EKSKLUSIEF: DRIE nuwe dramas vir kykNET in 2020!

EKSKLUSIEF: DRIE nuwe dramas vir kykNET in 2020!

Drie nuwe dramas in Januarie – kykNET se verjaarsdaggeskenk!

kykNET vier 20 jaar van vermaak op die Scenic Drive!
Jacaranda FM

Dit was ‘n besige jaar, met vele hoogtepunte vir die kykNET-kanale. Kykers is met top-gehalte dramas regdeur deur die jaar bederf – van Dwaalster en Spreeus in die eerste helfte van 2019 tot Alles Malan en Fynskrif wat kykers vanaf Julie tot aan die einde jaar vermaak aan kykers verskaf het. Kykers was Dinsdagaande vasgenael voor hul televisies en dit het gegons op sosiale media ná elke episode – van die geheime van klein dorpies en die bonatuurlike gebeurtenisse tot die familiedramas en regsake, kykers kon eenvoudig nie genoeg van die dramas kry nie.

kykNET het ook vanjaar ‘n groot mylpaal bereik met die kanaal se 20ste verjaarsdag wat gevier word. En, om dankie te sê aan al die lojale kykers, het die kanaal ‘n spesiale verjaarsdaggeskenk vir hulle: in Januarie 2020 sal daar twee nuwe dramas wees om ‘n nuwe dekade mee af te skop! Projek Dina saai Dinsdae 20:00 vanaf 14 Januarie uit, met die lang verwagte derde seisoen van Sara se Geheim wat Donderdag 16 Januarie 20:00 begin. Elkeen van die dramas is 13 episodes lank – dit beteken dubbel drama elke week tot vroeg in April 2020!

Vermiste persone-taakspan het Kaapstad op horings in Projek Dina

Elke vyf uur word ’n kind in Suid-Afrika as vermis aangemeld. Ongeveer 30% van vermiste kinders word nooit gevind nie, terwyl 50% van vermiste volwassenes nooit weer gesien word nie. – SAPS Missing Persons Bureau, 2013

Drie lede met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom vermiste sake in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaar val – dit en alles meer kan in kykNET se nuwe dramareeks, Projek Dina, gesien word.

Projek Dina speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende hoeveelheid gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huistoe te bring. 

Tydens hierdie pogings sien kykers hoe drie speurders, spesifiek uitgesoek deur Brigadier Patricia Dlomo, dae aaneen werk sonder om te slaap, hoe hulle regdeur die nag oproepe maak en ontvang, en hoe hulle die Kaap se gevaarlikste hoekies betree. 

Die leier van die span, kaptein Deon Visagie (Tim Theron), is van nature ’n strateeg en ’n ware speurhond. Hy raak obsessief oor die kleinste detail, maar sy vermoë om mense te lees skiet lelik tekort. Hy sukkel veral met sersant Lux Dladla (Chumani Pan) se benadering tot speurwerk, wat staatmaak op ‘n sterk intuïsie en die vermoë om ‘n groot netwerk van kontakte op te bou en te benut.

Die taakspan gebruik die hulp van ‘n nie-amptelike informant – die vernuftige kuberkraker Charlene “Charlie” Botha (Kay Smith). Selfs Charlie besef egter vinnig dat dié speurtogte haar in meer gevaar plaas as wat sy ooit kon verwag. En die inligting wat sy verskaf is nie altyd vertroubaar nie…

Adjudant-offisier Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager) is die persoon wat die span bymekaarhou. Sy is eerlik, hardwerkend, ’n familie-mens, maar ’n persoon wat jy nie mee sukkel nie. Sy hou nie van kleinighede nie en word gereeld in die middel geplaas wanneer Deon en Lux koppe stamp, maar sy weet presies hoe om hulle te hanteer. Sy is ook die een wat die taakspan “Projek Dina” doop.

Ander akteurs in die reeks is Lee-Ann van Rooi, Jana Kruger, Wilhelm van der Walt, Nadia Valvekens, Pierre van Pletzen, Jane de Wet, Zenobia Kloppers, Crystal Donna Roberts, Christia Visser, Mila Guy, Neels van Jaarsveld, Paul du Toit, Trix Vivier, Elsabe Daneel, Ilse Roos en André Roothman.

Voormalige Valke-ondersoeker Marcel van der Watt en Missing Children SA se Nicky Rheeder en Bianca van Aswegen het as konsultante opgetree vir die reeks. Projek Dina is geïnspireer deur ware verhale en is met Van der Watt, Rheeder en Van Aswegen se gesamentlike kennis ontwikkel en geskryf.

*Projek Dina saai vanaf Dinsdag 14 Januarie om 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 uit.

Nóg geheime word ontbloot in Sara se Geheim 3

Sara se Geheim is ’n dramareeks wat in en om Athlone en Durbanville afspeel. Sara Abrahams, wat swaar dra aan ’n geheim wat sy 35 jaar gelede moes vertel om haar oudste seun (Johan oftewel Johnny) se lewe te red, is die persoon wat die Cloetes, Kiewietse en die Vermeulens saambind. Sara bewaar nie net haar eie geheim nie, maar ook dié van haar kinders. 

Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Nou word nóg drama en geheime ontbloot in die derde seisoen van dié gewilde en boeiende dramareeks. Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê het ’n impak op Sara se hele familie.

Maggie se eks, Ricky (Brendon Daniels), het sy verskyning gemaak en vir haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), vertel dat hy sy regte pa is. 

In die nuwe seisoen karring Johnny heeltyd aan Sara om sy geboortesertifikaat te sien, maar Sara weet, dis juis daardie geboortesertifikaat wat nóg ’n groter geheim bewaar. 

Ebert (Andre Weideman) is in rou gedompel oor sy geliefde vrou se dood en voel skuldig dat hy haar gehelp het om selfmoord te pleeg. Soveel so dat hy sy kontak met die werklikheid verloor. Aiden en Inge (Lize-Marié Richardson) het steeds gevoelens vir mekaar, ten spyte van hul families se newe-gevoelens. Maar sal Aiden op ’n verhouding kan fokus as sy familie byna verwoes is?

Die hoofkarakters is steeds in die Kaapse buurte Athlone en Durbanville gesetel. En die reeks maak weer ’n draai op Tant Marie (Margot Luyt) se plaas in Stellenbosch asook in die Elgin-vallei vir pastoor Benjamin (Keeno-Lee Hector) en Lizzie se wittebrood.

Maar sal Lizzie haar wittebrood kan geniet as sy uitvind haar susterskind is geskiet? En sal Sara dit oorleef as sy uitvind haar dogter het haar kleinseun geskiet? Sy sit nou met ’n reuse-dilemma; moet sy haar kind beskerm en haar help om weg te kruip óf moet sy haar aan die polisie oorgee?

Ander bekende gesigte maak ook ’n draai in die derde seisoen. Onder hulle is Ivan Zimmerman, Roeline Daneel, Stian Bam en Monique Rockman. 

*Skakel in vir Sara se Geheim vanaf Donderdag 16 Januarie 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144. Diegene wat seisoen 2 gemis het, kan vanaf 15 Desember 20:00 op kykNET&kie DStv-kanaal 145 inskakel.

En, Die Byl maak weer 'n verskyning!

 

Show's Stories