Robbie Wessels bederf aanhangers met nuwe album

Robbie Wessels bederf aanhangers met nuwe album

Met ’n splinternuwe album, 'Die Sluise van die Hemel', slaag Robbie Wessels weereens daarin om aanhangers te laat glimlag met sy humoristiese aanslag en voed hy ook die dieper denkers met liedjies wat elkeen ’n storie vertel.

Robbie Wessels
Verskaf

Dié album bevat 12 enkelsnitte, elkeen vanuit Robbie se eie pen, wat aanhangers oor en oor sal wil luister. Drie van dié liedjies spog reeds met musiekvideo’s wat altesaam bykans 10 miljoen kere op YouTube geniet is – weereens net ’n bewys dat Robbie sy aanhangers se behoeftes verstaan en elke keer in die kol is wanneer hy ’n liedjie of musiekvideo vrystel.

Die titelsnit, 'Die Sluise van die Hemel', wat net op die fisiese album ingesluit sal wees, is ’n duet met Bok van Blerk wat te midde van die verskriklike droogtes in die Kaap vrygestel was. Robbie het toe reeds vertel dat die Kaap hom na aan die hart lê. Dié liedjie is tydens die Ghoema Musiektoekennings in 2019 bekroon as die Mees Afgelaaide Liedjie van die Jaar asook die Mees Gestroomde Liedjie van die Jaar. 

“Dié liedjie is van Bo gestuur want die woorde het net gevloei,” het hy van dié treffer - wat ook na die emosies deur ’n seer en rou tydperk in ’n mens se lewe kan verwys - gesê. Dié liedjie is ook gepas vir die krisis waarin Suid-Afrika nou gedompel is. Die musiekvideo spog met meer as 5 miljoen kyke op YouTube. Om die video te kyk, klik hier

Die Engelse liedjie, 'Bobjan', wat ook al 2,5 miljoen kyke op YouTube opgelewer het, is ook ingesluit op dié album en vertel die snaakse storie van die klein seuntjie wat deur ’n bobbejaan ontvoer is, maar tog aan die einde weer terugkeer na sy eie omgewing. Geniet dit hier

'Khoi and Son' se musiekvideo is onlangs vrygestel en spog met reeds met meer as ’n halfmiljoen kyke. Vind die musiekvideo hier

Die liedjies 'Dans' en 'Fordliedjie' skop die album af as lekker oorkruipers wat jy sommer kliphard sal wil luister, terwyl die 'Spurliedjie' Suid-Afrikaners nou tydens inperking nostalgies - en hongerig - sal laat terugdink aan die lekkerte van kuiertjies by dié gewilde familierestaurant. 

'Die Digter', J'ou Gedig' en 'Die Teenwoordigheid van Drie' gaan jou na ’n dieper vlak wegrokkel waar jy Robbie op sy beste gaan geniet.  

Hierdie album mag dalk nog bestempel word as een van sy bestes nóg en aanhangers gaan beslis bederf word met hierdie nuwe liedjies en boodskappe soos net Robbie dit kan oordra.  

Robbie se vorige album, 'Staan Saam', is in 2019 uitgereik vir die Rugby Wêreldbeker. 'Die Sluise van die Hemel' is Robbie se negende album na hy in 2005 sy eerste album, 'My Vissermanvriend se Pa', vrygestel het. 

'Die Sluise van die Hemel' album is nou op digitale platforms, insluitend iTunes, Apple Music en Spotify beskikbaar.

 

Show's Stories