EKSKLUSIEF: Elvis Blue en Theuns Jordaan stel duet, 'Jou Huis' bekend

EKSKLUSIEF: Elvis Blue en Theuns Jordaan stel duet, 'Jou Huis' bekend

Elvis Blue en Theuns Jordaan stel duet, 'Jou Huis', bekend wat sonder twyfel die hartsnare met nostalgie gaan tokkel. 

Elvis Blue en Theuns Jordaan stel duet, 'Jou Huis' bekend
Instagram / Elvis Blue

Dit is welbekend dat Theuns Jordaan nie duette doen nie, maar nadat hy sy vriend, Elvis Blue, se liedjie, 'Jou Huis', gehoor het, het die ikoniese sanger dadelik ingestem om dit as ’n duet saam met die bekroonde liedjieskrywer op te neem.

 'Jou Huis', die titelsnit van Elvis se nuwe album wat vanaf einde Mei beskikbaar sal wees, is so pas uitgereik en verken ’n tema wat beide sangers na aan die hart lê.

 Elvis vertel: “Toe ek die lied geskryf het, het ek gedink aan my grootword-jare. Daardie wonderlike onskuld van fietsry onder straatligte, kaalvoet-rugby op groen gras, braaivure met familie en vriende, somermiddae se swem, en soveel meer egte Suid-Afrikaanse dinge. Huisdinge. My hoop is dat mense daaraan herinner word wanneer hulle die musiek hoor.

 “Om dit saam met iemand soos Theuns Jordaan te doen is ’n ongelooflike groot voorreg vir my; hy is ’n absolute legende. Ek was nog altyd gek oor sy musiek, selfs toe ek nog ’n straatmusikant was, en voel bitter gelukkig met beide die eindresultaat asook dat Theuns die een is met wie ek dit kon opneem, juis omdat hy van die begin af die een was saam met wie ek dit wou doen.”

 Vir diegene wat nie bewus is daarvan nie, het hierdie grootword-jare van Elvis in Linden, Johannesburg plaasgevind.

 Elvis voeg by dat daar min liedjies is wat geskik is vir twee manlike kunstenaars om saam op te neem, maar dat 'Jou Huis 'ook besonders was in hierdie opsig omdat die lied hom heeltemal daartoe verleen het. En ook dat hy juis graag met sy nuwe album ’n duet met ’n ander sanger wou doen in plaas van ’n liefdes-liedjie met ’n sangeres.

Volgens Theuns was dit beide die lied én die kunstenaar wat die besluit vir hom maklik gemaak het. Hy vertel: “Toe Elvis die eerste keer 'Jou Huis' vir my gespeel het, was ek mal daaroor en het dadelik die potensiaal daarvan besef. Hy is boonop ook iemand met wie ek graag myself assosieer. Elvis is regtig ’n besonderse begaafde skrywer!”

Volgens Theuns is dit die positiewe boodskap en gevoel van die lied, asook die wyse waarop so ’n aktuele en relevante onderwerp vertolk word, juis wat hom so opgewonde oor die vrystelling maak.

LEES OOK: Tarryn Lamb performs the classic 'Op Blouberg se Strand' on Friday Live

 Die album, Jou Huis

 Elvis vertel dat 'Jou Huis 'sy mees persoonlike album nog is; dit is nie net sy gedagtes oor universele temas nie, maar liedere oor die Suid-Afrika waarin hy groot geword het en waarin hy homself nogsteeds bevind.

Hy voeg verder by: “Ek dink dit is te verwagte dat in die begin van elke sanger se loopbaan is hy of sy strewe na roem en rykdom. Ek het ’n ontsettende goeie loopbaan tot nou geniet, waarvoor ek ontsaglik dankbaar is, en my motief is nou meer om iets met betekenis te skep - iets wat ’n verskil in mense se lewens kan maak, hul regtig aanraak en waarop ek kan trots voel die dag wanneer my loopbaan verby is.”

 Elvis verwys na nog ’n samewerking op die album (wat volledig Afrikaans is), maar laat nog nie die kat uit die mou nie. “Daar gaan net soos die duet met Theuns nog ’n groot verrassing op almal wag - ’n lied wat ek laat opneem het met nog ’n sanger wat mense verbaas gaan laat oor die feit dat ons saam gewerk het. Maar weereens, die eindresultaat gaan vir homself praat.”

 Met treffer na treffer wat Elvis een na die ander vrystel, kan mens nie help om te wonder waar hy sy inspirasie aanhoudend kry nie. En op ’n egte Elvis manier verduidelik hy dit so: “Dit is soos om in ’n baie donker kamer te gaan op soek na skoene wat iemand daar gelaat het. Soms soek jy van hoek tot kant en worstel, maar kan net nie op dit afkom nie. Ander kere strompel jy oor dit - en stap jy uit die donker kamer met iets baie spesiaals.”

LEES OOK: DOWNLOAD: Jo Black records a 'wake up' alarm on Breakfast with Martin Bester

 Elvis en Theuns se vriendskap

 Elvis vertel dat hy en Theuns vriende geword het net nadat hy Idols amper ’n dekade terug gewen het. “Ek het iemand oorreed om Theuns se nommer vir my te gee en ek het hom ’n WhatsApp gestuur waarin ek hom baie mooi gevra het of ek hom asseblief kan kom sien oor raad vir my loopbaan.

 “Tipies Theuns, het hy ingestem en toe ons eers bymekaar was het ons net dadelik aanklank by mekaar gevind en ek is daar weg met die wete dat ek ’n lewenslange vriend gemaak het. Ek het hom al tonne kere oor die jare gebel om raad te vra. Ons paaie kruis nog gereeld - of dit nou by optredes is of kuiers wat ons self reël - hy is net iemand wat in my lewe gebly het met ’n doel. So ek voel sommer dat 'Jou Huis' ook ’n viering van hierdie spesiale vriendskap is.”

’n Spesiale musiekvideo van Jou Huis is ook nou beskikbaar - propvol foto’s van beide Elvis en Theuns se grootword-jare. 

 'Jou Huis 'deur Elvis Blue en Theuns Jordaan is nou ook digitaal beskikbaar. 'Jou Huis', die album, is vanaf einde Mei beskikbaar.

KYK DIE SPLINTERNUWE MUSIEK VIDEO HIER: 

Show's Stories