R100 000 huisverband betaal vir ‘Engelse sir’
Updated | By Bronwyn Hardick
Hy is ’n Engelse sir wat ’n fortuin werd is en word soos ’n koninklike behandel.
Die Engelse bulhond Iceglint I’m William Wallace het die naweek al die pad van Engeland in Bloemfontein aangekom.
Sy eienaars, Jacques Parsons en sy verloofde, Sumané Schoeman, van die Sumpar- Engelse bulhondstoet in Bloemfontein, het ’n ekstra verband op hul huis aangegaan en sowat R100 000 vir hom betaal.
Parsons sê hulle het intensiewe navorsing gedoen om van die beste bulhondtelers oor die wêreld heen op te spoor. “Die room van bulhonde is in Engeland.”
Die sukses van William Wallace se gene is al verskeie kere bewys.

Image Credit: Die Volksblad
Sy oupa was al die beste bulhond en sy pa die naasbeste senior reun op die wêreld se bekendste hondeskou, Crufts.
Parsons sê om die hondjie van tien weke hier te kry, was baie spanningsvol.

Image Credit: Die Volksblad
“Ek is nou tien jaar ouer.”
Ná ’n vlug van 12 uur het William Wallace Saterdag veilig geland. “Ons was in ekstase toe ons hom lewend in die krat sien,” sê Parsons.
Hulle wou hom toe so gou moontlik iewers verseker, maar in Suid-Afrika kon hulle geen versekeraars opspoor nie.
“Oorsee kan ’n mens die honde ook eers van ses maande af verseker.”
Vir Schoeman is die brakkie ’n nuwe kind in die huis. Die paartjie teel al drie jaar lank met bulhonde.

Image Credit: Die Volksblad
“Die honde is ongelooflik slim huishonde wat ’n wonderlike speelmaat vir kinders is en nie ’n groot ruimte nodig het nie,” sê Schoeman.
William Wallace gaan nou ’n streng dieet van vier etes per dag volg.
Parsons sê wanneer hy nege maande oud is, wil hulle van sy saad tap en ook saad van hom berg ingeval hy iets oorkom. Hulle wil dan ook baie selektief met hom teel.
Schoeman sê daar is reeds ’n waglys van mense wat kleintjies soek.
Hoekom kos die honde so baie geld? Parsons sê dit is omdat dit baie moeilik is om met hulle te teel.
“Kunsmatige inseminasie moet in baie gevalle gedoen word en in 90% van die gevalle word die hondjies met ’n keisersnee gebore.”
Weens hul groot kop en breë skouers kom hulle moeilik deur die ma se geboortekanaal.
Parsons het al geterg William Wallace se Afrikaanse naam is Willem Wals. Hiervan wil Schoeman egter niks weet nie. “Hy is ’n Engelse sir,” sê sy. (Article Via)

Image Credit: Die Volksblad

Image Credit: Die Volksblad
Show's Stories
-
WATCH: Award-winning singer surprises two of his biggest fans
Two boys had no idea that their dreams would come true and were overcome w…
The Drive with Rob & Roz 11 hours ago -
This is who will headline the 2026 FIFA World Cup closing ceremony
The closing ceremony will take place on Sunday, 19 July.
Breakfast with Martin Bester 23 hours ago