10 moet-weet dinge van 'Die Real Housewives van die Wynlande' reünie

10 moet-weet dinge van 'Die Real Housewives van die Wynlande' reünie

Die eerste reünie-episode het geen tekort aan drama gehad nie en die Bolandse huisvroue het oudergewoonte nie geskroom om 'n ding by die naam te noem nie.

Amy Kleinhans
Verskaf/ kykNET

Ons het die afgelope tyd die ses huisvroue – Amy Kleinhans-Curd, Mariska Thorpe, Karen Schwentke, Candice Bester, Michelle van Zyl en Anita Lloyd - beter leer ken en hulle het dwarsoor die land tonge laat klap en wenkbroue gelig. Maar die beste het hulle vir laaste gehou.

Hier is 10 dinge uit die eerste reünie-episode wat ons nie gou sal vergeet nie:

Wat beteken dit nou eintlik om 'n huisvrou van die Wynlande te wees? 

Die vroue voel elkeen van hulle is inderdaad in murg en been ware huisvroue van die Wynlande, want soos Michelle dit definieer: "Dis iemand wat hier bly, hulle kinders hier grootmaak of hulle families hier sien. En 'n huisvrou is nie iemand wat heeltyd kook en skoonmaak nie, maar iemand wat al daardie dinge doen en nog steeds werk." Mariska het bygevoeg dat sy self besluit oor of sy 'n "huisvrou van die Wynlande" is en nie wag vir ander se toestemming of stempel van goedkeuring nie.

Anita vloek regtig nie so baie nie – veral nie met familie en vriendinne nie

"Ek dink dit het heeltemal handuit geruk en ek vra vreeslik om verskoning daarvoor. Maar as iemand voor my gaan inry of as dit regtig 'n lekker tjoppie is, gaan ek sê "hierdie is 'n f*kken lekker tjoppie," het sy gegrap en almal laat skaterlag. Michelle meen mense se reaksies het duidelik gewys dat daar beslis dubbele standaarde oor taalgebruik vir vroue en mans in die openbare oog is.

Die huisvroue praat oor die mediadekking

Anita sê sy het regtig nie verwag dat "ons mense en ons koerante" sulke opskrifte en stories oor hulle sou skryf nie.

Die huisvroue het op sosiale media deurgeloop

Die aanvalle op Anita se man, Boyce, en Mariska se dogter (Ocean) is uitgelig as van die giftigste aanvalle wat op sosiale media geloods is. "Om mense persoonlik aan te val is die laagste vlak van intelligensie," het 'n verontwaardigde Mariska gesê.

Karen se afwesigheid was 'n teer punt

Al die vroue wou baie graag met Karen oor die Hoedspruit-wegbreeknaweek gesels. Anita reken Karen het as gasvrou alles "opgedinges". Michelle voel ook Karen se gedrag het bygedra tot die ongemaklikheid aan tafel op die laaste aand. Karen het oorreageer en dit toe op Mariska blameer wat volgens haar "aspris" was en haar probeer "tart" het. Mariska voel Karen het haar vanaf dag een probeer afbreek. "Sy het my persoonlikheid, my lag, my lyf, my intelligensie gekritiseer," sê sy vir die res van die groep.

Karen het drie ligte beroertes gehad

Anita sê sy moes eenvoudig vir Karen reguit vra hoekom haar tong so gesleep het tydens Amy se wynproe-aand. "Ek het drie ligte beroertes gehad. Ek is so gelukkig, so dankbaar vir die Here daarbo dat daar niks fout gegaan het met my kop of iets nie, maar die linkerkant van my gesig is geaffekteer," het Karen toe ietwat tranerig verduidelik.

Wanneer is dit "skinder" en wanneer nie? 

Amy erken sy kan baie lag en almal beaam dit luidkeels: "We know!" Anita voel Amy het haar onder die bus gegooi toe sy vir Mariska ná die spa-dag by Spier gebel het om haar te vertel wat Anita gesê het. "Ek het nie minder of meer gesê as wat jy gesê het nie. Ek dink nie ek het geskinder nie. Skinder is anders," het Amy ter verdediging gesê. Anita herinner haar toe dat sy in haar videodagboekkamera genoem het iemand wat skinder, is "oningelig". “Daar vang jy my uit,” moes Amy giggelend erken.

Candice het die meeste lewensveranderende besluite tydens die reeks geneem

Sy het haar werk gelos, besluit om saam met haar man die De Vier-restaurant in Stellenbosch oop te maak en haar heel eerste enkelsnit tydens die reeks vervaardig. Daarmee saam het sy ook baie seer oor haar ses miskrame verwerk. "Ek het aan die einde genuine vrede in my hart gehad," het sy aan Armand gesê.

Die "wywe van die wynlande" reageer op Michelle se Rapport-artikel

Mariska en Amy voel Michelle het dit in haar profielartikel met Hanlie Retief laat klink asof die ander huisvroue nie op haar vlak is nie en geïnsinueer dat hulle nie simpatie met haar gehad het nie. Michelle het dit onmiddellik ontken en gesê sy het eintlik baie min oor die vroue in die artikel gepraat. "Dit was maar my kant van die saak, want onthou, ek moes baie verduidelik oor wat by die Casino Royale-aand gebeur het."

'n Spesiale gas verras die vroue in die tweede reünie-episode

Die episode eindig met die huisvroue wat in groot afwagting wonder wie hulle gaan kom verras. Mariska dink dis Michelle se man of Karen. Candice dink ook dis Karen, en Anita reken dis of "Angelina Jolie of dis Karen". Is hulle reg of verkeerd? Volgende week vind ons saam met hulle uit.

'Die Real Housewives van die Wynlande' se tweede reünie-episode wys Donderdag 20 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die volledige reeks vanaf episode 1 is op DStv Catch Up beskikbaar.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories