’N nuwe seisoen breek vir Bernice West aan met tweede album

’N nuwe seisoen breek vir Bernice West aan met tweede album

Bernice West, met haar borrelende persoonlikheid en uitsonderlike musiektalent, het die musiekbedryf stormgeloop sedert sy in 2019 as naaswenner aangewys is van die realiteitsreeks, 'Maak My Famous'. 

bernice

Dié een-en-twintig-jarige “lieflingkind van Afrikaanse musiek” het reeds ’n rits sekulêre treffers agter haar naam en is baie opgewonde om nou, JONA, die eerste radiovrystelling vanaf haar komende album (met dieselfde naam) met die publiek en aanhangers te deel.

Hierdie nuwe enkelsnit, uit die Pretorianer se eie pen, is geïnspireer deur ’n bekende Bybelse verhaal. “Baiekeer het jy ’n ‘calling’ of ’n daad wat op jou hart druk, maar wat jy bang is om uit te voer… soms kies jy dan jou eie paadjie, ten spyte van dit wat God jou voor geroep het, en dan sluk die walvis van die lewe jou in. Die dag wat jy vrede maak met jou calling, kry jy ook vrede in jou hart,” verduidelik sy oor die betekenis agter die snit. “Jona se verhaal lê my juis na aan die hart, omdat dit nie maklik is om altyd jou roeping uit te leef nie, maar jy vind wel vrede in die wete dat jy besig is om die regte ding te doen.”

Robin Keilly was die vervaardiger van hierdie titelsnit – wat elemente van pop, alternatiewe- en tagtigs-musiek kombineer – en sal aanklank vind by ’n wye gehoor.

Hierdie splinternuwe snit word vrygestel met ’n unieke ‘performance’ musiekvideo. Dit is in Magoebaskloof verfilm deur Daniel Rademeyer en Jannes Erasmus van Fokkid Media en bevat hier en daar elemente wat na Jona in Die Bybel verwys.

“Soms het jy nie nodig om ’n konsep te oordink nie en wie weet, dalk sien jy ’n walvis in die water,” sê die sangeres. “Die lekkerste deel van die opname was om tyd te spandeer saam met ongelooflike mense wat my baie laat lag.”

Bernice het in Swartruggens grootgeword en is al van kleins af mal daaroor om te sing en te perform.

Haar musiekloopbaan het in 2019 amptelik afgeskop met haar deelname aan Emo Adams se program, Maak My Famous, en sy het nog net van krag-tot-krag gegaan.

Op die ouderdom van negentien het sy Suid-Afrika verteenwoordig deur die nasionale Volkslied te sing voor die toetswedstryd tussen die Springbokke en Argentinië.

Sedertdien het sy al ’n suksesvolle album, Net Geleen, en verskeie nommer een-trefferliedjies, waaronder Sonop-Blom (wat vir tien maande nommer 1 op Apple Music se ranglys was) en Die Hart, vrygestel. Haar musiekvideo’s is ook al meer as 14-miljoen keer gestroom op youtube.

Buiten vir talle Aitsa-musiektoekenningbenoemings, is Bernice ook die jongste Afrikaanse sanger wat nog ooit vir ’n SAMA genomineer is.

“Die feit dat ek deur Covid ’n loopbaan kon begin en vandag op die voorstoep van ’n tweede album kan staan, is ’n groot hoogtepunt. Dit is ’n voorreg om ’n musiekloopbaan te hê en soveel by die mense te leer wat dit ondersteun,” deel sy.

Bernice het ’n wye musieksmaak en sê Twenty One Pilots het die grootste invloed gehad op haar eie musiekstyl en dat sy nog graag eendag saam met plaaslike name soos Spoegwolf, Karen Zoid, Early B, Francois van Coke, Elandré, Tarryn Lamb en Die Heuwels Fantasties wil werk.

Sy het geleer om elke dag te vat soos dit kom. Tans is sy besig om nuwe musiek te skryf, opnames te doen vir haar tweede album en optredes te beplan. Sy is ook binnekort te sien Die Gelofte: ’n Musiekblyspel, wat vanaf 6 Mei by die afriforum Teater op die planke is.

Bernice wil graag mense se harte raak met haar musiek, en met JONA se rou aanslag en betekenisvolle lirieke gaan sy dit beslis regkry. 

Show's Stories