Na 'n jaar vind 'Boer Soek 'n Vrou' se Arno Visagie ware liefde by Alexander

Na 'n jaar vind 'Boer Soek 'n Vrou' se Arno Visagie ware liefde by Alexander

Arno Visagie se hart is dalk nie deur boer Damian van 'Boer Soek 'n Vrou' gewen nie, maar 'n kleiner mannetjie het nou sy hart teen volle gesteel. 

Arno Visagie
Verskaf/ Arno Visagie met Alexander

Die kykNET realiteitsprogram het in 2019 geskiedenis gemaak, nadat hul die eerste gay boer op die gewilde program, 'Boer Soek 'n Vrou' verwelkom het. 

Boer Damian (37) is ’n passievolle skaap-en-beesboer van Bapsfontein in Gauteng en was op soek na sy ideale man. 

LEES: "Ek soek net liefde - ek soek net 'n normale ou" - 'Boer Soek 'n Vrou' se boer Damian

Die Scenic Drive-span het met boer Damian gesels oor sy ervaring op die realiteitsprogram. "Ek het ingeskryf vir liefde. Enige ou soek liefde - en toe vat ek 'n kans met 'Boer Soek 'n Vrou.'"

Een van die briewe wat boer Damian ontvang het was van Arno Visagie. 

Arno Visagie is 'n 28-jarige kunsonderwyser van Lainsburg - en gee skool in Mafikeng. Visagie was een van die Top-3 wat dit gemaak het tot op die plaas. 

"Dit was 'n ongelooflike avontuur - en vir boer Damian wens ek net die beste toe."

LEES: "Ek het dit nie verwag nie" - Boer Damian ontvang meeste briewe op 'Boer Soek 'n Vrou'

Ongelukkig kon Arno verlede jaar nie liefde vind in die arms van boer Damian nie, maar nou het hy ware liefde gevind by 'n bondeltjie vreugde. 

Visagie is tans besig om 'n pleegouer te word van 'n baba-seuntjie wat hy Alexander noem. 

"Dit was altyd 'n droom van my om kinders te hê - ek het net altyd geweet dat ek kan liefde gee vir 'n kind. My ouers het ook nou 'n seuntjie en dogter in hul pleegsorg. Ek het grootgeword in 'n huis waar liefde altyd beskikbaar was vir die wat dit nodig gehad het."

Arno Visagie
Verskaf/ Arno Visagie met Alexander

Visagie het Alexander eendag bietjie vasgehou - en dadelik geweet daar is liefde tussen hulle twee. 

"Alexander het my gekies en dit was net met toeval. Ek het hom eendag ontmoet - bietjie vasgehou en dit was liefde op die eerste oogopslag."

Na 'n paar weke, was Alexander opsoek na 'n huis - en Visagie het dadelik ingestem om na hom te kyk terwyl hul besig is met die proses om hom die wettige pleegouer te maak. "Ek neem hom in my pleegsorg, want hy is in nood vir ware liefde en 'n familie. Dit is ook 'n groot droom om hom eendag aan te neem."

Visagie is gereeld met die seuntjie (wat nie geïdentifiseer mag word nie) se ma in kontak - en sy is baie tevrede dat hy in Visagie se sorg is. 

Arno Visagie
Verskaf/ Arno Visagie met Alexander

*Foto's verskaf deur Arno Visagie.

Show's Stories