VIDEO: Hartroerende liefdesduet vir Willem en Tarryn

VIDEO: Hartroerende liefdesduet vir Willem en Tarryn

'’n Liefde Soos Die' is die splinternuwe treffersnit deur twee van ons land se mees geliefde stemme – Willem Botha en Tarryn Lamb. Hierdie dinamiese duo is nie net goeie vriende nie, maar het besluit om kragte saam te snoer vir hierdie hartroerende liefdeslied.

Willem Botha en Tarryn Lamb
Instagram / Tarryn Lamb

Dis beslis ‘n snit wat aan die hartsnare roer en almal wat verlief is of was sal daarby aanklank vind. Liefde is ‘n universele tema wat almal ‘n bietjie blind maak, maar liefde is iets besonders en as jy die spesiale een ontmoet is dit sprokiesmooi.

Die enkelsnit vorm deel van Willem Botha se nuutste album, '’n Liefde Soos Die', wat op 14 Februarie landswyd asook digitaal beskikbaar sal wees. Vir nou kan aanhangers reeds die enkelsnit op alle digitale platforms luister en die musiekvideo is ook op YouTube te sien.

“Ek dink die liedjie gaan baie gewild by veral troues wees,” vertel Tarryn. 

“Liefde is die klein dingetjies vir my en die lirieke praat met my hart. Ek hoop mense gaan net so mal wees oor die liedjie soos ek,” voeg sy by.

Oor hoekom hy Tarryn gekies het vir die duet sê Willem “Ek is ‘n groot aanhanger van haar en ons het al ‘n hele paar keer saamgewerk, maar nie met ons eie oorspronklike liedjie nie. Ek dink sy het een van die beste stemme in die land en dis ‘n voorreg dat sy net so passievol oor die liedjie is as ek self.” 

Willem Botha het die enkelsnit gekonsepsualiseer en neergepen saam met Hugo Ludik en Vaughan Gardiner. “Ek het baie jare gesoek en probeer om ‘n liedjie soos hierdie te skryf. Ek glo en hoop dat dit vir ander net so baie gaan beteken soos vir my persoonlik,” sê Willem.

Show's Stories