KYK: 'Suidooster'-kykers neem afskeid van 'AB Samsodien' in hartroerende toneel

KYK: 'Suidooster'-kykers neem afskeid van 'AB Samsodien' in hartroerende toneel

In 'n hartroerende toneel moes 'Suidooster'-kykers Woensdagaand afskeid neem van 'AB Samsodien' (Cedwyn Joel), wat onverwags in die teenwoordigheid van sy vrou 'Mymoena' (Jill Levenberg) gesterf het, ná hy Maandag deur ’n sluipmoordenaar geskiet is.

KYK: 'Suidooster'-kykers neem afskeid van 'AB Samsodien' in hartroerende toneel
Verskaf/kykNET

Hoewel 'Suidooster' die afgelope weke daarop gesinspeel het dat stormsterk winde van verandering Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar dit afspeel, gaan tref, het dié kinkel kykNET-kykers heeltemal onkant betrap en stom gelaat. 

Die afgelope maande moes 'Suidooster' se aanhangers  toekyk hoe 'AB Samsodien' se stiefdogter, 'Bianca' (Simone Biscombe), weer met 'Dirk' (Evan Hengst) ’n verhouding aanknoop nadat hy haar verlede jaar in die sepie se spannende nier-sage-storielyn ontvoer het. Hul verhouding het vinnig ernstig geword en in Maandag se episode sou hulle in die huwelik bevestig word.

'AB' het op die nippertjie by die troue opgedaag nadat hy eers hul verhouding ten sterkste veroordeel het. 'n Skerpskutterkoeël wat vir Dirk bedoel was, het hom per ongeluk getref toe 'Rhafiek' (Irshaad Ally) en 'Nazeem' (Irvine Jacobs) die moordenaar op heterdaad betrap het.

'Suidooster' moes dit vir maande geheim hou dat Cedwyn die sepie groet en hy het reeds sy laaste toneel op 28 Februarie verfilm. Dit word Donderdag uitgesaai, waar daar tydens 'n tradisionele Moslem-begrafnis van Cedwyn se karakter afskeid geneem word. 

Toe die sepie in 2015 begin het, was Cedwyn in die oorspronklike rolverdeling. Sy karakter het in 2020 kykers se oë laat rek in die omstrede poligamie-storielyn, waar 'AB' volgens Moslem-tradisie vir 'Farah' (Lee-Ann van Rooi) as sy tweede vrou geneem het. 

Cedwyn, 70, het die moeilike besluit geneem om 'Suidooster' te groet sodat hy meer tyd kan hê om ander projekte aan te pak en saam met sy gesin deur te bring. 

"Oor ek 'n Moslemkarakter vertolk het, het 'Suidooster' het my 'n beter begrip van ander kulture gegee en om dit beter te verstaan," sê Cedwyn oor sy storielyne in 'Suidooster'.

"Nie het dit vir my 'n beter insig oor Molsemtradisies gegee en waardering daarvoor gegee nie, maar ook gehelp om kykers daaroor op te voed."

'Suidooster', wat in 2022 met ’n SAFTA-toekenning as beste sepie bekroon is, saai Maandae tot Vrydae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & kie uit.

Foto: Verskaf/kykNET

Show's Stories