Nóg geheime word ontbloot in 'Sara se Geheim 3'

Nóg geheime word ontbloot in 'Sara se Geheim 3'

’n Splinternuwe seisoen van 'Sara se Geheim' - en jy wil dit nie misloop nie!

Sara se Geheim 3
Supplied

Sara se Geheim is ’n dramareeks wat in en om Athlone en Durbanville afspeel. Sara Abrahams, wat swaar dra aan ’n geheim wat sy 35 jaar gelede moes vertel om haar oudste seun (Johan oftewel Johnny) se lewe te red, is die persoon wat die Cloetes, Kiewietse en die Vermeulens saambind. Sara bewaar nie net haar eie geheim nie, maar ook dié van haar kinders. 

Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.

Nou word nóg drama en geheime ontbloot in die derde seisoen van dié gewilde en boeiende dramareeks. Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê het ’n impak op Sara se hele familie.

Maggie se eks, Ricky (Brendon Daniels), het sy verskyning gemaak en vir haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), vertel dat hy sy regte pa is. 

In die nuwe seisoen karring Johnny heeltyd aan Sara om sy geboortesertifikaat te sien, maar Sara weet, dis juis daardie geboortesertifikaat wat nóg ’n groter geheim bewaar. 

Ebert (Andre Weideman) is in rou gedompel oor sy geliefde vrou se dood en voel skuldig dat hy haar gehelp het om selfmoord te pleeg. Soveel so dat hy sy kontak met die werklikheid verloor. Aiden en Inge (Lize-Marié Richardson) het steeds gevoelens vir mekaar, ten spyte van hul families se newe-gevoelens. Maar sal Aiden op ’n verhouding kan fokus as sy familie byna verwoes is?

Die hoofkarakters is steeds in die Kaapse buurte Athlone en Durbanville gesetel. En die reeks maak weer ’n draai op Tant Marie (Margot Luyt) se plaas in Stellenbosch asook in die Elgin-vallei vir pastoor Benjamin (Keeno-Lee Hector) en Lizzie se wittebrood.

Maar sal Lizzie haar wittebrood kan geniet as sy uitvind haar susterskind is geskiet? En sal Sara dit oorleef as sy uitvind haar dogter het haar kleinseun geskiet? Sy sit nou met ’n reuse-dilemma; moet sy haar kind beskerm en haar help om weg te kruip óf moet sy haar aan die polisie oorgee?

Ander bekende gesigte maak ook ’n draai in die derde seisoen. Onder hulle is Ivan Zimmerman, Roeline Daneel, Stian Bam en Monique Rockman. 

*Skakel in vir Sara se Geheim vanaf Donderdag 16 Januarie 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144. Diegene wat seisoen 2 gemis het, kan vanaf 15 Desember 20:00 op kykNET&kie DStv-kanaal 145 inskakel.

Show's Stories