Nataniël kry 'Toegang' tot nuwe reeks

Nataniël kry 'Toegang' tot nuwe reeks

Geregte en gehalte, geboue en geskiedenis, geesdrif en gedagtes. Dit is alles op die spyskaart in 'Toegang', ‘n splinternuwe leefstylprogram met Nataniël as gasheer en kok op kykNET.

Nataniël
Verskaf/ Nataniël

So stylvol soos altyd en geklee in sy kenmerkende ontwerpersuitrustings, gaan Nataniël met net ‘n opslaankombuis tot sy beskikking kook in plekke waartoe die publiek vir maand geen toegang gehad het nie. En die opslaankombuis? Net ‘n elektriese stoofplaat, twee panne, een pot en ‘n tassie met net die nodigste gereedskap vir nog ‘n smul-maal.

LEES: Die Scenic Drive vier 15 jaar van 'Binnelanders' met Hans Strydom en Melinda Brink

“Dit was wonderlik om toegang te kry tot plekke waar min mense toegelaat word,” sê Nataniël. “Selfs onder normale omstandighede sal geen mens die kans kry om alleen te dwaal waar ons orals was nie. Die plekke self sal verrassings wees omdat ons nooit vooraf bekend maak waar ek gaan wees nie. Dit sal ook vir mense ’n aangename openbaring wees om te sien hoe jy met een plaat en geen kombuisgeriewe ’n heerlike maal kan voorberei. Die styl van die program is ook nuut, al die musiek is oorspronklike komposisies en hopelik sal dié wat fyn kyk die ekstra detail raaksien, asook die hoeveelheid inligting in elke episode waardeer. Die hele span het hulself gedáán gewerk.”

In die reeks gaan Nataniël stoksielalleen die werkinge, kunsversamelings en verrassings van ikoniese geboue ontdek en met alledaagse bestanddele, eenvoudig metodes en slim planne wys wat gedoen kan word. Nataniël stel ook die kunstenaars bekend wat bygedra het tot sy eetgerei-reeks, tafellappe, juwele en omgewing. Die reeks is tydens vlak 3 van inperking verfilm wat natuurlik ‘n uitdaging was. 

“Om onder die protokol te werk en om die produksiespan te beskerm het baie geverg,” sê Nataniël. “Dit was maar vreemd."

'Toegang' is ‘n reeks van hoop, tydlose ontwerp, nuwe realiteite, onthullings en die onblusbare gees van Nataniël. Met episode-titels soos “Paleis”, “Beeldskoon”, “Biblioteek” en “Klawers” kan kykers hulle regmaak vir nog ‘n reeks wat weer eens Nataniël se ikoniese status gaan bevestig. 

'Toegang', elke Maandag, om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Show's Stories