Nuwe talent: Georic Lomas se debuut enkelsnit

Nuwe talent: Georic Lomas se debuut enkelsnit

Jy mag hom dalk erken van die Afrikaanse musiek-fliek, As Jy Sing, maar aan die 19-jarige is daar geen keer nie en hy is vasbeslote om die musiekbedryf by die horings te pak. 

Georic Lomas
MornéJK

Georic Lomas het pas die musiekvideo vir sy nuwe Afrikaanse treffer, Bazaruto vrygestel en dit is propvol lekkerkry.


"My musiek is gemik op tieners maar dit beteken nie dat almal dit nie kan geniet nie," het Georic aan MornéJK vertel.


Die jong kunstenaar met sy stoute glimlag is optimisties oor die Afrikaanse musiekbedryf en meen hy sit nou al die ure in om eendag sy droom met Suid-Afrika te kan deel.


LEES OOK: Ruan Wessels: "Ek is geen hartebreker nie"

"Ek wil mense inspireer en laat goed voel deur my musiek en Bazaruto is beslis 'n goed-voel liefdesliedjie," sê hy.


Die liedjie is deur Johan Voster geskryf terwyl hy en sy vroulief met vakansie was in Bazaruto, Mosambiek.


"Ons het besluit om die musiekvideo ook daar te skiet en dit was 'n absolute belewenis," vertel Georic.


Die Centurion-boytjie is al van kleintyd af op die verhoog en met 'n mikrofoon in die hand het hy verskeie skoolproduksies gedoen voordat hy 'n rol in die musiek-fliek, As Jy Sing, saam met Leah van Niekerk en Bobby van Jaarsveld losgeslaan het.

"Vir eers is my akteursloopbaan  op ys, en ek fokus op my musiek. Maar wie weet, dalk sien julle my binnekort weer op die skerm," sê Geroic met 'n glimlag.


Hy is tans besig om 'n internskap by die media maatskappy Inhoud Huis te voltooi en sê hy leer alles, van kamerawerk, vervaardiging tot papierwerk.


"Ja, papierwerk is nou nie juis een van my gunsteling pligte nie, maar iemand moet dit doen," sê Georic.


Daar is beslis geen keer aan die jong sanger en akteur nie en hy meen hy reik na die sterre.

Show's Stories