Molly & Wors - Die Movie

Molly & Wors - Die Movie

Dis die fliek waarvoor aanhangers lank gewag het - die immergewilde Molly en Wors op die silwerdoek!

Untitled_3.png
Dis die fliek waarvoor aanhangers lank gewag het - die immergewilde Molly en Wors op die silwerdoek!
 
Willie Esterhuizen en Lizz Meiring is te sien as die geliefde karakters in Willie en Pieter Esterhuizen se nuwe Afrikaanse komedie "Molly & Wors - Die Movie". 
 
Wors is die afgelope 26 jaar 'n lojale man vir Molly. Hy is ook pa van twee. Daar is sy seun Vaatjie (Gerhard Odendaal), wat moes trou met sy swanger meisie Shardonay (Cherie van der Merwe), en sy dogter Blapsie (Carien Botha) wat op die punt staan om verloof te raak aan haar kêrel Hardus (Albert de Villiers). 
 
Wors werk by F1 Fitment Centre in Johannesburg en staan 'n kans om die Verkoopsman van die Jaar-toekenning te wen. 
 
Dis nie die eerste keer wat hy die kans staan nie, maar hy het nog nooit die groot prys gewen nie. 
 
 
Molly het haar bedenkinge oor Wors se kans om te wen en sy ma, Ella (Marga van Rooy), gaan net na die funksie omdat daar gratis kos en drank is. Sy is seker hy gaan nie wen nie. Volgens haar is Wors altyd die strooimeisie, nooit die bruid nie. 
 
Wors wen 'n reis na Amsterdam. Daar wag allerlei sports op hom, maar hy is salig onbewus van alles wat tuis in Suid-Afrika aan die kook is. . . Gaan sy en Molly se huwelik dit kan oorleef? 
 
 
Molly &Wors - Die Movie is 'n skreeusnaakse komedie wat gemik is op die Afrikaanse mark. Dit is kontemporêr en 'n ware blik op Suid-Afrika ná 2010 se Wêreldbekertoernooi. 
 
Die fliek het 'n skitter-rolverdeling. Van die ander akteurs wat te sien is, is Karin van der Laag, Alvin Bruinders, Ben Kruger, Liane Heyl, Sulette Minnaar, Hugh Mazibenza, Jai Prakash en Karen Wessels.  
 
Van die hoogtepunte in die fliek is in en om Amsterdam geskiet, met die res van die verfilming wat in Oos-Londen, Kemptonpark en Johannesburg plaasgevind het. Laaste maar nie die minste nie, is daar ook tonele in Long Beach, Kalifornië geskiet. 
 
Molly & Wors - Die Movie is 'n onpretensieuse rolprent propvol pret en plesier en beloof om van begin tot einde te vermaak. 
Willie en sy broer Pieter Esterhuizen is die regisseurs en vervaardigers.
 
Die rolprent word 27 September 2013 vrygestel. 
 

Show's Stories