KYK: kykNET se verjaarsdaggeskenk aan kykers

KYK: kykNET se verjaarsdaggeskenk aan kykers

Dis meer as drie jaar sedert kykNET-kykers die inwoners van Merweville met groot hartseer gegroet het, met die gedagte dat dit verewig sou wees. Maar, ter viering van kykNET se 21ste verjaarsdag, wag daar ‘n groot bederf op kykers in 2021 – Tom, Lillie, Anna, Sofia en die res is in Februarie 2021 terug vir die derde seisoen van 'Die Boekklub'.

Armand Aucamp
Verskaf/ kykNET

'Die Boekklub' se derde seisoen speel af in 2024. Na die afsterwe van ’n boekklub lid keer Tom (Armand Aucamp) terug na Merweville vir die begrafnis. Weens ’n sameloop van omstandighede besluit hy om ’n bietjie langer te vertoef in die dorp en herontdek hy nie net die boekklub, maar ook homself. 

Armand is opgewonde oor die terugkeer van 'Die Boekklub': “Om nog ‘n seisoen van 'Die Boekklub' te kan aanpak, is werklik om na my tweede familie te kan terugkeer; dit voel asof ek weer ‘tuis’ is. Om in Tom se skoene weer te kan staan, maak my inniglik gelukkig. Ek weet die kykers gaan dieselfde voel! Ek sien uit om almal weer in Merweville te verwelkom!"

Louis Pretorius en Albert Snyman, die vervaardigers van die reeks, sê: “Die derde deel van 'Die Boekklub' is ’n oomblik vasgevang in tyd. Die storie speel af oor drie maande op ’n tyd waar baie van die karakters voor ’n kruispad staan. Maar ten spyte van al die aanslae van die lewe ontdek en herontdek die karakters die mag van die liefde. Dit is ’n verhaal van hoop, waar die nag skynbaar op sy donkerste is, maar die son altyd deur die wolke breek en skyn oor Merweville en sy mense.” 

'Die Boekklub' word tans verfilm in Merweville, Stellenbosch, Strand en Somerset-Wes. Die regie word behartig deur Nina Swart en is geskryf deur Louis Pretorius en Albert Snyman.  

*'Die Boekklub' sal op kykNET (DStv-kanaal 144) in Februarie 2021 uitgesaai word.

 

Show's Stories