'Kokkedoor Vuur & Vlam': Hier is die deelnemers!

'Kokkedoor Vuur & Vlam': Hier is die deelnemers!

Wat het 'n predikant, hondeteler, geoktrooieerde rekenmeester en voormalige lugwaardin in gemeen? Dit is van die beroepe van die koswerklikheidsreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' se 20 deelnemers, wat van regoor Suid-Afrika van plekke soos Aggeneys, Cradock Oudtshoorn, Wellington, Stilbaai en Malmesbury kom.

Bertus Basson
Verskaf/ kykNET

Dié reeks, wat in die gewilde Overbergse stranddorp Struisbaai verfilm is, begin Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET in plek van 'Die Real Housewives van die Wynlande'.

Kykers het in 2013 vir die eerste keer aan die 'Kokkedoor'-tafel kom sit en oor die jare het nog familielede van die reeks ('Koekedoor', 'Kokkedoortjie' en 'Koekedoortjie') geurryke vermaak verskaf. 

Vir 'Kokkedoor Vuur & Vlam' gaan deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, terwyl die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha, op soek is na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier.

'n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos. Hulle word gekies vir hul vernuf as 'n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies en/of hul ondervinding in 'n erkende restaurant of professionele kombuis.

Talle kos- of produkspesialiste, asook 'n bekende persoonlikheid of twee, maak verskynings in die reeks, terwyl die bekroonde kosskrywer en EAT OUT-beoordelaar Herman Lensing en kosfoendi Errieda du Toit deel is van 'Kokkedoor Vuur & Vlam' se vervaardigingspan.

ONTHOUBRAAIERS

1. Anel Marais (51), Aggeneys

Anel is gebore en getoë in die Noord-Kaap en sy ken haar pad rondom kos. Sy is 'n trotse ouma en 'n raakvatter wat haar MPhil in gemeenskapsontwikkeling verwerf het. Anel het skooltyd reeds in ’n slaghuis gewerk. Sy doen deesdae spyseniering.

2. Bertus Fourie (49), Wellington

Bertus is ’n bobaas-braaier en sy vuur-vaardighede het vir hom 'n plek in 'Ultimate Braaimaster' se finaal losgeslaan. Hy is ’n wynmaker wat ook gourmet braai-spyseniering doen vir alles van intieme en spoggerige verjaarsdagpartytjies tot groot korporatiewe geleenthede met 900 gaste.

3. Francois de Wet (51), Struisbaai

Francois beskryf homself as 'n local van Struisbaai wat die seewaters en braaivleisvuur ewe goed ken. Hy vervaardig selfs sy eie braaitoerusting. Francois is 'n uitgesproke man met sterk opinies, en alhoewel hy 50% gehoorverlies het, hou dit hom nie terug om voluit te leef nie.

4. Jan Grobbelaar (37), Cradock

Jan is vanaf 2017 'n dominee by die NG Kerk op Cradock en hy behoort aan die afvalgilde. Buiten dat hy 'n passievolle braaier is, het hy ook redelike kennis in vleisverwerking. 

5. Joubert Spies (38), Pretoria

Joubert is 'n geoktrooieerde rekenmeester van Pretoria en 'n man met 'n groot liefde vir jag en die buitelewe. Hy pak vleisverwerking en braai met selfvertroue en verskillende tegnieke aan. Hy het saam met sy niggie Lara van der Merwe, ook een van die onthokokke, ingeskryf. 

6. Karen Els (46), Malmesbury

Dié Swartlander is 'n voormalige lugwaardin wat lank reeds droom om aan 'Kokkedoor' deel te neem. Hierdie is vir haar 'n ervaring wat sy vir haarself aanpak – sy het in 2013 aan

'MasterChef' deelgeneem en moes daarna stormwaters in haar persoonlike lewe trotseer.

7. Lara van der Merwe (23), Durbanville

Lara het 'n graad in BSc Voedselwetenskap. Haar braai-ervaring is redelik beperk, maar 'Kokkedoor' is vir haar 'n kans om haar vaardighede en kwalifikasie te beproef en te bewys.

8. Nate Smith (48), Durbanville

Nate is die mede-eienaar van DNA Café in Kuilsrivier wat een van die eetplekke was wat in die tweede seisoen van kykNET se 'In Die Sop'-reeks oorgedoen is. Die DNA staan vir Duke, Nate en Adele (Nate se vrou). Duke is intussen oorlede en die restaurant is sy nalatenskap aan Nate en Adele.

9. Nicole Buirman (35), Robertson

Nicole is 'n ma van twee seuns en sy en haar man teel met honde. Haar braaivernuf het gemaak dat sy die 'Ultimate Braaimaster' se top-10 gehaal het. Tussendeur het sy ook al verskeie potjiekos-kompetisies gewen. 

10. Rodney Gelant (47), Oudtshoorn

Rodney is 'n spysenier in Oudtshoorn met ’n voorliefde vir tradisionele geregte en ou gunstelinge. Hy het 'n tweede plek behaal in 'Kookpunt' op VIA. 

KINKELBRAAIERS

1. Ashley Dokter (34), Mosselbaai

Ashley het in Murraysburg, 'n klein dorpie in die Karoo, grootgeword. Tien jaar nadat hy sy gasvryheidstudies voltooi het, het hy by ’n gesogte natuurplaas beland. Dit is die vyfde keer wat hy inskryf vir 'Kokkedoor'. 

 2. Borries Bornman (46), Alberton 

Die Gautenger het by die Wits Hotelskool studeer waarna hy deur die braai en BBQ-kookstyl oorrompel is. Nie net het hy die sesde seisoen van 'Ultimate Braaimaster' gewen nie – maar hy lei ook BBQ-toere na Amerika.

3. Braam Potgieter (25), Paarl

Braam het as kind sy tande geslyp vir 'n lekker steak in sy pa se Spur op Ladysmith in KwaZulu-Natal. Na sy studies het hy werk-ervaring opgedoen by sommige van die Kaap se voorste restaurante soos Le Coin en Grande Roche. Hy het in 2021 die tweede plek behaal in One and Only se Young Star Chef of the Year-kompetisie.  

4. Cindy Menigo (38), Wellington

Cindy waag weer haar tweede kans nadat sy vroeg uitgeval het in 'Kokkedoor 2'. Sy kombineer haar gevorderde diploma in koskuns en City & Guilds-diploma in fyngebak met haar sjef-ervaring as 'n lektor.  

5. Gert Joubert (31), Jeffreysbaai

Gerhard het sy eie restaurant in Gqeberha, Fine Time Steakhouse Co., gehad en dit was aangewys as die beste steakhouse in die Baai. Dit was 'n geweldige terugslag vir Gerhard en sy gesin toe hulle noodgedwonge die restaurant se deure in 2021 moes sluit.  Hy werk nou by die Addo Country Estate. 

6. Kevin Reed (24), Brackenfell

Kevin is ’n gewese landbouskool-leerder, rugbyspeler en talentvolle sjef wat al op ’n jong ouderdom wys hy is 'n uitblinker. Op 24 het hy reeds sy sjef-kwalifikasie verwerf en is hy ook ’n mede-aanbieder van die kosprogram 'Spyskaart' op SABC2. Kevin het 'Sjefhuis' op VIA gewen.

7. Lara van Heerden (25), Bellville

Lara het aanvanklik BSc Mikrobiologie studeer, maar na twee jaar besluit om eerder haar droom van sjef-wees na te jaag. Vandag leef sy die droom by JAN Innovation Studio in Kaapstad waar sy met geure speel om iets nuut te skep.  Sy is gekroon as die wenner van 'Kookpunt' en sy het ook die derde plek behaal in 'Sjefhuis' op VIA.

8. Mandre Campher (22), Loevenstein

Sy spoggerige résumé is gevul met internskappe by JAN, La Colombe en die Leeu Collection. Hy was boonop ook die wenner van 'Kookpunt', 'n finalis in 'Sjefhuis' (beide op VIA) en onder die top-3 van One and Only se Reaching for Young Stars-kompetisie. 

9. Natalie Erasmus (26), Kaapstad

Natalie is 'n opgeleide fyngebak-sjef en ook sy ontwerp ook juweliersware. Sy het al by die Queen Victoria Hotel asook by Fyn, een van die top restaurante ter wêreld, gewerk. Sy het ook al kennisgemaak met die wêreld van TV-kook-kompetisies as 'n deelnemer op 'Sjefhuis' en 'Kookpunt' op VIA.

10. Tjaart Prinsloo (27), Stilbaai

Tjaart is 'n boerbok-boer, koffiewinkel-eienaar en kreatiewe kok van Stilbaai. Hy is opgelei as 'n sjef by die befaamde Institute of Cullinary Arts in Stellenbosch en het al onder kosmentors soos Herman Lensing, Darren Badenhorst en Bertus Basson gewerk. 

'Kokkedoor Vuur & Vlam' begin op Donderdag 27 Julie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories