Die gewilde reeks Getroud met rugby gaan eersdaags as ’n sepie te sien wees met sleutelkarakters wat steeds deel uitmaak an die storielyne.

Nuwe sepie, Getroud met Rugby begin vanaand

Die gewilde reeks Getroud met rugby gaan eersdaags as ’n sepie te sien wees met sleutelkarakters wat steeds deel uitmaak an die storielyne.

Getroud Met Rugby

Daar heers groot afwagting en dit gons oor die nuwe sepie wat op die 4de April jou kassie tref, met nuwe spelers wat sal sorg vir nuwe intriges en drama.



Ontmoet die karakters:


1. Fafa – vertolk deur Altus Theart


Fafa is ’n voormalige rugbyspeler – die David Beckham van Suid-Afrika. Hy is geliefd deur ondersteuners en was voorheen die hartebreker van Suid-Afrikaanse rugby. Oorspronklik ’n onverantwoordelike “stout seun” en rokjagter, maar nou gelouter deur die storms van die lewe. Sy verhoudings met sy twee voormalige vroue, Kiki en Iva, sowel as Schalk se mentorskap het gesonde waardes en ’n positiewe gesindheid by hom gekweek. Sy passie vir rugby en die Stryders is net so belangrik vir hom as die behoefte aan sy eie sukses en oorlewing.

2. Schalk – vertolk deur Johan Scholtz


Schalk is ’n man met integriteit en streng morele waardes. Hy tree as afrigter én mentor vir sy spelers op. Rugby is sy grootste passie en hy glo daarin om ook in die professionele era steeds vir die liefde van die spel te speel. Schalk bly ’n romantikus en hy skroom nie om sy gevoelens vir die vrou in sy lewe uit te druk nie.




3. Laetitia – vertolk deur Franci Swanepoel


Laetitia het ’n onversadigbare behoefte aan sukses en sy sal enige iets doen vir finansiële gewin en mag. Sy is ’n briljante sakevrou en weet presies hoe om te manipuleer, intimideer en flankeer om die mag waarna sy smag te behou. Liefde, integriteit, tradisie en emosies is vir haar ’n teken van swakheid.




4. Koekie – vertolk deur Rina Nienaber


Koekie is agterlik, maar streef na ’n beter lewe. Materiële dinge is vir haar belangrik. Sy strewe na selfverbetering, al weet sy nie noodwendig waarna sy presies mik nie. Sy is baie lief vir haar man, Festus, en baie lojaal teenoor hom. Sy gee ook baie vir Bella om, maar sy beskik nie oor die noodsaaklike sin vir verantwoordelikheid om haar werklik goeie sorg te gee nie.




5. Festus – vertolk deur Louis van Niekerk


Festus is baie lief vir sy vrou en sal enigiets vir haar doen. Sy is die rede vir sy bestaan. Festus probeer baie hard om vroom te wees, maar dis eenvoudig nie in sy wese nie. Hy is ’n tang gebore en getoë en sal dit altyd bly. Festus is naïef in die sin dat hy hom maklik laat ompraat in enige skelmstreek in. Hy het tog ’n gewete en voel sleg as hy mense inloop, maar hy is geldgierig en dink nie altyd oor die gevolge van sy dade na nie.




6. Iva – vertolk deur Nadia Beukes


Iva is ’n onafhanklike, sterk vrou wat uitblink in haar beroep as sielkundige. Sy is ’n opregte, eerlike mens wat omgee vir ander en hul belange dikwels bo haar eie stel. Sy is intelligent en geneig om alles te analiseer. Sy help ander om hul gevoelens te deel, maar, as introvert, steek sy dikwels haar eie emosies weg.




7. Gerald – vertolk deur David Clatworthy


Gerald Richter is ’n meedoënlose sakeman. Hy sal nie toelaat dat enige iets hom of sy planne stuit nie. Hy is magtig en ryk en sal alles doen om hierdie twee dinge te behou en uit te bou. Gerald is koud en berekenend. Hy kyk neer op enige emosies en maak nie ’n geheim daarvan nie. Hy is dominerend en toon geen liefde teenoor sy dogter nie. Hy is nie maklik beïndruk nie en sien geen nut in betekenisvolle persoonlike verhoudings nie.




8. Maryke – vertolk deur Marijke van der Westhuizen


Maryke is passievol en werk hard om die pompoms se sukses te verseker. Sy is bewus van haar eie voorkoms en vind mag daarin. Maryke weet alles van popkultuur en put inspirasie uit die glansryke lewens van beroemdes. Sy is baie liefdevol en gemoedelik, maar skroom nie om naels te wys as sy bedreig word nie. Maryke het ’n groot hart en gee baie vir mense om, al weet sy nie noodwendig wat die beste manier is om dit uit te druk nie.




9. Sasha – vertolk deur Anlia van Rensburg


Sasha is Gerald se dogter en streef daarna om sy aandag waardig te wees – ’n onbereikbare doelwit. Sasha is sexy en gebruik haar voorkoms en houding om te kry wat sy wil hê. Sy sal altyd probeer om haar sin te kry – ook ten koste van ander se geluk. Sasha is agteraf en skroom nie om mense te gebruik vir haar eie doeleindes nie. Weens haar daddy issues soek sy eintlik net aanvaarding en liefde, maar, ongelukkig, op die verkeerde plekke. Laetitia word ’n mentor vir Sasha, en poog om alles wat nog goed is in haar, uit te dryf.



10. Gideon – vertolk deur David Vlok


Gideon het ’n baie sterk idee van hoe die lewe behoort te werk en regeer sy gesin daarvolgens. Hy is geweldig hardkoppig, maar nie totaal onoorreedbaar nie en laat soms toe dat Nina sy perspektief verander. Hy was self ’n rugbyspeler toe hy jonk was, maar het nooit groot sukses behaal nie. Hy leef dus nou sy eie drome deur Reitz uit. Hy plaas geweldige druk op Reitz om te presteer en verhinder só ’n gesonde pa-seun-verhouding. Sy verhouding met sy tweede seun, Tommie, is geweldig troebel, aangesien Tommie se lewensuitkyk lynreg teen Gideon se eie indruis.




11. Nina – vertolk deur Jocelyn Broderick


Nina is die verpersoonliking van ’n liefdevolle, ondersteunende moeder. Sy plaas telkens haar gesin se behoeftes voor haar eie en is haar kinders se sagte buffer teen hulle pa, wat soms ’n buffel kan wees. Sy het ’n sagte plekkie vir Tommie en bemoedig hom gereeld. Hoewel sy haar gesin geweldig liefhet, voel sy soms onvervuld omdat sy nie haar eie drome uitgeleef het nie. Nina raak telkens nog nostalgies oor haar universiteitsdae as eerste joolprinses en wonder steeds of dit dalk tot iets meer kon lei. Deesdae put Nina genot uit haar oefenklasse met Maryke en die ander rugbyvroue en, as die oudste van die groep, het sy hier ook ’n ma-rol ingeneem. Sy kom veral goed met Jade en Maryke oor die weg.



12. Reitz – vertolk deur Sean van Noordwyk


Reitz is die tipiese oudste kind, die goue seun van die gesin. Hy is geweldig talentvol, aantreklik, sjarmant en goed gemanierd en dus sy ouers se trots. Hy is ook as ’t ware sy pa se tweede kans op rugby-glorie. Sy pa se verwagtinge plaas geweldig baie druk op hom, wat hy gevolglik ook internaliseer. Sy grootste vrees is om sy pa teleur te stel. Reitz is baie doelgerig en gefokus, maar die doelwitte waarna hy streef, is nie uit homself gebore nie. Ten spyte van sy natuurlike aanvoeling vir rugby, sukkel Reitz om dit te geniet. Hy het nog nooit sy loopbaan bevraagteken nie, en dit aangeneem as ’n gegewe. Hoewel hy goed met almal oor die weg kom, is sy verhouding met die ander lede van sy gesin nie ’n groot prioriteit vir hom nie. Hy en Tommie stamp gereeld koppe oor hul uiteenlopende sieninge, maar heimlik is Reitz jaloers op Tommie se happy-go-lucky-houding en die vryheid wat daarmee gepaard gaan. Blitz is sy grootste kompetisie in die span en die doring in sy vlees.



13. Tommie – vertolk deur Arno Greeff


Tommie is ’n baie ontspanne ou wat nie die lewe te ernstig opneem nie. Hy het ge-coast deur skool – intelligent genoeg om deur te kom met die minimum inspanning. Hy is redelik rigtingloos en dobber deur die lewe. Hy het twee jaar op universiteit gemors en meen om te swot vir iets om op terug te val as jou drome nie uitwerk nie, is om te beplan om te misluk nog voor jy begin het. Tommie weet egter nog nie wat sy droom is nie. Hy is baie gemoedelik en sy emosionele intelligensie lei telkens daartoe dat hy die rol van weerligafleier in die gesin speel. Hy het ’n uitstekende sin vir humor wat ten toon gestel word in sy vlog, “Tommie 101”. Hy en Reitz stamp gereeld koppe as gevolg van hulle uiteenlopende persoonlikhede, maar heimlik kry Tommie vir Reitz jammer oor hy so geïnhibeerd is, alhoewel Tommie soms ook wens dat hy hul pa, Gideon, se goedkeuring kan verdien. Hy beskik egter oor geen van die karaktereienskappe wat Gideon as belangrik ag nie, en is dus ’n konstante teleurstelling vir sy pa.



14. Lorette – vertolk deur Ilse-Lee van Niekerk


Lorette is ’n eerstejaarstudent in B.A. Regte op Tuks. Sy was vir die eerste kwartaal in die koshuis, maar moet nou terugtrek huis toe omdat haar ouers verhuis het na Johannesburg. Lorette is nie gelukkig met die besluit nie, maar haar goeie oordeel laat haar besef dat om te rebelleer nie die antwoord is nie. Sy streef na onafhanklikheid, maar om klaar te swot en dan uit te trek is die beste opsie. Lorette is baie akademies en hou daarvan om te leer. Universiteit het vir haar ’n hele nuwe wêreld van kennis laat oopgaan, veral in terme van feminisme en sy probeer ander inlig en opvoed so ver sy gaan. Lorette het ’n goeie verhouding met al die lede van haar familie, maar sy het ’n baie sterk band met Tommie, aangesien sy die enigste een is wat sy ware potensiaal raaksien. Alhoewel sy ook baie goed met Reitz oor die weg kom, hou sy nie oor de algemeen van rugbyspelers nie en sal sy dit nooit oorweeg om met een uit te gaan nie. Lorette neem haarself en die lewe baie ernstig op en wil graag baie gesofistikeerd voorkom. Sy het egter ’n verstrooide, dromerige en romantiese kant wat sy graag eerder vir die wêreld wil wegsteek.



15. Chrissie – vertolk deur Melissa Willering


Chrissie is in Graad 10 en moet nou in die tweede kwartaal na ’n nuwe skool toe gaan. Aanvanklik is sy baie daarteen gekant, maar sy maak gou maats en kry sommer ook vinnig ’n kêrel. Chrissie is ’n regte klein wysneus, het geen tekort aan persoonlikheid nie en het ’n skerp, vinnige tong. Sy word gedryf deur haar emosies en tree gevolglik impulsief op. Chrissie se dade het telkens gevolge wat sy berou, maar dit keer haar nooit om haar hart te volg nie. Sy is slim, selfversekerd en wen gereeld argumente teen haar ouers. Sy weet ook presies hoe om elke lid van haar gesin te manipuleer om haar sin te kry. Chrissie is baie bewus van modes en trends, maar hou daarvan om haar eie stempel daarop af te druk. Sy het eintlik ’n baie sagte hartjie en kry maklik seer. Haar gesin is daarom baie sensitief teenoor haar en koester haar.


16. Blitz – vertolk deur Werner Coetzer


Blitz is die nuwe windgat-ster van die Stryders. Hy is aantreklik en net so vinnig met die meisies as wat hy op die veld is. Hy is nie van ’n welgestelde agtergrond nie, maar dit pla hom min. Sy twee gunsteling-besittings is sy motorfiets en sy leerbaadjie met ’n weerligstraal op die rug. Hy het goeie oordeel as dit by mense se karakter kom en is baie lojaal teenoor sy vriende. Blitz is die soort ou wat jy aan jou kant wil hê in ’n kroeggeveg. Hy is intelligent, maar nie boekslim nie. Hy het ’n goeie sin vir humor en hou daarvan om mense se siel uit te trek, veral Reitz s’n. Blitz kan gad nie Reitz se onderdanigheid aan sy pa verstaan nie.



17. Simon – vertolk deur David Louw


Simon is een van daardie ouens vir wie dinge altyd maklik kom in die lewe. Hy is aantreklik, sjarmant en het hope natuurlike talent. Gevolglik het hy nie die mate van persoonlikheid ontwikkel wat gepaard gaan met pyn, swaarkry en harde werk nie. Simon weet nie waaroor die lewe werkilk gaan nie en het ’n tipiese hoër-middelklas-uitkyk – gerief en welvaart is van die allergrootste belang. Hy is egter aangenaam en goedhartig en beskik oor al die nodige eienskappe om hom gewild te maak onder sy vriende, maar sy algemene kennis en ervaring strek nie veel verder as Pretoria se voorstede nie. Simon put geen genot uit sy huwelik en verhouding met Renate nie, maar beskou dit nie noodwendig as ’n slegte ding nie. In sy oë is dit maar hoe die lewe en ’n huwelik is. Hy het ’n pragtige vroutjie getrou van sy sosiale klas wat hom eerste in die lewe stel en sy 2,4 kinders gaan hê. Simon het nie ’n sterk sin van wie hy is nie en ook nie noodwendig ’n soeke daarna nie. Hy sal wel nog besef dat daar meer aan die lewe is en ook werlik uitvind wat in hom as man steek.



18. Renate – vertolk deur Christel van den Bergh


Renate is slinks. Sy is baie mooi en versorg haar voorkoms en liggaam goed. Sy is ook obsessief en dring daarop aan dat alles na haar wense verloop. Sy plaas baie druk op Simon oor sy loopbaan, want al haar eie doelwitte is daaraan gekoppel. Hoe meer hy uitblink, hoe meer val die kollig ook op haar. Sy hou baie van skinder en om haar te verlekker in ander se teëspoed. Sy is uiters lojaal teenoor Simon en haar beste vriendin, Sasha. Renate is opervlakkig, materialisties en manipulerend. Sy is selfsugtig, selfgesentreerd en selfbejammerend. Sy buit enige situasie uit om haar as die slagoffer te posisioneer. In haar oë is sy en Simon ’n power couple en haar strewe is om hulle op die voorblad van elke tydskrif te kry. Renate is angstig om met ’n gesin te begin, maar Simon voel sy loopbaan neem nog te veel van sy tyd in beslag vir hom om werklik ’n goeie pa te wees.



19. Denver – vertolk deur Vaughn Lucas


Denver is ’n stillerige, gemoedelike ou met ’n sterk teenwoordigheid. Hy deel sy mening slegs as die omstandighede dit vereis of as hy direk daarna gevra word. Hy skroom nie om op te staan vir dit waarin hy glo of iemand aan te vat oor iets wat nie reg is nie. Hy deel vrylik sy gevoelens met mense wie hy vertrou. Dan is hy bereid om al die kaarte op die tafel te lê. Sy liefde vir rugby is baie meer persoonlik as net die algemene aanbidding van die sport. In sy hart is hy eintlik ’n nerd. Denver is oopkop en respekteer sy vrou en haar loopbaan. Hy beskik oor die vermoë om twee kante van ’n saak in te sien. Hy is egter baie hardkoppig en hou daarvan om by ’n besluit te hou. Sy grootste prioriteit in die lewe is sy huwelik en hy glo dat sy verhouding met Jade belangriker is as enige iets anders. Denver kom baie goed en gemaklik met mense oor die weg. Hy het dus baie vriende en kennise, al is hy nie noodwendig die life of the party nie.



20. Jade – vertolk deur Jolene Martin


Jade is slim, ambisieus en suksesvol, maar bowenal dolverlief op Denver. Sy is ’n kreatiewe direkteur by ’n advertensie-agentskap en moes al ’n paar werksgeleenthede van die hand wys weens Denver se rugbydrome. Sy is prakties en reguit, maar hou daarvan om goed oor haar gevoelens te besin voor sy dit met iemand deel. Daarom heg sy sy baie waarde aan haar privaatheid en hou nie daarvan as ander mense hul neus in haar sake steek nie. Sy vra egter graag raad van mense soos Nina, wie sy vertrou en bewonder. Jade sien die groter prentjie raak en is gewillig om opofferings te maak ten bate daarvan. Sy is oplossingsgedrewe en skroom nie om iemand te konfronteer oor ’n onreg nie. Sy raak nooit persoonlik of kleinlik nie en hou altyd by die onderwerp waaroor ’n argument gaan. Sy is ’n sterk vrou en veg vir dit waarin sy glo en wat sy wil hê in die lewe.



21. Bibi – vertolk deur Stephanie Baartman


Bibi is die sprankelende, ruimhartige eienaar van Bibi’s – die salon/koffiewinkel waar al die Stryders se vroue uithang. Sy is ’n derdegenerasie-skoonheidsdeskundige van die Oos-Rand. Haar ma is ’n wit Afrikaanse vrou met baie blou oogskaduwee; haar pa ’n trotse Zoeloe. Bibi is ’n interessante mengsel van hierdie twee persoonlikhede. Sy is slim en hardwerkend. Die salon/koffiewinkel is die verwesenliking van haar grootste droom, haar trots en plesier. Almal is baie lief vir haar en deel graag en gemaklik hulle hartsgeheime met haar waarop sy dan gewoonlik een of ander wysheid deel. Sy bly altyd onpartydig in die Stryder-vroue se struwelinge.



23. Anja – vertolk deur Elsje Slabbert


Anja is ’n liefdevolle, warm mens met ’n hart van goud. Sy is baie lief vir kinders en geniet haar werk geweldig baie. Ná skool het Anja oorsee gaan au pair en toe daarvan ’n loopbaan gemaak. Sy kan mense en situasies baie goed lees en probeer altyd só optree dat haar teenwoordighed ’n aanwins vir die mense om haar is. Ten spyte van haar barmhartigheid en empatie, laat Anja niemand toe om op haar te trap nie. Sy weet hoe om haar man te staan en streng, dog diplomaties, haar besware te verwoord.


24. Bella (vertolk deur Ava Meyer)


Bella is Kiki se aanneemkind. Cornia (Kiki se suster, Festus en Koekie se dogter) en Botha Botha is Bella se biologiese ouers. Kiki het egter vir Bella wettig aangeneem toe haar biologiese ouers tronk toe is. In die laaste reeks kom Fafa en Kiki weer bymekaar. Fafa raak regtig lief vir Bella en behandel haar soos sy eie kind. Noudat Kiki oorlede is, neem Fafa heeltemal oor as ouer. Ouma en Oupa (Koekie en Festus) is ook nog betrokke in haar lewe.

Show's Stories