al baie ure in die water saam spandeer. Dit is van my lekkerste herinneringe," vertel hy. 

"Sedertdien het ons albei getrou en pa geword van seuns van dieselfde ouderdom. Die musiekvideo was eintlik net 'n verskoning om op ’n branderplank-uitstappie te gaan. Nico Welgemoed, die vervaardiger, was net toevallig daar op kamera vas te vang."

Die video is op die mooiste ongerepte strande in die Weskus, noord van Lambertsbaai, verfilm en moedig die kyker aan om voluit te leef en avonture te gaan soek... al is die soms buite jou gemaksone.

Sedert Len se solo-loopbaan 'n dekade gelede afgeskop het, was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad. Hy het nie net die geleentheid gekry om saam met groot name in die musiekbedryf te werk nie, maar ook om op groot musiekverhoë op te tree en homself as liedjieskrywer te vestig. 

Hy is veral bekend vir sy treffer, 'Vrede', wat gebruik is as die temalied vir die kykNET-sitkom, 'Mense Mense'. Dié liedjie is in dieselfde jaar benoem vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir 'Liedjie van die Jaar.'

Wanneer dié veelsydige Kapenaar nie besig is met sy eie musiek nie, bestuur hy sy eie eksklusiewe agentskap (Tau Entertainment) wat besprekings vir kunstenaars soos Juan Boucher en Danie du Toit (Reënwolf) hanteer. 

Verder is hy ook ’n gesoute liedjieskrywer, wat graag vir ander sanger liedjies skryf, en tree hy soveel op as wat hy kan.

Len erken dat hy baie dankbaar is vir die geleentheid om 'Jy Moet Weet' op hierdie besonderse manier uit te beeld en dat hy dit vreeslik geniet het om aan hierdie projek te werk. 

"Dit was iets wat my siel so nodig gehad het, sonder dat ek dit besef het. Soms kom jy op ’n plek in jou lewe waar jy oor-verantwoordelik voel en te veel wil doen en wees. Dan moet jy net die spreekwoordelike pause-knoppie druk. Ek het nooit gedink dat ek weer die geleentheid sou kry om hierdie te doen nie en die aand voor ons moes vertrek was ek vreeslik siek met ’n maagvirus en koors. Ek het amper gekanselleer, maar soms moet jy deur al die uitdagings druk en net ’n kans waag op avontuur," sluit hy af.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories