Roan Ash waardeer die klein dingetjies in die lewe met nuwe enkelsnit

Roan Ash waardeer die klein dingetjies in die lewe met nuwe enkelsnit

Roan Ash lyk maar net soos ’n doodgewone ou met ’n kitaar, maar wanneer jy hom vir die eerste keer hoor sing, laat hy jou letterlik in jou spore vassteek. 

Roan Ash waardeer die klein dingetjies in die lewe met nuwe enkelsnit

Daar is ’n hoendervleismooi opregtheid en strelende growwigheid in sy stem, wat jou uitnooi om verlore te raak in sy sielvolle lirieke en dadelik diep in jou hart inkruip.

 Met ’n ongelooflike talent soos syne, is dit glad nie vreemd dat dié veelsydige musikant reeds verskeie hoogtepunte in sy musiekloopbaan bereik het nie. Sy debuut-album (wat ook onlangs benoem is vir ’n SAMA-toekenning), 'Whiskey To My Soul', het nie net platinum-verkoopstatus bereik nie, maar ook twee groot treffers – 'Whiskey To My Soul' en 'If I Ever Saw Heaven'  – opgelewer waarvan die musiekvideos beide reeds meer as ’n miljoen trefslae op YouTube het. Albei hierdie snitte is ook gelys op Apple Music se A-list Country Playlist en tans spog hy ook met meer as 20-miljoen aanlyn-volgelinge wat sy musiek aflaai en geniet.

 Dit is dan juis ook die sukses wat hy aanlyn bereik het, wat hom laat besluit het om op 31 Mei 2019, net voordat hy Amerika toe vertrek om op 7 Junie by die CMA-fees in Nashville te gaan optree, ’n splinternuwe enkelsnit vry te stel en aanhangers kan nie wag nie!

'Little Things' sy nuutste vrystelling, is geskep met die hulp van Christoph Kotzé (Appel) en kan beskryf word as ’n weerlose akoestiese lied, met ’n treffende storie en boodskap, waarby luisteraars van alle ouderdomme sal aanklank vind. “Ek het een dag net besef dat ek so vasgevang is in die gejaag van die lewe en materialistiese goed, dat dit tyd was om rustiger te raak en op die dinge wat regtig saak maak,” verduidelik hy. “Die liedjie bevat ’n gedeelte van my persoonlike verhaal. Ek wou iets skep wat rou emosie vasvang en aanhangers daaraan kon herinner dat dit belangrik is om die klein dingetjies te waardeer wat ons baie keer miskyk.”

Sy derde enkelsnit volg in die voetspore van sy vorige suksesverhaal, If I Ever Saw Heaven,’n moderne Soul-verwerking met ’n Folk-aanslag. Hierdie ballade is geskryf in samewerking met Christoph Kotzé en gaan oor die uitdagings wat daar in ’n verhouding kan bestaan. Die treffer-musiekvideo van dié enkelsnit is in en rondom Pretoria en Witbank verfilm deur New Ending Media, met Edwin van der Walt en Ansu Visser in die hoofrolle.

 Roan Ash, ook bekend as Roan van As, woon tans in Pretoria en probeer konstant om iets aan te pak wat groter is as hyself. Sy familie is versot op musiek en dit was nog altyd vir hom ’n manier om te ontvlug. Hy het sy eerste kitaar gekry toe hy dertien geword het en speel sedert hy sewentien is in elke kroeg, restaurant en plek waar hy moontlik kan. Al sy harde werk het vrugte afgewerp en gelei tot ’n kontrak met Inhoud Huis Musiek, wat hy as een van die hoogtepunte van sy loopbaan uitlig. 

 Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek en sonder Jack Savoretti, John Mayer, Ed Sheeran, Bruce Springsteen en Chris Stapleton uit as van die grootste invloede op sy eie outentieke musiekstyl. “Ek was al gelukkig genoeg om saam met baie kreatiewe musikante en liedjieskrywers in Suid-Afrika te werk. Dit sal vir my ’n groot voorreg wees om in die toekoms saam met kunstenaars soos Matthew Mole, Vusi Mahlasela en Johnny Clegg musiek te maak,” deel die sanger.

 As jy hom vra waar hy die inspirasie vir sy lirieke vandaan kry, antwoord hy dat dit soms van persoonlike ervarings kom, maar dat enigiets sy verbeelding kan prikkel – van ’n boek of fliek tot ’n gesprek met ’n vreemdeling. Hy verklap ook dat hy passievol is oor fotografie en dat hy in sy vrye tyd daarvan hou om leerbeursies en –juwele te maak.

 Hy het nog baie drome en planne vir die toekoms en is tans besig om die wêreld plat te toer om sy naam plaaslik en internasionaal te vestig. Verder word daar ook ’n nuwe album vir die toekoms beplan en beloof om musiekliefhebbers in vervoering te hê. “Ons is nog in die proses om die album en titel te finaliseer, maar luisteraars kan beslis uitsien na ’n versameling van sielvolle musiek. My inspirasie was nog altyd om ’n boodskap te deel, want as kunstenaar het ek ’n storie om te vertel en dit groei soos wat die lewe aanstap en ek nuwe dinge ervaar,” verklap Roan oor die komende album.

 Die musiekbedryf het hom geleer om te veg vir dit waarin hy glo. Hy wil graag hê dat sy musiek eerlik moet wees en mense se harte moet raak. Met 'Little Things oortref Roan Ash nie net hierdie doelwit nie, maar bou hy ook voort op ’n suksesvolle loopbaan wat nog baie hoogtepunte gaan oplewer.

Show's Stories