'Real Housewives van die Wynlande': Vyf skokkende onthullings

'Real Housewives van die Wynlande': Vyf skokkende onthullings

In die laaste episode van 'Die Real Housewives van die Wynlande', was daar behoorlik drama. 

'Real Housewives van die Wynlande': Vyf skokkende onthullings
Verskaf/kykNET

Wouter Lombard is die spesiale gas

Die entrepreneur en vlogger Wouter Lombard van Wouter in die Wynlande het die vroue verras en kom gesels oor sy weeklikse recap-videos op sosiale media. Sy drie gunstelinggoed van die reeks was eerstens Amy Kleinhans-Curd wat altyd so lekker oor al die vroue se manewales gelag het. "Dis die waarheid," het Amy giggelend erken. 

Tweedens was dit Anita Lloyd se onverskrokke manier om dinge te verwoord wat volgens hom nou "deel van die volksmond" is.  

Wouter wou weet wie die "voice of reason" in die groep was. Anita het onmiddellik haar hand opgesteek, maar Candice en Mariska het glad nie saamgestem nie: "It's a hard no," het Candice gesê. Hulle dink Amy was eerder die vredemaker en bemiddelaar in die meeste situasies. Almal is dit egter eens dat Karen die een was wat nie altyd tot vrede en kalmte in die groep bygedra het nie.

Michelle, Mariska en Candice stamp koppe oor die podcast, boeke en soppy stories

Mariska verduidelik dat haar stelling "Bitch stole my look. Bitch stole my podcast", wat sy in Mauritius aan Michelle gerig het, glad nie "lelik" bedoel was nie. 

Die aanbieder, Armand Aucamp, wys egter daarop dat 'n mens Michelle nie kan blameer as sy dit só verstaan het nie. Michelle sê egter sy was meer ontsteld oor Candice se kommentaar dat sy nie haar boek sal lees nie nadat sy bekend gemaak het dat sy ook ’n boek gaan skryf. Nog iets wat haar omgekrap het, was dat Candice haar ore toegedruk het toe sy 'n intieme storie oor haar lewe vertel het. 

Volgens Candice was dit egter nie omdat sy nie van haar trauma wou hoor nie, maar omdat sy vermoed het Michelle nie regtig besig was om oop te maak nie: "Ek wens jy het sodat ons kon verstaan hoekom jy is wie jy is." Michelle dink nie dit sou ’n verskil gemaak het nie. Sy glo nie groter openlikheid sal enigsins Candice se opinie oor haar verander nie.

"Ek kon nie meer nie. Een oomblik is jy super happy; een oomblik is jy baie bed*nnerd en niemand weet hoekom nie," het Candice prontuit gesê. Michelle antwoord daarop dat sy nie kwaad vir Candice is nie, maar steeds voel dat dit "baie lelik" is wat sy gedoen het. Dat Candice haar 'n "rollercoaster" en "emosioneel onstabiel" genoem het, was vir haar onaanvaarbaar. Candice het geskok ontken dat sy dit vir haar gesê het. Mariska, Anita en Amy moes egter saamstem dat dit soms moeilik was om Michelle se buie te hanteer.

Daar was volgens Karen nie 'n verdeling in die groep nie

Nadat Michelle in Mauritius aan Karen gesê het sy voel daar is 'n skeiding in die groep met haarself, Anita en Karen aan die een kant as die "probleemkinders", en Amy, Mariska en Candice aan die ander kant as die "perfekte lieflinge", het dit onderlangse struwelinge veroorsaak. Candice voel glad nie daar was ’n skeiding in die groep nie, maar Anita stem saam met Michelle.

"Wat het jou so laat voel?" wou Candice weet. Anita sê sy vermoed Candice het die dag toe sy by haar gaan eet en vertel het hoe seer Amy se woorde haar gemaak het, vooraf "toestemming" by Amy gevra om saam met haar te eet, want Candice het genoem dat sy en Amy op die foon was voor sy opgedaag het. Sy dink ook Candice het haar darem net te vinnig probeer oorreed dat Amy nie "lelike intensies" met haar woorde gehad het nie. Candice ontken dat sy enigsins toestemming gevra het asook dat sy aan Amy haar lojaliteit moes "bewys", soos Anita in haar videodagboekkamera beweer het. "Ek het niks om aan niemand te bewys nie," het Candice gesê.

Karen erken op haar beurt dat sy baie "kwaad en vies" vir Michelle was oor haar stelling dat daar 'n skeiding in die groep is. "Jy skei jouself uit 'n groep uit. Betrek jouself," was Karen se reaksie op haar stelling. Karen het bygevoeg sy dink Anita en Michelle "werk mekaar goed op" en moet "sielkundiges vir mekaar speel". Karen voel ook Anita het haarself uiters "swak gedra" en dat sy vroue "boelie". Anita kon nie reageer op hierdie verwyte nie, want die filmspan het Karen eers ná die tyd vir die reünie gaan verfilm. 

Die kragmeting tussen Anita en Amy skud (steeds) die mure

In Mauritius het Amy vir Anita gevra: "Is jy net vol selfvertroue of stupid?" En later die dag tydens middagete het sy Anita as die "oorheersende" een in die groep bestempel. Toe Anita laat blyk hierdie woorde het haar gekwets, het Amy haarself probeer verdedig en gesê sy bedoel Anita "speaks up violence", maar dit het alles net vir Anita vererger. Al hierdie stellings het haar geweldig seergemaak soos sy by aandete erken het. Alhoewel Amy reeds ’n paar keer om verskoning gevra het, wou Anita steeds tydens die laaste reünie-episode helderheid en uitsluitsel daaroor kry. 

Amy verduidelik sy het eintlik net bedoel Anita is baie "streng". Sy het bygevoeg dat sommige Engelssprekende mense die frase "You can speak up a little bit of violence" gereeld gebruik sonder om dit as ’n groot belediging te bedoel.

Candice voeg by Anita moet onthou Amy sukkel om haarself in Afrikaans uit te druk omdat dit haar tweede taal is. Anita en Amy besluit toe om die strydbyl te begrawe omdat hulle eintlik lief vir mekaar is en hulle vriendskap vir albei baie beteken.

Waar staan al die vroue aan die einde van die reeks?

Michelle sê sy het geleer om dankbaar te wees oor wat sy het en vir wie sy is. "Mens groei. Mens groei en mens moet jouself toelaat om te groei," het sy afgesluit.

Candice is opgewonde oor die nuwe hoofstuk in haar lewe nadat sy haar loopbaan verlaat het om 'n restaurant te begin.

Amy is trots op haar Cap Classique, Amelia, wat sy tydens die verfilming van die reeks kon bekendstel, asook die nuwe vriendinne wat sy gemaak het.

Mariska sê sy het eers aan die einde besef hierdie reeks het haar meer oor haarself geleer en toegelaat om haarself te "herontdek" nadat sy ook haar loopbaan opsy geskuif het om 'n tuisteskepper en ma te word.

Anita is bly oor die nuwe vriendinne wat sy gemaak het en ook dat sy 'n "bietjie Anita" met Suid-Afrika kon deel. 

Karen is dankbaar oor die "voorreg" om aan die reeks te kon deelneem en sy het al die mooi daaruit "diep binne in haar hart" gesit.

Alle episodes van 'Die Real Housewives van die Wynlande' is nou op DStv Catch Up beskikbaar.

Meer Op Jacaranda FM


Show's Stories