EKSKLUSIEF: 'Villa Rosa'-ster Therese Bam terug in sepie na 6 jaar!

EKSKLUSIEF: 'Villa Rosa'-ster Therese Bam terug in sepie na 6 jaar!

'Song Vir Katryn', 'Villa Rosa' en 'Kwela'-veldaanbieder se Therese Bam is een van die dae te sien in die kykNET-sepie 'Suidooster.' Bam het met Dean Paulse gesels oor haar terugkeer na 'n sepie.

Therese Bam
Instagram/ Therese Bam Photo/ Willem Botha

Duisende Suid-Afrikaners onthou haar steeds as 'Katryn' in 'Song Vir Katryn' of die feeks 'Astrid' in 'Villa Rosa.' Ja, Therese Bam het werklik geen bekendstelling nodig nie. 

LEES OOK: Casper en kie is terug ná ‘n dekade op kykNET

Therese is wel nie vergete nie. Elke Sondagaand is sy te sien in 'Kwela' - as veldaanbieder waar sy die land plat reis om met Suid-Afrikaners te gesels oor hul lewens en vat hul so uniek maak. 

Therese is binnekort wéér te sien in 'n sepie, hierdie keer kykNET se 'Suidooster.' Na ses jaar keer sy terug om nog 'n karakter te vertolk. Maar wat maak die rol so spesiaal? Jacaranda FM se Dean Paulse het met haar gesels om meer uit te vind. 

Hoe voel dit om weer terug te wees in 'n sepie?

Dis vir my baie pret! Mens vergeet vinnig hoe tegnies die medium is, so dit neem 'n paar dae om jou voete op die vloer te vind met al die kameras en die pas van verfilming. Hulle het my mooi bygestaan!

Jy was vir jare in 'Song Vir Katryn' en 'Villa Rosa' - hoe pak jy weer ‘n rol aan in ‘n gewilde sepie?

Dis 'n heerlike uitdaging om na 'n nuwe karakter te wees. Elke karakter is anders, en bring iets anders in mens na vore. Dis iets wat ek gemis het om te doen! Dis soos om 'n nuwe persoon te ontmoet.

Watter rol vertolk jy in 'Suidooster'?

Ek speel die rol van Glenda Eloff. 'n Vrou van Muizenburg in die Kaap met haar eie kralewinkel.

Wat is haar doel in die sepie?

'Glenda' kom roer dinge effe deurmekaar, en laat 'n paar karakters hulle optrede bevraagteken...

Hoe verskil 'Glenda' van Therese?

'Glenda' het baie beter haarstyle as ek! Sy is sagter as Therese, en effe meer van 'n "din op haar voete" vrou as ek. Sy weet baie goed hoe om mense om haar pinkie te draai...

Wanneer is jy te sien en wat kan kykers verwag?

'Glenda' verskyn op 1 Mei op die kassie - sy is nie vir lank daar nie, net 13 episodes. So die kykers moet inskakel sodat hulle nie die opwinding mis nie! Sy gaan kykers beslis laat wonder oor 'n paar bestaande karakters.

Sal kykers jou nog op 'Kwela' sien?

Ja, beslis!

Wat lê nog voor vir Therese Bam?

Ek hoop dat hierdie my eerste rol van vele op plaaslike TV sal wees. Ek het dit regtig gemis om toneel te speel - daar is sulke lekker reekse tans te sien! Om nie eers te praat van al die flieks nie. Ek is 'n paar jaar ouer, meer ervare - so ek bring iets anders na die tafel as Therese van 'n paar jaar terug. Dis vir my opwindend en ek sien uit na lekker rolle waarin ek my tande kan slaan!

Therese Bam
Supplied: Therese Bam/ Suidooster

BLITSVRAE:

1. 'Katryn' of 'Astrid'?

Astrid, beslis!

2. Gunsteling-'Suidooster' karakter?

Ek is so mal oor Bennie!

3. Gunsteling-gereg?

Prawns of lekker kerrie.

4. Gunsteling-drankie?

Rooiwyn, beslis. 

5. Gunsteling-kleur?

Wynrooi.

6. Jou guilty pleasure?

Om by die huis te wees en die deur toe te maak (sonder grimering of fancy hare), lekker te lees of die kombuis in te vaar met 'n resep vir kos of gebak en 'n glas wyn. En natuurlik my honde om my voete! 

Show's Stories