Huis Lelieveld: kykNET se splinternuwe komedie!

Huis Lelieveld: kykNET se splinternuwe komedie!

Welkom by Huis Lelieveld! kykNET spog met 'n splinternuwe komedie in Oktober!

Huis Lelieveld kykNET
Supplied

Molly (Lizz Meiring) van Molly en Wors en Ouboet en Wors het haar werk as tandartsassistent verruil vir dié van matrone! In Willie Esterhuizen se nuutste komedie, Huis Lelieveld, kry Molly werk as matrone van die aftreeoord Huis Lelieveld, en kan kykers uitsien om ‘n paar ou gunstelinge, sowel as nuwe gesigte te sien.

In die laaste episode van Ouboet en Wors, is Molly ingelig dat Dr Proctor emigreer en is sy werkloos gelaat. Sy het egter nie in sak en as gaan sit nie en só eindig sy op by Huis Lelieveld as matrone. “Molly is soos onkruid - orals, ongelooflik sterk en ‘n kanniedood,” meen Lizz Meiring oor dié geliefde karakter wat sy vertolk. Molly se man, Wors (Willie Esterhuizen), kom loer gereeld in om te hoor hoe dit met sy dierbare vrou gaan en watter van die personeel of inwoners haar lewe moeilik maak.

Gielie (Wynand van Vollenstee), wie kykers in Ouboet en Wors as Wors se goedgelowige nutsman en drywer leer ken het, kry ook werk by die aftreeoord, want hy het ‘n baie sagte hart - veral as dit by die oumensies kom.

‘n Groot bederf wat vir kykers voorlê, is Hélène Truter wat terugkeer as Tannie Poppie, een van die inwoners van Huis Lelieveld. “Poppie weet álles. En sy deel dit direk met die kyker. Eintlik skinder sy net. Skaamteloos. Ek's mal oor haar want sy's nie bang om haar opinie te lug nie,” sê Hélène.

Die inwoners van Huis Lelieveld sluit in Fleur Pot (Elma Potgieter), Gielie se ma, Martha Goosen (Karin van der Laagt), Brand Louw (Cobus Visser) en Blaartjie Louw (Yvonne Schoeman). Van ‘n hupse afgetredene en ‘n snob sonder geld tot ‘n bakster en klaagster – dié spul inwoners is die spreekwoordelike ‘oud, maar nog nie koud’.

Daarmee saam gaan kykers ook die Huis Lelieveld-personeel goed leer ken. Dominee Dou Droel (Matt Stern), wat onder sensuur geplaas vanweë sy swakpunt vir vrouens is, Spanner Proes (Reginald Hufkie), die kleurryke faktotum wat ‘n interessante lewe buite die oord het, en Koekie de Kok (Lara Lourens), Ds Droel se assistent en deeltydse paaldanseres, gaan sorg vir hope pret.

Willie Esterhuizen is weer die skrywer en vervaardiger van die reeks. “In die reeks sal julle sien dat oumense is maar net jongmense, in ouer lywe, en nog net so vol streke en dinge. Vir ons almal in die produksie is dit ‘n fees om saam met akteurs met soveel ondervinding te werk. Wat ‘n voorreg!”

Huis Lelieveld word vanaf Woensdag 30 Oktober om 20:30 op kykNET DStv kanaal 144 uitgesaai.

Show's Stories