Bouwer Bosch stel nuwe enkelsnit bekend

Bouwer Bosch stel nuwe enkelsnit bekend

Afrikaanse sanger, akteur en komediant Bouwer Bosch se musiekvideo van sy nuutste enkelsnit Hopelik is bekend gestel.

Bouwer Bosch & Leandie du Randt
Instagram

Sedert Bosch in 2006 sy amptelike aankoms in die vermaaklikheidsindustrie luidkeels aangekondig het as hoofsanger van die groep Straatligkinders, bereik hy sedertdien aaneenlopend nuwe hoogtes in sy loopbaan. 


In 2011 vat sy talent behoorlik vlam en reik hy sy eerste solo-album Almal Maak Voute (sic) uit, en maak ook naam as akteur in films soos Klein Karoo, Mooi Rivier, Strikdas, Pad na jou Hart en Trouvoete.


Hy bewys homself ook as rolprentmaker met Vuil Wasgoed wat die toekenning vir Beste Kort Film by die 2015 kykNET Silwerskermfees wen – ’n rolprent wat deur Bouwer Bosch Films vervaardig is en waarvan hy en Bennie Fourie die skryf en regie behartig het. Hul vertolk ook rolle in Vuil Wasgoed. 



In 2015, nader die vervaardigers van die rolprent Die Pro hom om die temalied vir hierdie gewilde film te skryf en gevolglik sing hy hierdie lied, Vlug, op die klankbaan. 


Bosch is tans besig met die verfilming van Deon Meyer se jongte rolprent, Jagveld. 


Hy is egter in sy noppies om ook op sy musiekloopbaan te konsentreer.   


Volgens hom handel Hopelik oor weerloosheid. “In ’n verhouding, in my geval my huwelik, is groei van belang. Om weerloos te wees is belangrik vir jouself en die verhouding. 


“Maar eerlikheid maak seer en is een van die moeilikste dinge in 'n verhouding. Om jou hart altyd op jou mou te dra, is moeiliker as wat 'n mens dink. Hopelik is 'n lied wat my uitdaag om meer weerloos te wees binne my eie huwelik en my verhouding met die mense om my.” 


- Persverklaring

Show's Stories