KYK: Danny Smoke verbreek stilte van drie jaar met smeulende enkelsnit

KYK: Danny Smoke verbreek stilte van drie jaar met smeulende enkelsnit

Dit is byna drie jaar sedert Danny Smoke sy debuut as solokunstenaar gemaak het en verbreek nou dié ellelange stilte met die sexy en stomerige enkelsnit en musiekvideo getiteld 'Wie’s Jou Kat'?

Danny Smoke Wie's Jou Kat
Verskaf

'Wie’s Jou Kat?' is ’n energieke en ritmiese pop-rockliedjie uit Johan Vorster se pen en is geïnspireer deur tagtigs "glam".

"Ek noem partykeer meisies ‘katte’, so toe skryf Johan [Vorster] die liedjie met dit in gedagte," verduidelik Danny die inspirasie vir die lirieke.

"Ek sê vir dié kat presies wat ek met haar wil doen en hoekom ek haar ’n kat noem," sê die sanger, wat Def Leppard, Keith Urban en Bryan Adams as van sy musikale invloede tel.

'Wie’s Jou Kat?' is ’n vuurwarm snit wat luisteraars na die dansvloer sal lok en bied ontvlugting wat dadelik ’n slegte bui sal opkikker.

Die musiekvideo is smeulende tonele saam met Angelique Gerber en altwee dié vermaaklikheidsterre het vertel dat dit groot pret was om die video saam te verfilm.

Volgens die waaghalsige sanger verwag hy dat die liedjie goed ontvang sal word. "Ek wil hê mense moet die kettings wat hulle vashou afbreek en net ’n goeie tyd hê."

Die musiekvideo sal ’n prettige "kat" uitbeeld wat besig is om reg te maak vir een van Danny se vertonings.

Conrad Theron van Dapper Media het die regie behartig. Die konsep van die video is om pret te weerspieël. Sy word verskillende karakters wanneer sy saam met Danny in die vertrek is en die musiekvideo onderstreep die boodskap dat ’n mens kan - en mag - fantaseer én dit uitleef.

"Ons kry die kans om karakters te word wat ons nie in die werklike lewe is nie... of dalk is ons," sê Danny.

"Ek hou daarvan om goed te voel en nie te veel hoef te worry nie. Ek wil hê my musiek moet dit wees vir mense, en dat wanneer hulle dit luister, hulle weggevoer sal word na magical plekke." 

"Ek hoop mense sal na die musiekvideo kyk en so rukkie vanuit die realiteit na ‘n kamma-wêreld vol pret en pleiser verplaas word," het Danny gesê.

"Dit was so ‘n gemaklike omgewing en ons het so baie gelag. Elkeen op die stel het hul kant gebring om die video ‘n sukses te maak," het Angelique vertel.

"Mense moet mooi luister na die liedjie en hoekom Danny na sy spesiale vrou as ‘kat’ verwys – daar is ‘n dieper, spesiale boodskap daar," het sy gesê.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories