EKSKLUSIEF: 'Die Real Housewives van Pretoria' verklap al reeds geheime

EKSKLUSIEF: 'Die Real Housewives van Pretoria' verklap al reeds geheime

Breakfast with Martin Bester praat met Marié Bosman en Rhona Erasmus van die 'Real Housewives van Pretoria' wat meer deel oor die drama, glans en unieke persoonlikhede wat die realiteitsreeks vir kykers inhou. 

RHOP Marie and Rhona
Supplied

Vanaf 13 Oktober wys Renske Lammerding, Marié Bosman, Talana Kuhn, Kiki La Coco, Mel Viljoen en Rhona Erasmus presies vir jou wat dit vat om in hulle hoëhakskoene te loop.

Dis ’n eerste vir kykNET én ’n eerste vir die wêreld! Aanhangers van die 'Real Housewives'-formaat kan nou uiteindelik uitsien na die eerste Afrikaanse weergawe van die realiteitsreeks wanneer kykNET 'Die Real Housewives van Pretoria' (#RHOPTA) in Oktober bekendstel.

LEES: Bekende musikant gediagnoseer met breinkanker

Maandag 3 Oktober het Martin Bester met twee van die formidabele vroue van 'Die Real Housewives van Pretoria', Marié Bosman en Rhona Erasmus, gepraat om meer uit te vind van die realiteitsprogram. 

Hier is die ses formidabele vroue van Die Real Housewives van Pretoria:

Marié Bosman

Marié is ’n onkonvensionele pastoor wat baie uitgesproke is. Sy het ook ’n vlieglisensie en twee doktorsgrade. Ná haar twee egskeidings het Marié besluit dat sy nooit weer haarself vir enigiemand sal probeer verander nie en is daarom nie een wat haar aan onbenullighede steur nie – dit verveel haar net.

Rhona Erasmus

Rhona het op tienjarige ouderdom saam met haar gesin vanaf Meyerton na Pretoria verhuis. Sy is deesdae die eienaar van twee ondernemings, Trouvaille Boutique Day Spa en Midstream College Baby House in Midstream Estate, waar sy en haar gesin ook woonagtig is. Rhona was destyds Heinrich en Renske se au pair en het met hulle hulp haar eerste besigheid (Midstream College Baby House) begin. Rhona glo vas dat jy nie dinge agter iemand se rug moet sê nie. Daarom vertel sy jou graag in jou gesig wat sy van jou dink.

Renske Lammerding

Renske is welbekend in Silver Lakes vir haar boetiek in die estate en natuurlik haar man, Heinrich, se welvaart. Dit beteken egter ook dat daar heelwat oor Renske-hulle geskinder word. Maar is daar enige waarheid daarin en skinder sy self? Beslis nie, as jy Renske vra. Renske is die eienaar van die Mrs Globe-skoonheidskompetisie en wil graag daarmee ander vroue help om hulself te bemagtig.

Talana Kuhn

Talana is ’n 27-jarige sakevrou wat die eienaar is van Earth DK en Millennial Marketing. Sy is ook die mamma van ’n driejarige en is tans swanger met haar en haar ouditeurman, Walter, se tweede kind. Talana het tussendeur sommer ook ’n selfhelpjoernaal geskryf wat binnekort gepubliseer word. Sy kan nie mense hanteer wat dink hulle is beter as sy nie – sy het deur die vuur geloop om te kom waar sy vandag is.

Kiki La Coco

Kiki is ’n inhoudskepper op TikTok waarvoor sy allerhande dans- en “lip-sync”-video’s maak. Sy het tans ongeveer 390 000 volgelinge op haar bladsy. Haar man, die multimiljoenêr Malcolm Wentzel, en hule huishulp, Thembi Ubisi, het byna 860 000 volgelinge wat hulle manewales dophou. Kiki-hulle woon in Mpumalanga en met hulle kinders wat op skool is in Pretoria, wil hulle nou na die hoofstad verhuis.

Mel Viljoen

Mel het haar pad opgewerk vanaf haar dae as plaaskind tot die president van Tammy Taylor Nails Suid-Afrika, een van die mees suksesvolle konsessies in die Suid-Afrikaanse skoonheidsbedryf. Mel is getroud met die bekende en berugte prokureur Peet Viljoen wat deesdae die hoof- uitvoerende beampte van Tammy Taylor Nails is. Hulle het heelwat bekende kliënte insluitend Somizi, Pearl Thusi, DJ Zinhle en Lerato Kganyago.

Skakel in op 'Breakfast with Martin Bester', weeksdae van 06:00-09: 00. Stroom die program regstreeks hier of laai ons mobiele app hier af.

MEER OP JACARANDA FM


Show's Stories