Marion Holm maak verskyning in gewilde sepie

Marion Holm maak verskyning in gewilde sepie

Dit is Marion Holm se eerste sepierol en volgens haar het sy dié ervaring baie geniet, maar dat dit wel uitdagings bied.

Marion Holm
Verskaf/ kykNET

’n Spanningsvolle paar weke wag op kykers van die gewilde kykNET-sepie, 'Suidooster', terwyl Marion Holm binnekort haar verskyning maak.

Die noodlot klop weer aan die deur van die 'Samsodien'-gesin, wat verlede jaar ook amper uitmekaar geskeur is toe 'AB Samsodien' (Cedwyn Joel) ’n tweede vrou, 'Farah' (Lee-Ann van Rooi) getrou het. Volgens 'Suidooster' se publisteitsbestuurder, Wilmer Müller, is 'AB' nou weer reg in die midde van al die komende drama.

“Kykers kan maar die sneesdoekies gereed kry, want die 'Samsodiens' kom voor hul grootste toets nóg te staan,” sê Wilmer Müller.

“'AB' se gesondheid kry ’n lelike knou en die vraag op almal se lippe gaan wees of Ruiterbosch (die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar 'Suidooster' afspeel), se geliefde apteker die wa deur die drif gaan trek of nie...”

“Sy naastes gaan ook nie net staan en toekyk nie, en sy halfbroer 'Nazeem' (Irvine van der Merwe) gaan bereid wees om enige iets te doen om 'AB' se lewe te red - maak nie saak ten koste van wie of wat nie.”

Een van die nuwe karakters wat ’n sentrale rol in dié storielyn gaan speel, is ’n verpleegster wat deur die bekende akteur, Marion Holm, vertolk word.

“'Suster Graaff' is nie noodwendig so gaaf as wat sy lyk nie, want sy is eintlik genadeloos en vreesloos,” sê Marion oor haar karakter.

Dit is Marion se eerste sepierol en volgens haar het sy dié ervaring baie geniet, maar dat dit wel uitdagings bied.

“Om in ’n sepie te speel moet jy hare op jou tande hê en dit gebeur teen ’n ongelooflike vinnige pas, wat nogal senutergend kan wees.”

Marion Holm
Verskaf/ kykNET

'Suidooster', wat in November sy sesde verjaarsdag op lug vier, is ook pas by die afgelope Royalty Soapie-toekennings vereer as die sepie wat die beste maatskaplike kohesie uitbeeld.

'Suidooster' is Maandae tot Vrydae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & kie (DStv-kanaal 145). Dit is ook op DStv Now se Catch Up- en stromingsdienste beskikbaar. 

Skakel in op die 'Scenic Drive with Rian', weeksdae van 16: 00-19: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

Foto: Verskaf/ kykNET

Show's Stories