Dis trou-tyd in 'Arendsvlei!' 5 goed wat jy móét weet

Dis trou-tyd in 'Arendsvlei!' 5 goed wat jy móét weet

Die tyd het aangebreek vir 'Arendsvlei' se eerste troue – en kom ons noem dit sommer die troue van die jaar, want ons gaan groot! Van ’n sang-item van een van die akteurs tot ’n ongenooide, oftewel genooide gas.

Arendsvlei-troue

Hier’s vyf goed wat jy moet weet:

Lee-Roy Foster sing vir sy ma

Die SAFTA-bekroonde akteur Roberto Kyle het in ’n dag se tyd die liedjie genaamd Nuwe pad vir sy TV-ma, Ronel Foster (Melanie du Bois), geskryf. “Ek was net te opgewonde. Die liedjie praat basies oor hoe mense deur moeilike tye soms die beste tye van jou lewe kan vind, ’n pad kan vind met nuwe mense,” vertel Kyle. Kyle het vir vyf jaar musikale opleiding by die Frank Pietersen Music Centre in Paarl gehad. “Honestly, ek het dit uit my hart uit gedoen, en ek was net bly om weer te kan sing,” sê hy.

Arendsvlei-troue
Verskaf

'n Ongenooide gas maak sy verskyning

Soos kykers weet wil Ronel glad nie hê haar pa, Godfrey Martin (Chris van Niekerk), moet by haar troue wees nie, maar haar aanstaande Thys Cupido (Sherman Pharo) vat nie nee vir ’n antwoord nie. Hy nooi toe vir Godfrey na die troue agter Ronel se rug. En natuurlik het Ronel nie op haar mond geval nie! Net voor die troue laat weet sy vir Godfrey dat hy nie sy voete by haar troue moet sit nie. Chris sê dit was lekker om weer met Melanie te werk. “Ek en Melanie het mekaar om die hals geval en dit was asof niks verander het van destyds by '7de Laan' nie. Dit was heerlik gewees om weer saam met haar te werk. En ook moet ek sê met die res van die werklik professionele span mense by Arendsvlei,” vertel Chris.

Die trourok

Ronel se trourok is verskaf deur Valencia Harrison. Die plaaslike ontwerper sê sy voel baie geëerd dat een van haar rokke nou op die TV te sien sal wees. En Melanie sê sy het absoluut beeldskoon gevoel in die rok. “Melanie is gewoonlik ’n jeans en Crocs-tipe vrou en Valencia se rok het my vroulik, sag en pragtig laat voel,” vertel Melanie.

Die venue

Dit mag dalk lyk asof die troue by ’n deftige hotel gehou is, maar Arendsvlei se hoof van kunsdepartement, Beatrix van Zyl-Basson, het alles gedoen by die tegniese skool Axios in Eeersterivier, waar die telenovelle geskiet word. Die leerders van die skool het ook gehelp met die dekor van die skoolsaal en die kapel waar die troue plaasgevind het. Beatrix het onlangs ’n SAFTA gewen vir haar werk by Arendsvlei.

Arendsvlei-troue
Verskaf

Wat gebeur nou met Beatrice?

Soos kykers weet moes 'Arendsvlei' ’n dubbel-troue gehad het, maar Hamilton Wolfe (Kevin Smith) het vir Beatrice Abrahams (Jolene Martin) ’n dag voor hul troue gelos. Hy gaan saam met sy eksvrou, Olivia Wolfe (Kim Cloete), na Johannesburg. En nou moet arme Beatrice kyk hoe haar broer en beste vriendin trou aan mekaar beloof terwyl sy met ’n gebroke hart sit. Maar kykers hoef nie bekommerd te wees nie, Beatrice kom mos altyd terug met ’n bang!

Arendsvlei-troue
Verskaf

 'Arendsvlei' is van Maandae tot Woensdae om 20:00 op DStv kanaal 145 te sien. Moenie vergeet om in te skakel nie!

Show's Stories