Reandi Grey is 'kinderlik opgewonde' oor haar 'Boer Soek 'n Vrou'-reis
Updated | By Jacaranda FM
Die gewilde maatsoekreeks 'Boer Soek 'n Vrou' se 17de seisoen skop nie net af met 'n nuwe oes boere nie, maar ook met 'n splinternuwe aanbieder...
Marciel Hopkins was die afgelope vier jaar die Kupido wat derduisende kilometers gereis het om boere hul lewensmaats te help vind. Nou is dit die aktrise Reandi Grey se beurt om die boodskap van liefde en hoop op potensiële lewensmaats te help versprei.
kykNET het die nuus op Donderdag 17 Oktober, ná die finale episode van die afgelope seisoen van 'Boer Soek 'n Vrou, op die kanaal se joernaalprogram 'Bravo!' gebreek.
LEES: Peet Viljoen: 'Die koshuis en geboelie het my gemaak wie ek vandag is'
"Vir jare en jare – dit was soos my industry bucket list – was dit wat ek wou doen," het Reandi Grey in 'n onderhoud aan Marciel Hopkins verklap.
Marciel Hopkins, wat ook al 'n geruime tyd mede-aanbieder van 'Bravo!' is, sê sy het soveel vrede en rustigheid in haar hart met die wete dat Reandi Grey die leisels by haar oorneem.
Reandi Grey is nie 'n onbekende vir TV-kykers nie. Sy vertolk immers die rol van 'Anja' in 'Diepe Waters' sedert 2022, maar daar was ook verskynings in 'Legacy' en '7de Laan'. En deesdae maak sy ook naam met haar klerereeks, Sonder Reëls.
Ja, erken Reandi, sy wou in 'n stadium, toe sy jonger was, ingeskryf het vír 'n boer op 'Boer Soek 'n Vrou, want haar grootwordjare op haar oupa se plaas was haar alles.
LEES: 'Suidooster' se Marco Spaumer trou met bekende radio-omroeper
Soggens was dit sy en die windbuks wat koers gekies het om die vinke uit te dun wat haar oupa se bome uitgeroei het. En dan was daar eiers uithaal en varke kosgee, en toe sy ouer word, wou sy met alle geweld net pláás toe.
Maar haar eie liefdespad het 'n stokkie daarvoor gesteek, want haar man, Dewald, was toe nie 'n boer nie. Toe begin die droom van aanbieder vir 'Boer Soek 'n Vrou'.
Dit het nie in haar skoot geval nie, inteendeel. Dit het smeek en pleit en planne vyf-uur die middag in 'n parkie gekos om haar oudisievideo by die reeks se vervaardigers te kry. Toe sy twee weke later Kaap toe gevlieg word vir 'n opvolg-oudisie, het sy gedink sy was suksesvol. Tot sy besef daar's tientalle ander wat vir dieselfde pos oorweeg word.
Maar toe kom daardie oproep twee weke later met die beste nuus ooit. Die les wat sy hieruit geleer het, is om voluit te gaan vir dit wat jy wil hê.
LEES: Victor Matfield se oudste dogter skitter by matriekafskeid
Sy is die sewende aanbieder van hierdie gewilde reeks. Haar voorlopers is Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen, Leah van Niekerk en dan natuurlik Marciel Hopkins.
Reandi Grey is die ma van twee dogtertjies, en sy sê dit was een van die faktore wat haar aanvanklik benoud gemaak het, maar sy glo dat sy dit kan hanteer. En 'Diepe Waters'? Sy wil nie te veel verklap nie, maar sê dis nie die einde van die pad vir Anja nie.
Hoe voel Reandi oor die liefde?
"Jy moenie verwagtings hê nie, want daar was soveel verskillende mense, verskillende ouderdomme, seisoene in jou lewe. Dit gaan daaroor om jouself oop te maak, want dan kan jy verras word en kan wonderwerke gebeur."
LEES: Bobby van Jaarsveld deel vreemde bestanddeel vir potjiekos
Sy het aan Marciel Hopkins erken sy is ook nie 'n roetine-mens nie. Van die goed wat haar opgewonde maak oor haar Boer Soek 'n Vrou'-pad is die wete dat daar soveel goed gaan gebeur waarvoor sy glad nie beplan het nie.
"Kinderlik opgewonde," het sy alles in 'n neutedop opgesom.
En met 'n paar uitstekende mode- en reiswenke van die gesoute uittredende aanbieder, Marciel, is Reandi Grey nou meer as gereed om die 17de seisoen van 'Boer Soek 'n Vrou' met 'n vars briesie tot binne in jou voorkamer te bring.
Die toptienboere vir die 17de seisoen sal op Sondag 27 Oktober tydens 'n spesiale uitsending op kykNET (DStv-kanaal 144) aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
Skakel in vir 'The Drive with Rob & Roz', weeksdae van 16:00 - 19:00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.
Luister na Jacaranda FM:
- 94.2
- Jacaranda FM App
- http://jacarandafm.com
- DStv 858/ OpenView 602
Volg ons op sosiale media:
Meer Op Jacaranda FM
Show's Stories
-
Traveller gets petty revenge on fellow airplane passenger
Did this person take it one step too far?
The Drive with Rob & Roz an hour ago -
VIDEO: Son finds out about three-year prank by parents on birthday
These parents were playing the long game...
The Drive with Rob & Roz an hour ago