KYK: Danny Smoke stel sy nuwe musiekvideo vry

KYK: Danny Smoke stel sy nuwe musiekvideo vry

Danny Smoke se eerste enkelsnit, 'Jou Lippe', was uit die staanspoor ’n gunsteling onder musiekliefhebbers en was die perfekte lusmaker vir sy debuutalbum,'Swaeltjies' wat nou op die rak is!

Danny Smoke
Verskaf

Die sanger, wat oorspronklik bekendheid verwerf het vir sy merkwaardige kitaarspel en  musiekvervaardigingsvaardighede, is baie opgewonde om sy eerste album met die land te deel en beskou dit as een van die hoogtepunte van sy loopbaan sover. Die album, wat geïnspireer is deur die skoner geslag, kan hoofsaaklik beskryf word as ’n mengsel betekenisvolle ballades en opgewekte kuiermusiek, wat gedryf word deur sterk melodieë en ’n ongelooflike energieke produksie. 

Sy debuut-vrystelling bestaan uit dertien snitte wat spesiaal verwerk is om sy stem en kitaarspel pragtig ten toon te stel. Hy verklap dat die liedjie wat hy vir sy dogtertjie geskryf het hom na aan die hart lê en dat daar verskeie ander snitte is wat die potensiaal het om groot treffers te wees. 

 Die musiekvideo van sy eerste enkelsnit, JOU LIPPE, is ook nóú op YouTube te sien en volgens dié begaafde musikant, is die hoofdoel daaragter om kykers te motiveer om nie die lewe te ernstig op te neem nie, om kanse te vat en soveel herinneringe te maak as wat hulle kan. 

 KYK DIE MUSIEKVIDEO HIER

Die liedjie, uit die pen van Danny, Johan Vorster en Christoph Kotzé, is ’n voetstamplekker popsnit wat jou uitnooi om saam te sing en dans. Volgens Danny is dit ’n gewaagde liedjie wat gaan oor ’n gevoel wat almal ervaar, maar nooit oor wil praat nie. “Dit gaan oor ’n ou wat dink hy het al alles gesien, geproe en beleef. Die vrou waaroor die liedjie gaan, het hom egter bo verwagting verras – spesifiek met haar lippe – en hy kan nie genoeg van haar kry nie,” vertel die sanger. Ek hou daarvan as mense ’n goeie tyd het en hierdie enkelsnit gaan gehore laat dans, saamsing, hulleself geniet en na iemand laat verlang wat hulle nog nie ken nie.”

Volgens Danny put hy die inspirasie vir sy musiek uit persoonlike ervarings en geniet hy elke oomblik wat hy op die verhoog kan wees. Omdat hy self musiek vervaardig, vind hy aanklank by die meeste genres en style. Hy het groot bewondering vir Ryan Tedder van One Republic omdat hy so veelsydig is en respekteer enigiemand wat dapper genoeg is om musiek as ’n loopbaan te kies. Verder probeer hy sover as moontlik uit musiekpolitiek uit bly en meen hy dat dit belangrik is om jou eie stem te vind en te fokus op wat jou uniek maak, omdat musiek nie ’n kompetisie is nie.


Show's Stories