Drie nuwe gesigte bring stormsterk-drama na 'Suidooster'

Drie nuwe gesigte bring stormsterk-drama na 'Suidooster'

Ná 'n dramatiese winter in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie 'Suidooster 'afspeel, blyk dit dat daar ’n hele paar onverwagte kinkels en verrassings op kykers wag. 

Suidooster
Instagram/ Suidooster

In die komende weke gaan drie nuwe karakters, wat 'n onvoorspelbare dinamika bring, hul verskyning in 'Suidooster' maak, sê die sepie se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller.  

"Die afgelope weke moes kykers toekyk hoe 'Ty' (Maurice Paige) en 'Lee-Ann' (Portia Joel) se huwelik getoets word, maar binnekort gaan daar meer ernstige krake begin wys," sê hy. 

 "'n Baie sjarmante eks van 'Lee-Ann' kom maak 'n onverwagte draai in Ruiterbosch en dit voorspel net moeilikheid, want dit mag dalk net 'n kwessie wees van 'ou liefde roes nooit nie'"

 'Alex' word deur Duane Williams, wat ook in die kykNET-dramareeks 'Fraksie' te sien was, vertolk.  

Nóg ’n bekende vir kykNET-kykers wat sy 'Suidooster'-debuut maak, is die voormalige 'Arendsvlei'-akteur Craig Adriaanse wat as 'Gary Booysen', Aiden (Theodore Jantjies) se broer, te sien gaan wees. 

Volgens Craig, is dit vir hom 'n loopbaan-hoogtepunt om in 'Suidooster' te wees.  

"Suidooster as produksie is ongelooflik goed georganiseerd, en dit is een van die beste stelle waar ek al gewerk het die span werk verskriklik hard om alles vlot te laat verloop. Die akteurs is ook lekker mense en geniet wat hulle doen, wat ook 'n aangename atmosfeer skep". 

Craig sê sy karakter kom Ruiterbosch toe met die hoop om sy plek in die lewe te vind, maar dat die 23-jarige 'Gary' 'n Gen-Z is wat allerhande maniere soek om maklik geld te maak. 

"Hy is nie 'n slegte persoon nie, maar hy dink nie altyd voor hy iets doen of aanpak nie. En dade het natuurlik gevolge…"

'Suidooster' verwelkom ook later in Oktober vir Zandelle Meyer, wat vroeër vanjaar vir die eerste keer haar sepieskoene vir 'n rol in 'Binnelanders' aangetrek het.  Sy vertolk die rol van 'Veroné Momberg', 'n familielid van 'Elana' (Esther van Waltsleben), en is ’n Namibsrosie van Mariental, Namibië.  

Zandelle beskryf haar karakter as 'n plat op die aarde, onskuldige en goedopgevoede plaasmeisie. 

"Veroné staan op trou met haar skoolliefde, wat een van die boere op die dorp is, en sy kom Kaap toe vir haar troureëlings. Maar met haar eerste intrapslag oorweldig die stadslewe en vinnige pas haar," sê sy.

"Elana neem haar onder haar vlerk terwyl sy haar trougoedjies kan afhandel, maar haar tydjie in Ruiterbosch word so effens verleng wanneer haar en 'Justin' (Eden Classens) se paaie kruis…"

'Suidooster' word Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uitgesaai en is ook op DStv Catch Up beskikbaar. 

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories