'Die Ventertjies' laat die dansvoete jeuk met nuwe album en enkelsnit

'Die Ventertjies' laat die dansvoete jeuk met nuwe album en enkelsnit

As daar een groep is wat weet hoe om ’n partytjie aan die gang te kry, is dit beslis die bekroonde kitaar-duo, 'Die Ventertjies.' 

'Die Ventertjies' laat die dansvoete jeuk met nuwe album en enkelsnit

Oor die afgelope ses jaar is die opgewekte en ritmiese verwerkings van hulle eie oorspronklike snitte, asook reeds bestaande nommertjies, ’n treffer by elke langarm-opskop in die land.  

Die duo is ook in Oktober 2019 vereer met ’n Aitsa-musiektoekenning vir Beste Boeremusiek of Tradisionele Album en het onlangs ’n gesogte platekontrak losgeslaan met die musiekreus, Universal Musiek, wat dadelik hulle unieke potensiaal kon raaksien. 

Nóú is die meisies terug in die kollig, met ’n splinternuwe album en enkelsnit, wat beloof om die sukses van al hul voorgangers te oortref! Die 'JIVE BUNNY BOERE-KEURSPEL' is die eerste vrystelling vanaf hulle nuwe album, 'ROER JOU VOETE', wat binnekort gaan koning kraai op elke dansspeellys en waarop Fatman saam met hulle sing.

Dié snit verskil van die gewone Boeremusiek waarvoor hulle bekendheid verwerf het. “Hierdie liedjie is Rock ’n Roll met ’n boere-aanslag en bestaan uit ’n keurspel van almal se gunsteling-voetjeuktreffers uit die 1950’s,” verklap die twee oor hulle nuutste enkelsnit. “Dis vir ons lekker wanneer mense ons musiek geniet en die dansvloer vol is. Jy gaan beslis nie kan stilsit op hierdie liedjie nie, want dis aansteeklik en laat jou voet sommer vanself tik op die lekker ritme.” 

Verder is die sussies ook baie opgewonde om hulle nuwe album met almal te deel. Dit bestaan uit ’n heerlike kombinasie van meesleurende treffers wat jou onwillekeurig sal laat saamneurie en jou lyf sal uitnooi om ’n passie of twee uit te voer. 

'Nicola (20) en Lindie-Lee (17) Venter het in ’n musikale huis grootgeword en volg in die voetspore van hulle pa, Hennie, wat self ook al vir jare lank in orkeste speel. Alhoewel hulle nie formele musiekopleiding gehad het nie, kan Nicola (melodie-kitaarspeler) nege instrumente speel, waaronder die kitaar, baskitaar, dromme, klavier, klawerbord, banjo, Mandolien, mondfluitjie en trekklavier, en Lindie (baskitaarspeler) vier, naamlik die kitaar, baskitaar, klawerbord en banjo. Beide het eers in hulle pa se orkeste gespeel voordat hulle besluit het om ’n duo te vorm.

Hulle het in 2014, as skoliere, naam gemaak met hulle debuut-album, Vlinder Vingers, wat hulle gewildste enkelsnit, 'Lentevrolikheid', opgelewer het waarvan die video al deur meer as 220 000 mense op YouTube gesien is nie.

'Die Ventertjies' is te sien by die varsTRAP-konsert op 23 November 2019 by Carnival City en hier sal nog een van die meisies wense waar word, omdat hulle daar uiteindelik die geleentheid sal kry om saam met een van hulle grootste Boeremusiekhelde, Klipwerf, op te tree. 

Die duo beskryf hulleself as uniek en passievol en meen dat hulle baie inspirasie en genot put uit die werk van Ricardo Borman en Hansie Roodt en graag nog eendag saam met Klipwerf Orkes en Die Campbells sou wou werk. “Ons kan nie ’n spesifieke persoon uitsonder na wie ons opkyk nie, want elkeen het iets anders om te bied. Ons leer, waar ons kan, by elke kunstenaar,” sê hulle.

Oor die uitdaging daarvan om as susters saam te werk, verklap die dames: “Ons stamp soms koppe wanneer dit by musiekkeuses kom, omdat ons nie noodwendig altyd van dieselfde musiek hou nie, maar gelukkig het ons al geleer hoe om die uit te klaar. Die lekkerste deel daarvan om saam op te tree, is die feit dat ons gemaklik is met mekaar en altyd daar is vir mekaar en dit maak ons rustig.” 

'JIVE BUNNY BOERE-KEURSPEL' is beslis een van 'Die Ventertjies' se lekkerste dansnommertjies tot op datum en is die perfekte voorsmakie van wat aanhangers van die res van hulle album kan verwag. Maak sommer vandag nog 'ROER JOU VOETE' deel van jou versameling!

KYK DIE MUSIEKVIDEO HIER!

Show's Stories